
Alhoewel reën as natuurverskynsel in poësie verskillende gedaantes kan aanneem, vind dit uiteindelik neerslag in die vorm van ’n psigodrama met 7 simboliese betekenisse. Reën is iets wat in verlede gebeur, skryf Jorge Luis Borges in ’n reëngedig. Reën roep ’n bepaalde nostalgie of mymering voor die oog. Die toonaard – of stemvurk – van reëngedigte is verskillend gestem, maar die voorkoms van reën gee onmiskenbaar ’n atmosferiese kwaliteit aan poësie.
Die gebruik van reën as simbool in films, romans en poësie verskil nie veel van mekaar nie. Reën simboliseer melankolie (of die intensivering van emosie, soos vreugde: singin’ in the rain); nuwe lewe; reiniging; vasberadenheid of beproewing; liefde en romantiese naunses; reën tree op as voorbode (waarskynlik ’n onheilspellende een), en reën vra vir introspeksie. ’n Mens sien byvoorbeeld in films hoe ’n bokser of sportman in die reën draf (vasberadenheid en beproewing); of hoe donkerwordende wolke aan die einde van ’n film saampak om naderende onheil of melankolie te suggereer. Hierbenewens word reën geassosieer met gevestigde mitologiese of religieuse simboliek, byvoorbeeld in die verhaal van Noag se ark dui die reënvloed op die reiniging van die mensdom se sondes.
Liefde en romantiek. Kykers is bekend met liefdestonele waar minnaars mekaar omhels in die reën – maar ook in poësie herhaal reën as leitmotief, of liewer, geleier van die liefde. In die onderstaande gedig van Breytenbach word die Middeleeuse liefdeslegendes van Heloïse en Abelard, sowel as Tristan en Isolde, geïmpliseer. Die spreker se liefdeserotiek word ’n Ars poëtikale versugting wat uitloop op die vrou/Yolande se vrug(-baarheid).
IN JULLE HOEDE
Die heelnag lank getrippel van druppels
somber reën teen die rooi pandak –
die duiwe se geeste rus nie;
’n wind vol gate waai ver uit die ooste,
in die mielielande staan kluisenaars enkeldiep
in die modder,
probeer vergeefs die vrugte bewaar
Maar jy, bibberende klein Heloïse,
my sluimerende Isolde – jy’s veilig
hier onder die trippelende pandak
ver van die reën se rillende pyn
die verknorsing van wolk en koue
Jy is my taal, die saad
van my bevrugting, jy is die woord
waarin ek drome kan stort,
die gedig tussen lakens met die soet asem
van rus by die klewerige mond
en dáárom was die reën die rillende rooidak
Kom al julle Gode, kom uit die mielielande
sodat ek julle soos harige komberse
kan trek oor my vrou –
om my vrug te beskerm
’n ogie oor Yolande te hou
(Breyten Breytenbach. Die huis van die dowe, 1967)
Onheil en voorbode. In “i sagte reën het agtermiddag” word reën geassosieer met ’n voorbode vol onheil. Vlok se unieke idiolek, byvoorbeeld die gebruik van gebroke sintaksis, die doelbewuste distorsie van taal en staccato-agtige styl verhoog die spanning en laat die leser met ’n gevoel van Angst. Terugskouend word die reën in die agtermiddag ’n herinnering waarin daar iets katastrofies gebeur het – ’n motorbotsing word in die tweede laaste reël genoem. Vlokkie die vertraagde en die spelende kinders se onskuld word fel gejukstaponeer met ’n rampspoedige uiteinde waarin reën as ’n soort onheilsboodskapper figureer.
i sagte reën het agtermiddag
i sagte reën het die agtermiddag.
ja ons almal het uitgehol, rondgedans in die.
tot Ma natuurlik gesê het kom in julle reën.
julle sal koue.
ekenAttieenPollie en Vlokkie my vertraagde.
het nie geluister vir Ma nie, ons het.
ons het bootjies gery in die sloot langs.
Vlokkie die simpel lag i i i iieeggghh die simpel ding.
in die yard kom Ma uit met die belt kamma.
ons hol in bang kamma. skielik is daar i helse.
in die straat is daar i botsing, i bakkie en i.
i sagte reën het agtermiddag.
(Gert Vlok Nel. Supertaal)

In die volgende onderstaande vers (in drie dele) van Müller word die suggestie van ’n mitiese reënmaker, of selfs religieuse simbole, betrek. In deel II van die vers verneem die leser immers: “ […] die oomblik, die nuanses van die lug, / toe sy die storm geroep het // en die storm kóm” (75). Die herinnering aan Anna Müller word aangrypend geskets as “die dun vrou vol droogtes”. (75) Ek het die eerste strofe van hierdie driedelige gedig aangehaal om te wys op die moontlikheid van die komende storm en Christelike simboliek. ’n Alledaagse insident, soos om wasgoed van die draad af te haal voor die reën kom, word getransponeer tot ’n dieper betekenis. ’n Mens dink aan Lukas 23 en die duisternis wat tussen twaalf- en drie-uur neergedaal het voor Christus gesterf het. Die kleure wit en diepblou word beklemtoon; en “van bo tot onder…” roep die skeur van die voorhangsel, voor Christus gesterwe het, voor die oog. Die reën reinig die vrou wat alleen in die “dagskadu” staan en ná die storm, as mistieke katarsis, Verligting ervaar wanneer sy die reën (reiniging) in haar oop mond proe. “[…] en sy haar kop lig / en die lug vloek in die naam / van reeds gestorwe grond” herinner aan die kere wat God die grond/aarde vervloek het (Genesis 3 en 9 onderskeidelik) – altans, dít nou volgens dié twee Bybel-fabels. Die storm, of bestorming in hierdie vers vind beslag enersyds as voorbode van onheil, maar is andersyds geklee in ’n mitiese of religieuse stoffering.
die bestorming
herinnering: anna müller
I
as die wolk meteens afsak
en die aarde verdonker
en die wit wasgoed, baie witter as tevore, haelwit –
as die wasgoed stukkendwaai
op die diepblou werf
as die vrou hardloop en inhaal
met, gebondel in haar arms,
die lapperige reën
die wit reën reguit uit die donker
as die vrou uitasem staan en kyk
hoe die repie blou lug
oor die rant vlug
en sy haar kop lig
en die lug vloek in die naam
van reeds gestorwe grond
terwyl die weerlig met gesplete vingers vuur
tussen ysterklippe rondsoek
tot dit donker
en sy in haar oop mond proe
die wolk se breek, hoe die lug
haar was, in die dagskadu, sy
alleen op die werf, die oomblik,
van bo tot onder…
(Petra Müller. Die aandag van jou oë, 2002)
“Die dans van die reën” beskryf die verrukking van die primitiewe woestynbewoners en diere oor die koms van die reën, met die beeld van ’n mitiese, dansende jong vrou (simbool van vrugbaarheid) wat die koms van die reën voorstel. Marais se vers bly ’n treffer en as een van die bekendste gedigte in Afrikaans, immergroen.
Die dans van die reën
O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaalkaros met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!
(Eugène Marais. Maroela Media)
Aansluitend tot bogenoemde gedig as intensivering van emosie – in hierdie geval ekstase – plaas ek die volgende vers, “storm”. ’n Mens kan waarskynlik ook na geografiese reën verwys…
storm
dan kom die reën
dit skreeu ten hemele
dit klop aan die grafte van dooies
en wek blomme op uit rotse
die reën is virtuoos
dit applous oor die dakke
want reën is die triomf van wonde
dit is opstand dit vuur militant
sarsies hael
uit die grofgeskut van wolke
die aarde behoort aan die slawe
die kinders van die vryheid
wat die reën omhels sonder
kettings van vrees of swye
die jasmyn sing in rankers
en soet vokale
en die diere is onderdanig
reën het geen ontsag
vir beskutting of skilde nie
die skilpad trek kleinkoppie
in sy karapaks maar ek breek
uit myself
hartverskeurend gelukkig
want die voëls skinder losbek
die swael ruik wíld
en hiert dan in die golfslag van vlerke
ja net in Pretoria skiet reën
sulke gate in die grond
en gee die los bui
jou ’n oorveeg
as die geute skater
dan die biddende bestekopname
prys die Here
of gaan die versekering betaal
dis die serene stilte
ná die reën wat ek vrees
want al wat ek verstaan
is die gees van ‘n storm
wat ook mý eien
as gees sonder asiel
(Nini Bennett, Donkerwerk, 2019)
In “Winter”, die derde sonnet in N.P. van Wyk Louw se siklus “Vier Gebede by Jaargetye in die Boland”, word reën as katalisator van groei gesien. Alhoewel daar meer as een element in die psigodrama van reën teenwoordig kan wees – in hierdie geval ook die verinniging van reën as meditatiewe vers – is dit interessant dat die simboliese betekenisse van reën as ’n reël redelik ‘vas’ is.
Winter
Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons ’n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?
(N.P. van Wyk Louw. Uit: “Vier Gebede by Jaargetye in die Boland”)

In die onderstaande vers van Paz word reën beskryf as inkantatiewe belewenis. Die spreker besin oor reën en die leitmotief “listen to me”, en “do you hear?” fokus op die ouditiewe en hipnotiese gang van die vers. Hierdie is ’n voorbeeld waar reën vra vir introspeksie.
As one listens to the rain
Listen to me as one listens to the rain,
not attentive, not distracted,
light footsteps, thin drizzle,
water that is air, air that is time,
the day is still leaving,
the night has yet to arrive,
figurations of mist
at the turn of the corner,
figurations of time
at the bend in this pause,
listen to me as one listens to the rain,
without listening, hear what I say
with eyes open inward, asleep
with all five senses awake,
it’s raining, light footsteps, a murmur of syllables,
air and water, words with no weight:
what we are and are,
the days and years, this moment,
weightless time and heavy sorrow,
listen to me as one listens to the rain,
wet asphalt is shining,
steam rises and walks away,
night unfolds and looks at me,
you are you and your body of steam,
you and your face of night,
you and your hair, unhurried lightning,
you cross the street and enter my forehead,
footsteps of water across my eyes,
listen to me as one listens to the rain,
the asphalt’s shining, you cross the street,
it is the mist, wandering in the night,
it is the night, asleep in your bed,
it is the surge of waves in your breath,
your fingers of water dampen my forehead,
your fingers of flame burn my eyes,
your fingers of air open eyelids of time,
a spring of visions and resurrections,
listen to me as one listens to the rain,
the years go by, the moments return,
do you hear the footsteps in the next room?
not here, not there: you hear them
in another time that is now,
listen to the footsteps of time,
inventor of places with no weight, nowhere,
listen to the rain running over the terrace,
the night is now more night in the grove,
lightning has nestled among the leaves,
a restless garden adrift-go in,
your shadow covers this page.
(Octavio Paz. Poemhunter.)
Verwysings:
Bennett, N. 2019. Donkerwerk. Kaapstad: Naledi.
Breytenbach, B. 1967. Die huis van die dowe. Kaapstad: Human & Rousseau.
Brink, A.P. 2008. Groot Verseboek Deel I. Kaapstad: Tafelberg.
Müller, P. 2002. Die aandag van jou oë. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Drew, C. 6 Julie 2022. The Symbolism Of Rain – 7 Examples In Movies & Books. https://helpfulprofessor.com/symbolism-of-rain/?fbclid=IwAR078rIHnk2Cti_TIqCdZd1h-uwhkuKT-3IPUrDQOIEptGXnmmcHqVy2rxA (2 Augustus besoek.)
8 Spiritual Meanings of Rain – Symbolism and Significance. https://www.angelicalbalance.com/spirituality/spiritual-meaning-rain-symbolism/?fbclid=IwAR2uEkxXiLmV7lrzq7cWKtXm_uOFtULkG_6PKFuU7IqPwPDr3KOKEMqz0Fw (2 Augustus besoek.)
