Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
7 August 20228 August 2022

Nini Bennett. Poësie en die psigodrama van reën

 

 

Alhoewel reën as natuurverskynsel in poësie verskillende gedaantes kan aanneem, vind dit uiteindelik neerslag in die vorm van ’n psigodrama met 7 simboliese betekenisse. Reën is iets wat in verlede gebeur, skryf Jorge Luis Borges in ’n reëngedig. Reën roep ’n bepaalde nostalgie of mymering voor die oog. Die toonaard – of stemvurk – van reëngedigte is verskillend gestem, maar die voorkoms van reën gee onmiskenbaar ’n atmosferiese kwaliteit aan poësie.

Die gebruik van reën as simbool in films, romans en poësie verskil nie veel van mekaar nie. Reën simboliseer melankolie (of die intensivering van emosie, soos vreugde: singin’ in the rain); nuwe lewe; reiniging; vasberadenheid of beproewing; liefde en romantiese naunses; reën tree op as voorbode (waarskynlik ’n onheilspellende een), en reën vra vir introspeksie. ’n Mens sien byvoorbeeld in films hoe ’n bokser of sportman in die reën draf (vasberadenheid en beproewing); of hoe donkerwordende wolke aan die einde van ’n film saampak om naderende onheil of melankolie te suggereer. Hierbenewens word reën geassosieer met gevestigde mitologiese of religieuse simboliek, byvoorbeeld in die verhaal van Noag se ark dui die reënvloed op die reiniging van die mensdom se sondes.

Liefde en romantiek. Kykers is bekend met liefdestonele waar minnaars mekaar omhels in die reën – maar ook in poësie herhaal reën as leitmotief, of liewer, geleier van die liefde. In die onderstaande gedig van Breytenbach word die Middeleeuse liefdeslegendes van Heloïse en Abelard, sowel as Tristan en Isolde, geïmpliseer. Die spreker se liefdeserotiek word ’n Ars poëtikale versugting wat uitloop op die vrou/Yolande se vrug(-baarheid).

 

IN JULLE HOEDE

 

Die heelnag lank getrippel van druppels

somber reën teen die rooi pandak –

die duiwe se geeste rus nie;

’n wind vol gate waai ver uit die ooste,

in die mielielande staan kluisenaars enkeldiep

in die modder,

probeer vergeefs die vrugte bewaar

 

Maar jy, bibberende klein Heloïse,

my sluimerende Isolde – jy’s veilig

hier onder die trippelende pandak

ver van die reën se rillende pyn

die verknorsing van wolk en koue

 

Jy is my taal, die saad

van my bevrugting, jy is die woord

waarin ek drome kan stort,

die gedig tussen lakens met die soet asem

van rus by die klewerige mond

en dáárom was die reën die rillende rooidak

 

Kom al julle Gode, kom uit die mielielande

sodat ek julle soos harige komberse

kan trek oor my vrou –

om my vrug te beskerm

’n ogie oor Yolande te hou

 

(Breyten Breytenbach. Die huis van die dowe, 1967)

 

Onheil en voorbode. In “i sagte reën het agtermiddag” word reën geassosieer met ’n voorbode vol onheil. Vlok se unieke idiolek, byvoorbeeld die gebruik van gebroke sintaksis, die doelbewuste distorsie van taal en staccato-agtige styl verhoog die spanning en laat die leser met ’n gevoel van Angst. Terugskouend word die reën in die agtermiddag ’n herinnering waarin daar iets katastrofies gebeur het – ’n motorbotsing word in die tweede laaste reël genoem. Vlokkie die vertraagde en die spelende kinders se onskuld word fel gejukstaponeer met ’n rampspoedige uiteinde waarin reën as ’n soort onheilsboodskapper figureer.

 

i sagte reën het agtermiddag

 

i sagte reën het die agtermiddag.

ja ons almal het uitgehol, rondgedans in die.

tot Ma natuurlik gesê het kom in julle reën.

julle sal koue.

ekenAttieenPollie en Vlokkie my vertraagde.

het nie geluister vir Ma nie, ons het.

ons het bootjies gery in die sloot langs.

Vlokkie die simpel lag i i i iieeggghh die simpel ding.

in die yard kom Ma uit met die belt kamma.

ons hol in bang kamma. skielik is daar i helse.

in die straat is daar i botsing, i bakkie en i.

i sagte reën het agtermiddag.

 

(Gert Vlok Nel. Supertaal)

 

 

In die volgende onderstaande vers (in drie dele) van Müller word die suggestie van ’n mitiese reënmaker, of selfs religieuse simbole, betrek. In deel II van die vers verneem die leser immers: “ […] die oomblik, die nuanses van die lug, / toe sy die storm geroep het // en die storm kóm” (75). Die herinnering aan Anna Müller word aangrypend geskets as “die dun vrou vol droogtes”. (75) Ek het die eerste strofe van hierdie driedelige gedig aangehaal om te wys op die moontlikheid van die komende storm en Christelike simboliek. ’n Alledaagse insident, soos om wasgoed van die draad af te haal voor die reën kom, word getransponeer tot ’n dieper betekenis. ’n Mens dink aan Lukas 23 en die duisternis wat tussen twaalf- en drie-uur neergedaal het voor Christus gesterf het. Die kleure wit en diepblou word beklemtoon; en “van bo tot onder…” roep die skeur van die voorhangsel, voor Christus gesterwe het, voor die oog. Die reën reinig die vrou wat alleen in die “dagskadu” staan en ná die storm, as mistieke katarsis, Verligting ervaar wanneer sy die reën (reiniging) in haar oop mond proe.  “[…] en sy haar kop lig / en die lug vloek in die naam / van reeds gestorwe grond” herinner aan die kere wat God die grond/aarde vervloek het (Genesis 3 en 9 onderskeidelik) – altans, dít nou volgens dié twee Bybel-fabels. Die storm, of bestorming in hierdie vers vind beslag enersyds as voorbode van onheil, maar is andersyds geklee in ’n mitiese of religieuse stoffering.

 

die bestorming

herinnering: anna müller

 

I

as die wolk meteens afsak

en die aarde verdonker

en die wit wasgoed, baie witter as tevore, haelwit –

as die wasgoed stukkendwaai

op die diepblou werf

 

as die vrou hardloop en inhaal

met, gebondel in haar arms,

die lapperige reën

die wit reën reguit uit die donker

 

as die vrou uitasem staan en kyk

hoe die repie blou lug

oor die rant vlug

 

en sy haar kop lig

en die lug vloek in die naam

van reeds gestorwe grond

 

terwyl die weerlig met gesplete vingers vuur

tussen ysterklippe rondsoek

tot dit donker

 

en sy in haar oop mond proe

die wolk se breek, hoe die lug

haar was, in die dagskadu, sy

alleen op die werf, die oomblik,

 

van bo tot onder…

 

(Petra Müller. Die aandag van jou oë, 2002)

 

“Die dans van die reën” beskryf die verrukking van die primitiewe woestynbewoners en diere oor die koms van die reën, met die beeld van ’n mitiese, dansende jong vrou (simbool van vrugbaarheid) wat die koms van die reën voorstel. Marais se vers bly ’n treffer en as een van die bekendste gedigte in Afrikaans, immergroen.

 

Die dans van die reën

 

O die dans van ons Suster!

Eers oor die bergtop loer sy skelm,

en haar oge is skaam;

en sy lag saggies.

En van ver af wink sy met die een hand;

haar armbande blink en haar krale skitter;

saggies roep sy.

Sy vertel die winde van die dans

en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.

 

Die grootwild jaag uit die vlakte,

hulle dam op die bulttop,

wyd rek hulle die neusgate

en hulle sluk die wind;

en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.

 

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,

en hulle kruip nader en sing saggies:

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

 

En haar krale skud,

en haar koperringe blink in die wegraak van die son.

Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;

sy trap af van die hoogte;

sy sprei die vaalkaros met altwee arms uit;

die asem van die wind raak weg.

O, die dans van ons Suster!

 

(Eugène Marais. Maroela Media)

 

Aansluitend tot bogenoemde gedig as intensivering van emosie – in hierdie geval ekstase – plaas ek die volgende vers, “storm”. ’n Mens kan waarskynlik ook na geografiese reën verwys…

 

storm

dan kom die reën

dit skreeu ten hemele

dit klop aan die grafte van dooies

en wek blomme op uit rotse

die reën is virtuoos

dit applous oor die dakke

want reën is die triomf van wonde

dit is opstand dit vuur militant

sarsies hael

uit die grofgeskut van wolke

die aarde behoort aan die slawe

die kinders van die vryheid

wat die reën omhels sonder

kettings van vrees of swye

die jasmyn sing in rankers

en soet vokale

en die diere is onderdanig

reën het geen ontsag

vir beskutting of skilde nie

die skilpad trek kleinkoppie

in sy karapaks maar ek breek

uit myself

hartverskeurend gelukkig

want die voëls skinder losbek

die swael ruik wíld

en hiert dan in die golfslag van vlerke

ja net in Pretoria skiet reën

sulke gate in die grond

en gee die los bui

jou ’n oorveeg

as die geute skater

 

dan die biddende bestekopname

prys die Here

of gaan die versekering betaal

dis die serene stilte

ná die reën wat ek vrees

want al wat ek verstaan

is die gees van ‘n storm

wat ook mý eien

 

as gees sonder asiel

 

(Nini Bennett, Donkerwerk, 2019)

 

In “Winter”, die derde sonnet in N.P. van Wyk Louw se siklus “Vier Gebede by Jaargetye in die Boland”, word reën as katalisator van groei gesien. Alhoewel daar meer as een element in die psigodrama van reën teenwoordig kan wees – in hierdie geval ook die verinniging van reën as meditatiewe vers – is dit interessant dat die simboliese betekenisse van reën as ’n reël redelik ‘vas’ is.

 

Winter

 

Nou lê die aarde nagtelang en week

in die donker stil genade van die reën,

en skemer huise en takke daeliks bleek

deur die wit mistigheid en suising heen.

Dis alles ryk en rustig van die swaar

geheime wasdom wat sy paaie vind

deur warm aarde na elke skeut en blaar,

en ver en naby alles duister bind

in vog en vrugbaarheid en groot verlange;

tot ons ’n helder middag skielik sien

die gras blink, en die jong graan teen die hange,

en weet dat alle rus die lewe dien:

hoe kon ek dink dat somer ryker is

as hierdie groei se stil geheimenis?

 

(N.P. van Wyk Louw. Uit: “Vier Gebede by Jaargetye in die Boland”)

 

 

In die onderstaande vers van Paz word reën beskryf as inkantatiewe belewenis. Die spreker besin oor reën en die leitmotief “listen to me”, en “do you hear?” fokus op die ouditiewe en hipnotiese gang van die vers. Hierdie is ’n voorbeeld waar reën vra vir introspeksie.

 

As one listens to the rain

 

Listen to me as one listens to the rain,

not attentive, not distracted,

light footsteps, thin drizzle,

water that is air, air that is time,

the day is still leaving,

the night has yet to arrive,

figurations of mist

at the turn of the corner,

figurations of time

at the bend in this pause,

listen to me as one listens to the rain,

without listening, hear what I say

with eyes open inward, asleep

with all five senses awake,

it’s raining, light footsteps, a murmur of syllables,

air and water, words with no weight:

what we are and are,

the days and years, this moment,

weightless time and heavy sorrow,

listen to me as one listens to the rain,

wet asphalt is shining,

steam rises and walks away,

night unfolds and looks at me,

you are you and your body of steam,

you and your face of night,

you and your hair, unhurried lightning,

you cross the street and enter my forehead,

footsteps of water across my eyes,

listen to me as one listens to the rain,

the asphalt’s shining, you cross the street,

it is the mist, wandering in the night,

it is the night, asleep in your bed,

it is the surge of waves in your breath,

your fingers of water dampen my forehead,

your fingers of flame burn my eyes,

your fingers of air open eyelids of time,

a spring of visions and resurrections,

listen to me as one listens to the rain,

the years go by, the moments return,

do you hear the footsteps in the next room?

not here, not there: you hear them

in another time that is now,

listen to the footsteps of time,

inventor of places with no weight, nowhere,

listen to the rain running over the terrace,

the night is now more night in the grove,

lightning has nestled among the leaves,

a restless garden adrift-go in,

your shadow covers this page.

 

(Octavio Paz. Poemhunter.)

 

 

Verwysings:

Bennett, N. 2019. Donkerwerk. Kaapstad: Naledi.

Breytenbach, B. 1967. Die huis van die dowe. Kaapstad: Human & Rousseau.

Brink, A.P. 2008. Groot Verseboek Deel I. Kaapstad: Tafelberg.

Müller, P. 2002. Die aandag van jou oë. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

Drew, C. 6 Julie 2022. The Symbolism Of Rain – 7 Examples In Movies & Books.                                   https://helpfulprofessor.com/symbolism-of-rain/?fbclid=IwAR078rIHnk2Cti_TIqCdZd1h-uwhkuKT-3IPUrDQOIEptGXnmmcHqVy2rxA  (2 Augustus besoek.)

8 Spiritual Meanings of Rain – Symbolism and Significance.            https://www.angelicalbalance.com/spirituality/spiritual-meaning-rain-symbolism/?fbclid=IwAR2uEkxXiLmV7lrzq7cWKtXm_uOFtULkG_6PKFuU7IqPwPDr3KOKEMqz0Fw (2 Augustus besoek.)

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Nini Bennett. Die natuursimboliek in Valsrivier en Donkerberg van Dominique Botha
Nini Bennett. Natuurpoësie: van boom tot bioom →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d