Ons is almal bekend met die sogenaamde tree huggers – daardie omgewingsaktiviste wat hulle beywer dat woude of plantasies nie afgekap word nie. Die mees omstrede aktivis in dié verband is seker Julia Butterfly Hill wat tussen 1997 en 1999 vir 738 dae in ‘n 55 meter hoë Kaliforniese rooihout gesit het. Of hoe sal ek dit stel? Hill het letterlik in hierdie boom, wat 1500 jaar oud is, gewoon. Sy het aan die lewe gebly deur haar lewensmiddele, wat sy van ander aktiviste ontvang het, met toue boontoe in die boom op te trek. Hill het inderdaad met dié versetpoging omgewingsaktivisme tot nuwe hoogtes geneem. Haar blitsverkoper oor haar wedervaringe in die boom, The Legacy of Luna, het in 2000 verskyn.
Dit was ’n heuglike dag toe ek Hennie Nortjé se debuut, In die skadu van soveel bome ontvang het. Die bundel is voltooi as deel van ’n MA in Skeppende Skryfkuns onder leiding van professor Joan Hambidge. Uiteindelik ’n bundel ekologiese boompoësie vanuit ’n dendroloog se perspektief! Dié werk is met die Ingrid Jonker- asook die Eugène Marais-Prys bekroon. Die bundel open sonder enige rubrisering met die veronderstelling dat die dendroloog, soos bekend gestel in die programgedig, die leser neem op ’n toer of wandeling deur ’n digterlike plantasie om sekere ekologiese brandpunte in die verse uit te wys.
Afrikaanse natuurpoësie is ryk in skering en inslag en verskeie bome is goed gerepresenteer as eie aan ons Suid-Afrikaanse landskap. Maar meer hieroor later.
Die voorkoms van bome in poësie kan oorhoofs verdeel word in die volgende: spirituele bome, mitologiese bome, metaforiese bome en biologiese bome. ’n Leser sou laasgenoemde eienskappe ook aan bome kon toedig, waar personifikasie ’n rol speel om die bome te vermenslik en waar bome optree as rolspelers in die teater van die lewe.
Hennie Nortjé
Spirituele bome
Baie digters, skrywers en filosowe fokus op die boom se vertikale as in die verwerwing van kennis, persoonlike groei en wysheid.
Vervolgens, ’n Engelse vertaling van ʼn gedig van Rainer Maria Rilke uit Das Stundenbuch:
[…]
If we surrendered
to earth’s intelligence
we could rise up rooted, like trees.
Instead we entangle ourselves
in knots of our own making
and struggle, lonely and confused.
So like children, we begin again…
to fall,
patiently to trust our heaviness.
Even a bird has to do that
before he can fly.
(Rilke’s Book of Hours: Love Poems to God, uit die Duits vertaal deur Anita Barrows and Joanna Macy)
Hermann Hesse
Amper ’n eeu gelede het Hermann Hesse die volgende aangrypende fragment oor bome geskryf in Wanderung: Aufzeichnungen:
For me, trees have always been the most penetrating preachers. I revere them when they live in tribes and families, in forests and groves. And even more I revere them when they stand alone. They are like lonely persons. Not like hermits who have stolen away out of some weakness, but like great, solitary men, like Beethoven and Nietzsche. In their highest boughs the world rustles, their roots rest in infinity; but they do not lose themselves there, they struggle with all the force of their lives for one thing only: to fulfil themselves according to their own laws, to build up their own form, to represent themselves. Nothing is holier, nothing is more exemplary than a beautiful, strong tree. When a tree is cut down and reveals its naked death-wound to the sun, one can read its whole history in the luminous, inscribed disk of its trunk: in the rings of its years, its scars, all the struggle, all the suffering, all the sickness, all the happiness and prosperity stand truly written, the narrow years and the luxurious years, the attacks withstood, the storms endured. And every young farmboy knows that the hardest and noblest wood has the narrowest rings, that high on the mountains and in continuing danger the most indestructible, the strongest, the ideal trees grow.
Trees are sanctuaries. Whoever knows how to speak to them, whoever knows how to listen to them, can learn the truth. They do not preach learning and precepts, they preach, undeterred by particulars, the ancient law of life.
A tree says: A kernel is hidden in me, a spark, a thought, I am life from eternal life. The attempt and the risk that the eternal mother took with me is unique, unique the form and veins of my skin, unique the smallest play of leaves in my branches and the smallest scar on my bark. I was made to form and reveal the eternal in my smallest special detail.
A tree says: My strength is trust. I know nothing about my fathers, I know nothing about the thousand children that every year spring out of me. I live out the secret of my seed to the very end, and I care for nothing else. I trust that God is in me. I trust that my labour is holy. Out of this trust I live.
(Soos aangehaal uit Hermann Hesse: Wandering, Notes and Sketches, 1920. Uit die Duits vertaal deur James Wright).
Ook die Franse filosoof, Gaston Bachelard sien die boom as fenomenologiese en grenslose, universele metafoor vir die verbeelding in La poétique de la rêverie
Imagination is a tree. It has the integrative virtues of a tree. It is root and boughs. It lives between earth and sky. It lives in the earth and the wind. The imagined tree imperceptibly becomes a cosmological tree, the tree which epitomises a universe, which makes a universe.
(The Poetics of Reverie, uit die Frans vertaal deur Daniel Russell)
Mitologiese bome
In Genesis 2 in die Bybel word daar verwys na die Boom van die Lewe wat in die middel van die Tuin van Eden staan, asook die Boom van Kennis van Goed en Kwaad. Nadat Adam en Eva van die Boom van Kennis geëet het, is hulle uit die Tuin verdryf en het gerubs die middelste Boom bewaar sodat hulle nie ook dáárvan sou eet en gevolglik vir ewig lewe nie. Mitologiese bome kom volop voor in volkskuns en mites. Só byvoorbeeld was die Driades die drie nimfe van eikebome, die “verkose kinders” van Moeder Natuur. Die uitbeelding van mitologiese bome wissel van kultuur tot kultuur en verteenwoordig gewoonlik die een of ander mitiese waarheid. Bome as gode, of bome met goddelike eienskappe is algemeen. Antropomorfisme van hierdie bome, asook bome wat uiteindelik dui op die persoonlike groei van ’n individu, is kenmerkend van mitologiese bome.
Metaforiese bome
’n Lewensboom as universele boom van die lewe is ’n metafoor, model en navorsingsinstrument om die evolusie van die lewe te ondersoek binne die verhoudings tussen lewende en uitgestorwe spesies, soos beskryf in Charles Darwin se On the Origin of Species (1859). Nog ’n bekende voorbeeld van metaforiese bome is die verwysing na familiestambome vir genealogiese doeleindes. In sy bundel, In die skadu van soveel bome beskryf Nortjé met ’n handvol heerlike fiktiewe gegewens ’n selfoontoring as metaforiese boom. Selfoontorings word as ’n reël verdoesel in die gedaante van bome…maar dis nie bome wat “lewe” nie.
Wonderboom
(Acacia communicate?)
’n Reuseboom het oornag
in ons voorstad opgekom.
Elke tak georden op sy plek,
’n netwerk wat omvattend
na elke kant die eter dek,
staan hy reeds so hoog –
snags flikker rooi ligte
vir die Boeings in sy kroon.
Sy bas ononderbroke glad
asof gereeld opgegradeer.
Diep gewortel in ons aarde
voed gewapende beton
heeljaar deur sy blare,
groen soos tienrandnote,
hard soos ’n kredietkaart.
Boom van ons lewe:
nooit snoei ons aan jou,
elkeen reeds gekontrakteer
of pay-as-you-go.
(Hennie Nortjé. In die skadu van soveel bome, 2012)
Biologiese bome
In sy MA-verhandeling verwys Nortjé na die bome wat dikwels voorkom in die Afrikaanse poësie, soos dit verteenwoordig word in Groot Verseboek (2008). Hierdie bome sluit in: die doringboom, bloekomboom, kremetart, kiepersol, moerbeiboom, papajaboom, melkhoutboom en verskeie vrugtebome. Daar bestaan dus ’n ruim aanbod van biologiese bome in Afrikaanse natuurpoësie. Die groot spektrum personifiërende eienskappe van die onderskeie bome sorg voorts vir ’n psigodrama van bome, byvoorbeeld in I.L. de Villiers se “Jakaranda” waar dié boom dui op ’n ontluistering van die ‘tradisionele’ Jakaranda met sy kitsch-konnotasies. Die spreker se buitestaanderskap word treffend verbeeld aan die hand van hierdie boom, wat inderwaarheid ’n uitheemse vreemdeling is.
Bome, as menslike rolspelers, is niks nuut nie: die antropomorfisme van bome is lank reeds deur skrywers en wetenskaplikes beskryf. Byvoorbeeld: Bome het emosies en ’n karakter van hulle eie. Ons dink verkeerdelik aan plante as robotiese wesens, uitgelewer aan ’n genetiese kode. Nee: bome se sosiale gedrag herinner aan etniese groepsgedrag. Bome beskerm onverwyld hulle eie spesies. Beuke, byvoorbeeld, intimideer ander spesies (soos eike) tot hulle begin verswak. Dennefamilies (soos die Douglas fir en die spruce) vind bondgenote in mekaar. Wilge, op hulle beurt, is alleenbome. Hulle saad waai honderde kilometer, wég van ander bome af. Ook populiere is nie baie sosiaal nie, en berke sal ander bome verdring om meer ruimte vir hulle krone te kry. Dit herinner aan ’n trotse familie, geneties sterk, maar met ’n neerbuigende karakter. Stadsbome, weer, is soos straatkinders – geïsoleer en gewikkel in ’n alleenstryd teen die elemente van verstedeliking, maar sonder sterk wortels of stewige fondasies.
Bome is ryk aan simboliek. Die fokus kan val op die enkelboom óf op die kollektief van bome, die plantasie, of die bioom self. Daar is natuurpoësie, maar die fokus kan ook ’n ekologiese invalshoek betrek. So byvoorbeeld is daar die magiese kremetart. Die kremetartboom staan onder meer bekend as die “bottle tree”, “tabaldi”, “upside-down tree” en “monkey bread tree”.
Dit is moeilik om kremetarte te dood. Wanneer ’n mens hulle brand of hulle bas afstroop, sal die bome net nuwe bas vorm en op ’n wonderbaarlike, selfgenesende wyse aanhou groei. Maar as kremetarte sterf, verrot hulle van binne af, stort in duie en laat ’n hoop vesel agter. Derhalwe is daar mense wat glo ’n kremetart “verdwyn” net misterieus. ’n Ou kremetart vorm ’n ekosisteem omdat dit soveel lewende wesens onderhou, van soogdiere tot duisende klein kreature wat op die stamme en bas lewe. Bobbejane eet die vrugte, voëls maak nes in die takke en vrugtevlermuise en nagapies drink die nektar en bevrug die blomme. Tog is ’n kremetart nie ’n boom in die ware sin van die woord nie, maar wel ’n yslike vetplant. En omdat kremetarte nie jaarringe het nie, is dit moeilik om hulle ouderdom te bepaal. Koolstofdateringsrekords toon dat kremetarte 2 000 jaar of ouer kan word. Hierdie “boom” word al sedert die veertigerjare deur wetgewing beskerm.
Omring deur misterie, mite en magiese oorlewering gryp die kremetart inderdaad die verbeelding van digters aan. In die onderstaande vers druk die spreker sy beroering oor die kremetart uit deur die refrein “dit laat hom ongeroer” te gebruik. Die boom vergestalt ’n simbool van gelatenheid en krag.
kremetartboom
die kemetartboom is ’n boom
hy laat nie sommer mense in hom klim nie
hy laat jou in hom óp kyk .hy laat jou om hom loop
die olifante het hom bygekom .sy bas gestroop
dit laat hom ongeroer
die kremetartboom is ’n boom
die ape mag maar in hom klouter
baljaar en hom beskyt .dit laat hom ongeroer
hy laat die slang en vlermuis in hom boer
die leeus mag aan sy basis pis
hy bly maar wat hy is
die kremetartboom is ’n boom
diep in sy sagte bruin ou bas
het harteloses hulle éie harte uitgesny
dit laat hom ongeroer .sy holtes is deur bye
vol van hulle blommesoet gemaak
die spinnekoppe span in hom hul sterrerak en radar
die kremetartboom is ’n allerboomste boom
hy is meer kaal meer stam as tak en blaar min vrug
meer aarde toe terug en ín as in die lug
mens sien hom as hy oud is raker raak
vol rimpels sag vol vog en sap
geen ander boom lyk naastenby
so enig bomelik soos hy
alleen die Groot Voet kan hom trap
sy swaar liggaam totaal toemaak
die kremetartboom is my boom
(T.T. Cloete. Groot Verseboek, 2008.)
Johann Lodewyk Marais karteer die kremetart met ’n skerper ekologiese fokus.
KREMETART
Adansonia digitata
Met G.E. Wickens se kaart op my knie
het ek ver agter hulle aan gery
– van die Laeveld tot in die Sahel,
van die Caprivi tot by Mombasa –
en my aan hulle voorkome verkyk.
Ver suid onder die boom by Tshokwane
het ek ‘n merkie op die kaart gemaak
en nog gemaak tot langs die Luvuvhu.
By Sagole het ek al slingerend
deur die dik rooi sand aangery gekom,
in die toiletboom van die Caprivi
broek losgemaak, op Kukonje-eiland
na ’n uil hoog in die takke gekyk,
in Mombasa laat in die aand gesien
hoe mense ná die roep van die muedzin
verby die boom in Nkrumahweg loop,
hoe wortels by die Takwa-ruïnes
tussen die grafte in dwing en later
die bome al langs die Lunatic Line
tot op die Yatta-plato aangestip.
By die Victoriameer het ek lank
met die gids in een se koelte gesels,
in Kartoem hulle by die samevloeiing
van die Blou en die Wit Nyl saam sien staan,
van Timboektoe na Dakar geoefen
aan nuwe name (“hamao”, “oro”
en “calebassier du Sénégal”)
en op ’n Vrydagmark in Kaïro
die ovaal vrugte oopgebreek sien lê
en ’n hand vol pitte soos die woorde
van ’n gedig in my kaart toegevou.
(© Johann Lodewyk Marais, Versindaba, 2011)
Onderstaande natuurgedig dien as portretstudie of bestekopname van die kremetartboom:
Kremetart
(Adansonia digitata)
Die skulptuur van sagte sukkelente krag
stort in op homself. Geen jaarringe
wat wentel om ouderdom te verklap.
Die inskripsies op die stam vertel
van vergeskrifte om roete
en rigting te karteer. Tydloos
gemodelleer val die knoets
van ’n stamvader, selfingenome
verseël soos ’n beeld. Die wortels breek af
tot hegstringe in die grond,
voetstoots dood. Die tydgewrig
van vierduisend jaar is geboetseer
en weer gesloop. Die vervloekte boom
wat groei al is hy geringeleer,
die onderstebo boom met takke
soos krapmerke teen die lug
vee die inventaris van te veel sien
en weet bonkig en bruut met hom mee.
(Nini Bennett. Boekstaaf, 2015.)
Van koolstofdateringsrekords gepraat. Soms is die biologiese inligting wat onder die huid van ’n gedig – of die bas van ’n boom – skuil, waarlik nét so poëties as die natuurpoësie self. Dendrochronoloë, die wetenskaplikes wat ’n studie maak van bome se jaarringe, weet dat jaarringe ’n boom se outobiografie is, ’n rekord van alle biofisiese inligting soos klimatologiese faktore, droogtes, oorstromings, vulkane, aardverwarming, ensovoort. Kenners het geleer om hierdie boomgeskrifte of natuurhistoriese argiewe onder die boombas korrek te lees, en die ouderdom van bome deur die tel van jaarringe en radiokoolstofdatering te bepaal. Net soos die mens se vingerafdrukke van individu tot individu verskil, so sal jaarringe van boom tot boom ook verskil. Die donker ringe dui op ’n stadiger groeitempo in die laat somer (die volheid van die seisoen.) Gedurende die lente vermeerder die boom se selle vinnig, en lente en nuwe lewe word verteenwoordig deur ligte patrone. Groot spasies tussen die ringe dui op gunstige groeitoestande, temperature en genoeg reën: dit gaan goed met die boom. Smal spasies tussen die jaarringe dui op swak groei, veroorsaak deur droogte, lang koue winters, of ’n strestoestand soos insek- of fungusbesmetting. Die boom het swaar gekry; trek noustrop, en dis of die fyner ringe ook konkreet die meer fynbesnaarde karakter van die boom en sy beproewing uitbeeld.
Amatola
Die woudgordel onthou.
Die wisselval van reën spint
jaarringe se kringloop;
insekte slaap in ambersteen
en bas, die broos verweer, roof
om ’n traer stam. Die Edenletsel
vertel ’n verhaal ongerep
in neerslag en herinnering.
Met die vel van elke boom leef
die geheue in die kollektiewe
bioom se val. Die mens vergeet.
Die natuur vergewe nie.
(Nini Bennett. Donkerwerk, 2019, Naledi)
Verwysings:
Bennett, N. 2019. Donderwerk. Kaapstad: Naledi.
Bennett, N. 2015. Boekstaaf. Pretoria: Cordis Trust Publikasies.
Brink et al. 2008. Groot Verseboek Deel 3. Kaapstad: Tafelberg.
Hesse, H. en Wright, J. 1972. Hermann Hesse: Wandering, Notes and Sketches (1920). New York: Farrar, Straus & Giroux.
Nortjé, H. 2012. In die skadu van soveel bome. Kaapstad: Queillerie.
Nortjé, H. 2011. In die skadu van soveel bome. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Universiteit van Kaapstad.
10 interessante feite oor kremetartbome. 1 April 2021. Die Suid-Afrikaanse jagter. https://www.sajagterhunter.com/10-interessante-feite-oor-kremetart?fbclid=IwAR1H20yfGWobWRZKajDn57CbThKKMNqN5byCHsO38RjkZaJP8ISzo6j7ZRo (4 September 2022 geraadpleeg)