as dit kom reën in die brandberg
agter die brandberg het die lug vroegdag
skielik onheilspellend donker geword
en sonder die son word sy plooie sag
raak hy ‘n uitgeknipte kartonbord
teen die voormiddag bring noordwes vir hom
‘n donsduvet wat sy om sy lyf moet
vou en optrek tot net sy kop uitkom
dan gaan lê sy stil by sy skurwe voet
laatmiddag trek brandberg ‘n grys mus oor
sy kop wat stadig saam met die middag
afsak tot hy sy klipgesig verloor
en sy grys stoppelbaardken word doeksag
meteens maak die hemele teen skemer oop
en helder trane begin oor sy ken te loop
© Elmarie Stofberg, 2022