Helaas
Hennie van Coller

Helaas is ’n bundel wat ondermeer staan in die teken van die toenemende ouderdom en naderende dood.
Die bundel bevat talle intertekstuele heenwysings na veral Nederlandse digters en hul werk. Die tweede helfte van die bundel bestaan uit vertalings uit die Middelnederlandse letterkunde en bekende, klassieke gedigte.
Dit bevat ook heelwat humoristiese en satiriese eie gedigte en liefdesverse.
In hierdie bundel word daar op intellektuele wyse ’n groot verskeidenheid onderwerpe hanteer en interessant genoeg sluit dit juis ook emosionele sake in. Die digter besin oor sy herkoms en sy toekoms, sy huis, sy lewe in sy gesin, maar ook oor ander digters en skrywers, oor sensitiewe en intellektuele kwessies.
Die gestrooptheid en direktheid van die verse spreek die leser aan… daar is veel in die bundel wat meevoerend en ontroerend is.
Oor die outeur
H.P. (Hennie) van Coller is uitstaande professor (emeritus) aan die Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein en buitengewone professor aan die NWU. Hy is die skrywer van talle publikasies ondermeer die literatuurgeskiedenisse Perspektief en profiel. ’n Literatuur-geskiedenis (2016), Verbintenis en venster. Die Nederlandstalige letterkunde van aanvang tot hede. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis (2019) en ’n boek saam met dr. Joanita Erasmus-Alt, Blitsverkopers,beeldvorming en bemarking (2021). Hy publiseer meedere vertalings uit Nederlands, ’n bundel rubrieke en ’n bundel gedigte. Hy ontvang onder andere die Gustav Prellerprys vir literatuurwetenskap, die D.F. Malanprys, die N.P. van Wyk Louw-medalje en die Jan H. Maraisprys vir uitsonderlike bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.
[Naledi, 2022. Formaat: SAGTEBAND R 240.00, 213 x 137 mm. Bladsye: 80+. ISBN: 978-1-77617-237-5]