I
Janet Malcolm en Freud. Hierdie uitsonderlike joernalis het geweldig belangrike werk gelewer binne die psigoanalise. The Freud Archives en The Silent Woman is twee belangrike handleidings binne hierdie gesprek. Janet Malcolm is in Praag gebore as Jana Klara Wienerová en is in 2021 oorlede.
In 1981 verskyn die baanbrekende werk: Psychoanalysis: The Impossible Profession. Sy het gereeld bydraes gelewer vir die New Yorker.
In the Freud Archives (1984) handel oor ‘n intrige: Kurt R. Eissler, Jeffrey Moussaieff Masson en Peter J. Swales. In die 1984 hofsaak beweer Masson dat Malcolm hom belaster het deur woorde in sy mond te lê.
In Augustus 1995 ontdek haar kleindogter die notaboek in haar vakansiehuis (verlore en tussen ander boeke) wat haar red.
Die hof wou die oorspronklike notas sien en nie die geredigeerde getikte tekste nie.
Hierin staan die omstrede aanhalings en danksy ‘n verklaring wen sy die saak. (169)
II
Dit is ‘n besondere studie wat lees soos ‘n speurverhaal rondom intriges in psigoanalise. Jaloesie, aanklagte, bedrog, besitlikheid, skinderstories en aantygings soos dat Freud vir Fliess wou leed aandoen en ‘n verhouding met sy skoonsuster, Minna Bernays gehad het. (Die gerug, blyk dit, is deur Jung versprei, volgens Malcolm).
Wie het die laaste sê? Wat het Freud werklik bedoel met die seduksie-teorie?
As Freud beweer het waar ego is, sal id wees, kan ‘n mens dit aanpas: waar akademici is, kan jy ego-stryde verwag.
Maar dit is veral die figuur Anna Freud wat sterk na vore kom in hierdie stryd. Die dogter van Freud en klaarblyklik sy gunstelingkind. In 2016 tydens ‘n kongres in Wene (ICLA) word Freud se huis besoek.
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=Freud+berggasse Besoek 26 Oktober 2022
Freud se studeerkamer
Die museum is in 1971 gestig deur Anna Freud met die hulp van die stad Wene en word beskou as een van die belangrikste intellektuele argiewe.
’n Mens moet wag weens te veel besoekers, maar ’n gawe egpaar laat my toe om eerste deur die bruin deure te stap. Hier het mense vir terapie gekom, totdat Freud na Londen moes vlug toe die Nazi’s die stad beset het. Vir ongeveer 20 000 euro’s kon hy vlug en sy beroemde sofa saamneem. Hieroor het ek gedig in my bundel Meditasies:
Freud se sofa
Waar id is, sal ego wees.
Op hierdie sofa,
ikonies uitgestal in ’n museum
met totems daarneffens,
het Sigmund Freud die onbewuste
glo ontdek:
om te praat, te droom, grappe te vertel,
deur raaisels veral,
verraai ons glo iets
van ons ware aard.
Om jou tong uit te sny,
jou stil te maak,
iets wat die digter vrees?
Ek lê my neer
op Papa Freud
se beroemde sofa,
virtueel beskikbaar,
die reisende sofa as u wil.
Maar eers die sofa met sy donker kleure,
opgepofte kussings,
tapytbedekking of kelim.
Hier is beswaardes lêgemaak,
aangehoor: ont-vang, ont-knoop,
ont-boesem ten aanhore van die analis,
streng en dogmaties,
soekend na die verdringde redes
wars van religie.
Waak teen identifikasie met die onbewuste
sou sy kroonprins waarsku:
in ’n soele droom
presies in drie afdelings verdeel
waai die wind twee verse weg,
en later soekend
in die liasseerkabinet van my komputer
is die verse ónopspoorbaar.
In onrus vertrek ek;
nog dieper in die droom in
stap ’n vrouedigter en haar gewese man
se nou-reeds-oorlede vrou
saam-saam die trappe af
met my as toeskouer.
Nog verder in die droom
– as ek reg onthou –
verskyn Sheila Cussons,
daardie amper-heilige
met ’n fotokopie
waarop skeef afgedruk staan:
“Freud se sofa”.
Die vers het in 2013 ontstaan.
’n Mens kry ’n gehoorapparaat waarmee jy die verskillende kamers kan besoek. Tans is daar ’n spesiale uitstalling: This is the stronger sex. Women in psychoanalysis.
Korset (ca 1850-1900). Foto, Oliver Ottenschlaeger
Lou-Andreas Salomé, Marie Bonaparte, Helene Deutsch, Anna Freud en Sabina Spielrein met Anna Eckstein word hier vereer ten einde die sogenaamde “talking cure” te begryp. Party van hulle was van Freud se pasiënte; Anna Freud en Deutsch het onder hom opleiding ontvang. En so het psigoanalise begin in 1896, en versprei na ander lande: deur Salomé na Duitsland; met Bonaparte na Frankryk; Helene Deutsch het psigoanalise in die VSA gevestig, terwyl Anna Freud in Engeland dit gevestig het. Spielrein het weer die Russiese vertolker geword.
Anna Freud
Daar is ook ’n klein “tuisfilm”, soos Anna Freud dit noem, waar die gesinslede van Freud uitgebeeld word. Sy liefde vir honde (o.a. twee Sjinese keeshonde en ’n pekinees) sien ons met balletjies speel. Sy liefde vir sy kinders en kleinkinders: o.a. filmmateriaal van Lucian Freud wat later die beroemde skilder sou word, onder andere van windhonde.
Ons sien sy suster wat in ’n konsentrasiekamp gesterf het en beelde van sy moeder, sy vrou en Ernst Jones.
Freud het dit gehaat om afgeneem te word. Hy was baie lief vir reis en dikwels kon die gesin in somertye in beroemde spas of in Tirool bly waar hy onder andere Totem and Taboo geskryf het.
Freud het ook straf gerook terwyl hy geskryf het. Toe hy ernstig siek geraak het en nie meer kon rook nie, weens mondkanker, het hy al hoe moeiliker geskryf. Hier in die museum sien ons hoe Anna Eckstein die verminderde rol van vroue aangespreek het. Sy had ’n lelike neus en na ’n operasie, was die neus nog meer ontwrig.
Die besoeker word vertel hoe Freud sy kollega Breuer se idee van katarsis in terapie verder gevoer het met vrye assosiasie.
Anna Freud het haar vader se werk uitgebou. Sy is bekroon met ’n doktorsgraad aan Yale en in 1967 het Elizabeth II haar met die Commander of the Order of the British Empire vereer.
III
Freud en Anna 1913
https://dubiouspod.com/episodes/marilyn-monroe-and-freud/
Besoek 26 Oktober 2022
Anna Freud (3 Desember 1895 – 9 Oktober 1982) was die jongste van Freud se ses kinders. Sy word saam met Melanie Klein gesien as ‘n baanbreker binne die veld van kindersielkunde. In 1938 verlaat die Freud-gesin Wene weens die Nazi’s se belegging van Oostenryk. Sy vestig haar in Engeland as psigoanalis en besoek gereeld die VSA. Later sou daar verskille tussen haar en Klein wees.
Marilyn Monroe het Anna Freud besoek wat haar soos volg beskryf het:
Emotionally unstable, highly impulsive, and needing continuous approval from the outside world; she cannot bear solitude and tends to get depressed when faced with rejection; paranoid with schizophrenic elements.
Lee Strassberg Monroe se teater-afrigter en die beroemde “method acting”-kenner het haar glo aanbeveel vir terapie.
https://litlove.wordpress.com/2012/02/09/marilyn-and-the-therapists/ Besoek 26 Oktober 2022
In Meditasies staan ook hierdie gedig:
Just Marilyn (1926 – 1962)
Vir T.T.C. , a poet’s poet en al die napraters
Jy is net Marilyn,
Marilyn Monroe
’n naakte lyf, oop en bloot,
sowel wondnaat as wond.
Jy soek jou vader soos alle weeskinders,
ja, in die naam van die vader,
verheug toe jy uitvind
daar was wél ’n vader,
jy had ’n naam.
Maar jy het verskeie name,
Norma Jean Mortenson,
Norma Jean Baker,
toe word jy Marilyn Monroe,
’n lusobjek, ’n fantasie,
op almal se lippe,
femme fatale,
MM: The Prince and the Showgirl.
Ons kyk na jou,
uitgestal op blou en rooi.
Jy terg jou kyker, speel met jou hare,
Jou borste verraai vir die ingeligte
’n aborsie, miskien ’n afgetekende kind?
Jou dye het soveel ontvang, selfs ’n dramaturg
het hoog opgegee dat jy méér was as blote genot;
iewers staan dit opgeteken: jy lees Dostojefski.
Die Gebroeders Karamazof word die Kennedy’s.
Húl bloedige eindes sou jy na-aap, die here-weet,
niemand sou kon weet hoé die lewe venyniger
in jou skoot tot stilstand kom soos ’n Zapruder.
Jy is immers Anna Freud se beroemdste pasiënt.
In swart word jou binneste uitgeryg, uitgespeel
(There’s no business like showbusiness)
nes ’n akteur wat speel asof dood of ’n regisseur verveeld
met die teks van ’n aspirant of wanna-be Tennessee W.
In die naam van Hollywood, Spiritus Sancti,
word jy die spel, futiel, want dood
het soveel name, weet jy: sterf, vertrek, word lyk.
Jy dans met Truman Capote met ’n cowboy-hoed.
Wat sou jy maak van In cold blood?
Selfs in jou grande finale (waaroor almal steeds bespiegel)
was dit ’n oordosis of jou minnaar in Dallas, Texas
in ’n kavalkade met Jackie (neffens hom) gefusilleer,
se uithaalplan? Vanaand kyk ek weer na jou:
binne word buite, ’n tergende raaisel. Of buite
dalk eerder binne? ’n Drama vir Arthur Miller?
Oordosis of moord, jy bly op almal se lippe,
verdroomde droom, gemaakte Objek, buite bereik:
eenmaal, eenkeer was jy nét mens: Just Marilyn,
Norma Jean. Dalk die verkeerde foto gekies
vir my digterlike snapshot. In Nomine Patris…
Wie weet? Norma Jean, glansend geyk
et Filii et Spiritus Sancti. Amen.
Die “verdroomde droom” is deur verskillende Afrikaanse digters beskryf in ‘n kaleidoskoop van verse. Sommige ekfrasties, ander besinnings oor die “gemaakte Objek”.
Joan Hambidge
Oktober 2022
Bronne:
Hambidge, Joan. 2014. Meditasies. Kaapstad: Human & Rousseau.
Malcolm, Janet. 1981. Psychoanalysis: The Impossible Profession. New York: Jason Aronson.
- In the Freud Archives. New York: Alfred A. Knopf.
- The Silent Woman: Sylvia Plath & Ted Hughes. New York: Alfred A. Knopf.
Oor Monroe en die representasie in die digkuns:
http://johanndelange.blogspot.com/2010/03/marilyn-monroe-met-n-omweg-kan-bysake.html Besoek 23 Oktober 2022