I
Alice Miller is gebore as Alicija Englard in Pole 1923. Sy is oorlede in 2010. Switserse psigoanalis en uiters krities op die werk van sowel van Freud as Jung vestig sy haar in die veld van kindersielkunde.
Haar werk het ‘n enorme invloed op hierdie skrywer se digterskap gehad.
Hierdie gedig is indertyd deur Kyknet opgeneem:
http://joanhambidge.blogspot.com/p/video-clips.html Besoek 4 November 2022
En in Lot se vrou staan hierdie vers:
Alice Miller Revisited
VWL
Die dag treur in goue akkerblare,
tot in die kelders van onthou.
Die troostelose dag draai en draai
soos ‘n lendelam, geroeste windpomp.
Laat alles val wat seermaak of verbrou,
ook die stamelinge van so ‘n omdraai.
Die woedes, verliese, afwysings,
en Godweet, dít wat roep om verswyging.
O gode van my jeug: Camus en Sartre,
deur Boeddha terúg tot by daardie Iets.
Wis elke afdraaipad of misverstand uit.
Die dag treur in goue akkerblare,
immer in die kelders van vergeet.
II
Veral twee studies is tersaaklik:
The Drama of the gifted child (1979) en The untouched key (1988).
Ofskoon haar studies ‘n kritiek en wégbeweeg van Freudiaanase en Jungiaanse psigoanalise is, bly dit steeds psigoanalities in opset. As Alicja Rostowska oorleef sy die Tweede Wêreldoorlog in Warskou. Opvallend dat al haar studies te make het met oorlewing, en meer spesifiek, die kind wat moet oorleef.
Haar analise van Picasso en Buster Keaton sal my altyd bybly.
Picasso se Guernica handel nie net oor die Spaanse Burgeroorlog nie, maar is ‘n representasie van ‘n aardbewing in Malága toe die jonge Pablo die hoewe van gevalle perde beleef het. En die geboorte van sy sussie gesien het in die grot waar hulle geskuil het.
Picasso: Guernica
Vir sommige kenners ‘n innerlike konflik
van kleuterkind, vlugtend met sy ouers
in Malága tydens ‘n aardbewing en aanskou
later die nag die geboorte van sy suster in ‘n grot.
Dáárdie vlugtende perde met hoewe klappend
bly hom agtervolg, aldus Alice Miller, psigoanalis.
In die Museo Reina Sofia, Madrid verklap die gids
hoe die Baskiese stad om 16:30 26 April 1937,
só helder soos gister, vir twee ure lank gebombardeer
word deur Wolfram von Richthofen, glo Hitler
se regterhand en Francisco Franco se oorlogskontraktant,
om die anargiste en sosialiste in die bek te ruk.
Vir Pablo self, dui die perde op die mense van Guernica;
vir ander die bul of minotaur sý oerkrag, opgeteken
in my dagboek kort na ons stiergeveg, ‘n ewebeeld
van so ‘n iteratief-duratief: opstande van buite
resoneer met die geweld van binne, aldus
hierdie gedig, wat sonder hoewe onomatopeïes ontspoor.

Buster Keaton se lewelose gesigsuitdrukking is te wyte aan sy ouers wat hom aangerand het as kind en hy geleer het om nie pyn te verklap nie.
“Experience has taught us that we have only one enduring weapon in our struggle against mental illness: the emotional discovery and emotional acceptance of the truth in the individual and unique history of our childhood.” aldus Alice Miller in The drama of the gifted child (1979:3).
The drama of the gifted child is ook gepubliseer as Prisoners of childhood.
‘n Terugkeer na pynlike jeugherinneringe – totdat dit volledig begryp is – kan heling bring.
Sowel emosionele pyn as fisiese aanranding moet herbesoek word.
Ook om dit wat die kind behoef van hom of haar te weerhou, is abuse.
Stilte, verswyging, nie-raaksien-nie.
III
By die Slow Intimacy-kongres by STIAS (12 -14 Oktober 2022) was van die pynlikste lesings juis dié waar die volwasse spreker oor kindwees (en ellende) praat of die ouer wat magteloosheid uiter oor ‘n kind wat deur die gemeenskap verwerp word oor andersheid. Die sameroepers was Amanda Gouws en Lou-Marié Krüger beide verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch.
“The week that I learned to love my sisters” van Pierre de Vos keer terug na die jeug en die versaakte vaderfiguur wat met sy optrede sy kinders verniel het. Pakkend, eerlik, kompromisloos. Die susters – uit alle windstreke – en die broer is by die vader se sterfbed. Versoen in hul agonie oor die vader.
‘n Terugkeer om te verstaan en heling te vind, soos Alice Miller dan aanvoer.
Die swart draad van melancholie was aanwesig in al die bydraes. En juis hoe ambivalensie waarskynlik die moeilikste emosie bly om te navigeer. In sowel die politieke as die private vind ons ‘n terugkeer na wie ons was.
“Intimate things: Remnants, remembrance” soos Jeanne Ellis dit tereg opsom.
Ontwortel
No one is exempt
And everyone’s pain has a different smell.
– Craig Raine
Die plant in my kantoor gee
ek weg, breek ‘n stuk af,
verplant dit voor my deur.
Hierdie plant groei weer:
herinneringe aan ‘n jeug
se ont-worteling, ontwrigting.
Omvattend hierdie tyd,
veral toe ek gisteraand
‘n vriend wortelloos sien.
Verplanting soos verplasing.
Onverwags dié wedersiens:
(h)erken hom aan die kromming
van sy lyf, gryswordende oë,
denkend aan Craig Raine se gedig
dat elkeen se pyn anders ruik.
Die plant voor my deur stáán,
oorleef weer en hael en wind
nes hierdie lament in grint.
Joan Hambidge
Oktober 2022
Bronne:
Hambidge, Joan. 2012. Lot se vrou. Kaapstad: Human & Rousseau.
Miller, Alice. 1995. The drama of being a child. The search for the true self. Londen: Virago.
– 1997. The drama of the gifted child. The search for the true self. Londen: Virago.
– 1997. The untouched key. Tracing childhood trauma in creativity and destructiveness. Londen: Virago.

Dankie, Joan. Soos altyd uiters insiggewend.