Hooglied
Jou vergifnis het ek verpand
vir dertig nuwe drome,
toe my kruis langs jou poort laat lê.
en maar vir jou ‘n tuin geplant,
met vyebome sonder vrug,
nes jy graag wou hê.
Al die offers wat ek eens na
jou heil’ge plek sou bring,
lê vertrap soos sout en pêrels,
want in Gadara het ek jou huis gaan bou
op pottebakkersgrond, met ’n uitsig
van die kranse en die wêreld.
‘n Klipmuur beskerm jou wingerd
van Nabod gebuit vir lensiesop,
waar leë beloftes lê,
in die werf, ‘n swart ou haan
wat kraai en kraai en kraai,
só jou liefde en haat vir my sê.
Teen die voorhek hang ou sandale,
dor-gekraak, en nes my hart,
oortrek met stof van nêrens,
onder die stoepdak staan ‘n Dawidsbad,
waar jy dalk, soos goeie sin,
jou skaamte ook kan bêre.
© Martin van Rensburg, 2022