Die HAT definieer ‘landskap’ as ’n “stuk grond of gebied van ’n bepaalde soort, wat ’n eie, tipiese aard het” (Luther et al 2015:714) en ‘natuur’ as “die wêreld in onveranderde toestand; die wêreld met alles daarop wat nie deur die mens gemaak is nie” (Luther et al. 2015:831). Marais is van mening dat ‘natuur’ as ’n begrip, net soos ‘omgewing’, “voortdurend nuwe ontwikkelinge moet akkommodeer (en daarom) kan daar eintlik nie ’n vaste, onveranderlike betekenis aan enigeen van hulle toegeskryf word nie” (Marais & Zuiderent 1997:3). In hierdie opstel sal die HAT se omskrywings egter as vertrekpunt dien.
Schulte Nordholt, Nederlandse kritikus, “bewonderde de grootsheid van de natuur als achtergrond van het dichterlijke leven omdat dit aan Zuid-Afrikaanse poëzie een kleur en kracht verleende die volgens hem onbekend was in de Nederlandse poëzie” (Jansen 1998:80). Dit is dus nie vreemd dat die natuur van die begin af ’n prominente plek in die Afrikaanse digkuns beklee het nie. Hoewel die Sestigers weinig aandag daaraan geskenk het, het dit later weer begin om ’n groter rol te speel (Marais & Zuiderent 1997:4-10).
Wanneer daar gedink word aan landskap en natuurgedigte in Afrikaans is dié van manlike digters soos Jan F.E. Celliers, C. Louis Leipoldt, I.D du Plessis en C.M. van den Heever dikwels van die eerstes wat opgeroep word. Kannemeyer (1984:400) is van mening dat N.P. van Wyk Louw se “Vier gebede by jaargetye in die Boland” “tot die mooiste natuurpoësie in Afrikaans gereken kan word” en dat “Leipoldt by uitstek die digter (is) wat, soos niemand voor of na hom nie, die Suid-Afrikaanse natuur met sy groot verskeidenheid plant- en dierlewe sintuiglik ontdek het” (Kannemeyer 1990:63). Hieruit moet nie afgelei word dat vrouedigters nie oor die natuur dig nie: dit kan eerder toegeskryf word aan die dekadeslange oorheersing van die terrein van die Afrikaanse letterkunde deur mans (Spies 2014:1). Ook Opperman (1962:351) skets die Afrikaanse letterkunde as “(vir) baie lank hoofsaaklik ’n letterkunde van die man se siening van die lewe … Eers met die Dertigers – daardie geslag by wie ons reeds so ’n groot verskeidenheid en hoë gehalte van werk aantref – kry ons die vroulike aanvulling in ons letterkunde: in die poësie met Elisabeth Eybers en in die prosa met Hettie Smit.” Hambidge (1991:11) wys egter daarop dat “Eybers slegs in geslag ‘vroulik’ (is) en in die mate wat sy huisvrou- of vrou-beelde aanwend… Eybers is dus méér as ’n vroulike aanvulling tot ons letterkunde. Haar posisie is een van ’n dualiteit, van ’n aanspreek van die poëtiese Ander.”
Hoewel Hambidge se siening gedeel word en só ook Spies (2014:1) s’n dat “digterskap (tereg) by die bespreking van digters se bydraes tot ’n literêre tradisie die uitgangspunt (is) en nie die digter se geslag nie”, sal in hierdie opstel gefokus word op landskap- en natuurgedigte in die digkuns van Afrikaanse vrouedigters en spesifiek dan dié van Elisabeth Eybers en Lina Spies. Beide moes, soos Spies (2014:9) dit stel, hulle “los skryf van die groter patriargale tradisie”. Ander raakpunte tussen hierdie twee digters is ’n Christelike opvoeding, twee susters, ’n verbondenheid met Nederland en ’n bewondering vir Emily Dickinson, maar daar is ook verskille. Elisabeth Eybers is ’n getroude vrou, moeder en later, na haar egskeiding, alleenstaande vrou en immigrant terwyl Spies ’n ongetroude, kinderlose beroepsvrou is (Du Plooy 1991:61; Spies 1995:3-4; Spies 2014:2, 9; Visagie 2016; Terblanche 2019).
Elisabeth Eybers is die eerste erkende Afrikaanse vrouedigter en, soos reeds aangetoon, ’n lid van die Dertigers. Haar laaste digbundel, Valreep/Stirrup-cup het in 2005 verskyn (Du Plooy 1991:62; Claasen 2012:27; Spies 2014:2). Kritici soos Elize Botha (1964:33) bestempel haar as “die digteres vir die vrou” in wie se poësie die totale vroulike lewensiklus gedek word: vanaf kindwees (byvoorbeeld “Aan ’n klein dogtertjie” in Die vrou en ander verse, 1945) totdat bejaardheid bereik word soos wat uitgebeeld word in “Ouma” (Bestand, 1982) (Spies 1995:18; Spies 2006:58; Spies 2014:2, 4). Eybers self merk op dat “de natuur heeft niet veel sporen in mijn werk nagelaten; ik heb slechts een paar natuurgedichten geschreven. Ik denk dat ik er te introvert voor ben” (Jansen 1998:118). “Wes-Transvaal”, wat handel oor die streek waar sy opgegroei het, verskyn egter reeds in haar debuutbundel, Belydenis in die skemering (1936). In die slotstrofe word hierdie landskap só beskryf:
God het geen berge of bosse oorgehad
toe hy dié land moes maak, en kon toe net
die vrede van voleindiging hier laat.
Wilgerbome, ’n boomsoort wat algemeen voorkom in die eertydse Wes-Transvaal, figureer ook onder meer in “Wilgerbome” (Die vrou en ander verse, 1945) en “Die wilgerboom” (Die ander dors, 1946). Hoewel dit nie by die naam genoem word nie, word algemeen aanvaar dat “Droom” in eersgenoemde bundel gewy word aan Schweizer-Reneke, haar grootworddorp (Opperman 1962:351-352, 371-372; Spies 2006:69). Die eerste vier strofes lui:
Sou ek die dorpie eendag weer bereik
tussen die bog van rante en rivier
waarbo die kerk se koepel sierlik pryk,
onaards en swewend in die skemeruur?
Sou ek nog eens my ooglede kon sluit
tussen my hart en alles rondom my
wanneer die klok se roepende geluid
weer koel en suiwer uit die toring gly?
As ek weer oor die skurwe kweekgrasmat
en kolle sagte kalkstof kaalvoet gaan,
sou die mimosabome langs die pad
gebonde in hul bloeiselnette staan?
En sou die aand deursigtig word en wyd,
’n sagte rook wat al die leegtes vul,
die wilgers tastend afbuk oor die spruit
wat glaswit om hul tinger fraiings krul?
“Heimwee” en die sonnet “Lente is traag vanjaar” in Die vrou en ander verse (1945) is wel twee gedigte waarin Eybers ’n bepaalde aspek van vrouwees, naamlik swangerskap, met die natuur verbind. In hierdie natuurverse – wat onderskeidelik deur die komponiste Hendrik Hofmeyr en Hubert du Plessis getoonset is – vereenselwig die swanger vrou haar met die natuur (Opperman 1962:371; Spies 2006:66-67, 77-78; Claasen 2012:66-67). Versreëls 8 en 9 van “Heimwee” vergelyk byvoorbeeld die ongebore kind met die koms van die lente wat nie gekeer kan word nie:
’n onderstroom van lente in die lug,
onkeerbaar soos die lewe in my skoot
Uit ’n gedig soos “Sisteem” (Balans, 1962) “soos in baie ander, kom ook voor die kennis en liefde vir die natuur” (Du Plooy 1991:67):
Sy’t haar gebalde buik
die afgrond toevertrou
en kan nie terugkatrol
maar moet al sneller sak
al radeloser tol
tot waar die besemstruik
in oker skuim oopvou.
Met lig wat sy ontlas
ryg sy die blare vas
en koppel tak aan tak.
Sy span vanaf die spil
tien speke in ’n straal
en trek haar dun patroon
– die silwer dekagoon –
in spreiende spiraal
tot alles snaarstyf tril.
Sy strik die laaste knoop
en krimp bedees opsy,
geledig deur die vlyt.
Kyk – op haar rug die kruis
van barmhartigheid
wat elke argwaan stil.
Maar as die raamwerk ril
sal sy elektries gly –
’n aarsellose oop
agtvingerige vuis.
Hier is die spinnekop wat haar web spin ’n metafoor vir die digter wat ’n gedig skryf – ’n aktiwiteit wat deur beide geslagte beoefen kan word hoewel daar in hierdie vers sprake is van die handelinge van ’n wyfiespinnekop – en “(word) die voortreflike in die werklikheid (soos die spinnekop se funksionele web) … oorskry deur die voortreflike vers. Want die vers is nie aan tyd gebonde nie – die harde werk, die praktiese vaardigheid wat in die werklikheid vergaan, verkry onsterflikheid. Die gedig is soos die web, maar die web vergaan en die gedig nie – die web kan bly bestaan juis vanweë die gedig” (Du Plooy 1991:68):
Volgens Marais (Marais & Zuiderent 1997:10) sou digters (in die Afrikaanse poësie) hulle eers in die negentigerjare oor die vernietiging van die omgewing uitspreek” en Elisabeth Eybers maak dan so in “Ekologie” (Nuweling, 1994). Hierdie gedig is nie net opgeneem in Marias en Zuiderent se Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (Marais & Zuiderent 1997:87) nie; dit verskyn ook op hierdie versamelbundel se agterblad. Hoewel die digter beskryf word as iemand wat papier verbruik sonder om hom/haar te kwel oor die bome wat in die slag bly, verduur die aarde volgens Schutte (2004:7) die digter sowel as die ekoloog “omdat die ‘digter’ die aarde se ‘lof besing’ en die ‘ekoloog’ sy bes doen om die ekologie te bewaar”:
Wie die prullemand volprop van dag tot dag
vra hom nie af hoeveel bome verteer
sy vreemde, papiervernielende vak
wat vir driekwart bestaan uit magteloos wag
en die ongerymdste gewrogte kreëer.
In feite verdien hy om skuiling van tak
en geritsel van blare wreed te ontbeer
want die handjievol humus wat hy sal verstrek
na sy heengaan kan nimmer sy skuldelas dek …
Dog die aarde, terwyl hy haar lof sing, gedoog
die digter sowel as die ekoloog.
Die tweede vrouedigter wat hier aan die bod kom, Lina Spies, is op Harrismith in die Vrystaat gebore en het daar grootgeword. Die natuur is een van die vernaamste temas wat in haar digkuns geïdentifiseer kan word (Van der Mescht 2006:123, 139; Hambidge 2013; Hambidge 2017). Op haar blogspot skryf Hambidge (2013) dat Spies as ’n digter “iewers (staan) tussen Elisabeth Eybers, Ina Rousseau en Antjie Krog”. Van die raakpunte sowel as verskille tussen Elisabeth Eybers en Lina Spies is alreeds aangetoon en Spies erken dat sy as ’n vrouedigter met Elisabeth Eybers identifiseer. Sy het haar MA-graad behaal met ’n skripsie oor die poësie van Elisabeth Eybers en laat ’n studie, Die enkel taak: die merkwaardige ooreenkoms tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson (Spies 1995), die lig sien (Hambidge 2017; Terblanche 2019). In haar eie woorde sê Spies (2014:2): “Sonder om Eybers se werk te stereotipeer as ‘tipies vroulik,’ sien ek dit as die begin van ‘n vroulike poësietradisie in Afrikaans waarby ek kon aansluit met poësie van eie individuele aard.” In haar “Twee gedigte vir Elisabeth Eybers” (Digby vergenoeg, 1971) “is Eybers se ‘Jong seun’ struktureel bepalend vir die gang van Spies se ‘Jong dogtertjie’” (Kannemeyer 1990:420) en sy rig ook onder meer “Elisabeth” (Dagreis, 1976) aan Elisabeth Eybers. Onderstaande strofe van “Die agtergeblewene” (Sulamiet, 2016) is ’n meer onlangse geval waar Spies in gesprek tree met Eybers en waar sy dié se “Wilgerbome”, “Die wilgerboom”, “Wes-Transvaal” en “Droom” aanspreek:
Elisabeth Eybers het gedig oor wilgerbome
en onbeboomde ruimtes van die Wes-Transvaal,
gemymer oor Schweizer-Reneke
en gewonder of sy dié dorpie ooit weer sou bereik
“tussen die bog van rante en rivier”.
Ook Spies se grootworddorp en die streek waar sy opgegroei het, vind neerslag in haar poësie. Vergelyk byvoorbeeld die eerste drie strofes van “Harrismith: Noordoos-Vrystaat” (Dagreis, 1976) wat die reis vanaf die Boland tot in die Noordoos-Vrystaat beskryf:
Na tien jaar laat ek die Boland agter my
Die Karoo
die laslap-Vrystaat
om Noordoos by die berge uit te kom.
Jy tart die laaste kilometers om,
onbekende tafelberg van my vertroude kinderland,
speel wegkruipertjie tot ek jou blok
en deur die lens van mense-oë geheel en al besit,
Platberg, jy bespot die vierkant van ’n foto,
almanak en poskaart roem jou nie,
maar jy waak oor my grootword-dorp,
die straat waar ons huis was,
die baksteenstadsaal wat met sy Big Ben-stem
uit sy toring nog altyd die ure tel.
In “Vreemde tuiskoms” (Die skaduwee van die son, 1998) spreek sy haar in die tweede strofe as volg uit oor die Boland wat haar soos ’n minnaar omhels:
Berge begin my uitsig versper,
word die Boland wat ek bemin,
sluit my al hoe vaster
in sy omhelsing in.
Nederland lê ver, lê ver.
Haar liefde vir die Bolandse natuur blyk ook duidelik uit “Estetika” (Sulamiet, 2016):
Estetika
Vir Carin
“Raak julle aan die berge gewoond?”
Gewoond? Dis ongehoord.
Hulle verander van aanblik tot aanblik.
Vanaand nog het ek die son in sy hoogsomerse ondergang
die newels sien omkrans
en hoe hy Stellenboschberg
– half onder ’n vlieswolk – skrams vang
en sy kruine en spitse laat glans.
In ’n onderhoud met Andries Visagie sê Spies dat sy in hierdie gedig ‘’’reageer … op ’n vraag wat my al meermale gestel is, naamlik of ons as inwoners gewoond raak aan die berge om Stellenbosch. My ontkennende antwoord is dat dit ‘ongehoord’ is omdat hulle van aanblik tot aanblik verander en dan gee ek een so ’n vervlugtigende indruk van Stellenboschberg weer. Net deur die gedig bly die indruk behoue sodat dié gedig ook oor die bewarende aard van die woord gaan. Die opdrag ‘Vir Carin’ is tersaaklik, omdat dit ‘n ander bewonderaar by my ervaring betrek: een van die veles wat nooit gewoond raak aan die berge nie” (Visagie 2016).
Een van Lina Spies se gedigte, “Mite” is ook opgeneem in Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (Marais & Zuiderent 1997:32). In die onderhoud het Visagie (2016) – na aanleiding van die kwessie dat daar by die Tuin van Digters-fees in September 2016 gepraat is oor “die tradisie van natuurpoësie wat soms geneig is om die mens buite die natuur en die ekologie te posisioneer” (Visagie 2016) – Lina Spies gevra of daar voortaan eerder ekopoësie as natuurpoësie geskryf moet word. Sy meen egter dat daar nie aan digters voorgeskryf kan word waaroor hulle moet dig nie en “dink ons moet heeltemal wegdoen met die begrip ‘natuurgedig’ en is bly jy verwys na my ‘verse oor die natuur’ wat al nader is aan wat vir my ‘n ander perspektief is op die sogenaamde ‘natuurgedig’. Jy noem Timothy Morton se werk en spesifiek sy boek Ecology without Nature: Rethinking Environmental Aesthetics; ’n titel wat ’n estetiserende kyk op die natuur by die digter impliseer, terwyl die digter in ‘n gedig uitdrukking kan gee aan sy bewussyn van die onverbreekbare verbintenis tussen mens en natuur … Sonder bewussyn van die skoonheid van die natuur kan ek my skaars ‘n besorgdheid oor die mens se misbruik en vernietiging daarvan voorstel” (Visagie 2016). In Aarde na firmament (2022), Lina Spies se jongste bundel wat verskyn het, spreek sy haar dan ook in “Genesis” uit oor die vernietiging van die natuur deur die mens:
Daagliks staan ek op die aarde
met sy mak diere en sy plantegroei
en verlustig my in die skoonheid daarvan
maar soms moet ek my kop in die wolke kry
om my geloof te behou in die mens
as bewaarder en nie as plunderaar
van die heerlikheid van die geseënde
Godgegewe verbondenheid aan mekaar
van mens en dier en plant
om weer op aarde vas te staan.
Uit die voorafgaande bespreking blyk dit dus dat die natuur wel figureer in die poësie van hierdie twee vrouedigters. In beide Eybers en Spies se digkuns kan voorbeelde gevind word waar landskappe uitgebeeld word en albei is besorg oor die vernietiging van die natuur deur die mens. Hierdie besorgdheid kan volgens Spies slegs toegeskryf kan word aan ’n bewustheid van die natuur se skoonheid. Dit word ook duidelik dat die gedig ’n bewarende rol kan speel ten opsigte van die natuurdinge: in Elisabeth Eybers se “Sisteem” bly die spinnekop se web danksy die gedig bestaan; in Lina Spies se “Estetika” bly die indruk van Stellenboschberg só behoue.
Verwysings:
Botha, E. 1965. Praatjies: Suid-Afrikaanse skryfsters van die sestigerjare. Radio Suid-Afrika.
Claasen, C.J. 2012. Die stil avontuur: an evaluation of Hendrik Hofmeyr’s song-cycle with an emphasis on the poetry of Elisabeth Eybers. (Unpublished MA dissertation). University of Cape Town: Cape Town.
Du Plooy, H. 1991. “Elisabeth Eybers: die volgehoue ’edel spel’”, Literator 12(3), 59-69.
Eybers, E. 1978. Gedigte 1936 – 1958. Tafelberg: Kaapstad.
– 1978. Gedigte 1958 – 1973. Em. Querido’s Uitgeverij: Amsterdam.
– 1982. Bestand. Human & Rousseau: Kaapstad.
– 1994. Nuweling. Human & Rousseau: Kaapstad.
Hambidge, J. 1991. Eybers se poësie vroulik? Beeld 21 November 1991: 10-11.
– 2013. Woorde wat weeg: Lina Spies – Die skyn van tuiskoms (2010). <http://joanhambidge.blogspot.com/2013/01/lina-spies-die-skyn-van-tuiskoms.html>. Geraadpleeg 04.12.2022.
– 2017. Woorde wat weeg: Lina Spies – Sulamiet (2016). <http://joanhambidge.blogspot.com/2017/03/lina-spies-sulamiet-2016.html>. Geraadpleeg 04.12.2022.
Jansen, E. 1998. Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam. Amsterdam University Press: Amsterdam.tweede druk.
Kannemeyer, J.C. 1984. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I. Academica: Pretoria.
– 1990. Die Afrikaanse literatuur 1652 – 1987. Academica: Pretoria.
Luther, J., Pheiffer, F. & Gouws, R.H. 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT). Pearson Education South Africa: Pinelands.
Marais, J.L. & Zuiderent, A. 1997. Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing. J.L. van Schaik Akademies: Pretoria.
Opperman, D.J. 1962. Digters van Dertig. Nasionale Boekhandel: Kaapstad.
Schutte, S.E. 2004. Die uitbeelding van die dood in die digkuns van Elisabeth Eybers, Olga Kirsch en Eveleen Castelyn. (Ongepubliseerde D.Litt. et Phi.-verhandeling). Universiteit van Suid-Afrika: Pretoria.
Spies, L. 1971. Digby vergenoeg. Human & Rousseau: Kaapstad.
– 1976. Dagreis. Human & Rousseau: Kaapstad.
– 1995. Die enkel taak: die merkwaardige ooreenkoms tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson. Queillerie: Kaapstad.
– 1998. Die skaduwee van die son. Human & Rousseau: Kaapstad.
– 2006. “Die poësie van Elisabeth Eybers: ’n digerskap vaan sewentig jaar”, Tydskrif vir Letterkunde 43(2), 57-78.
– 2014. “Van weerloos tot weerbaar: Die Afrikaanse vrouedigter binne patriargale konteks.” HTS Teologiese Studies/Theological Studies 70(1), Art. #2771, 13 bladsye. <http://dx.doi.org/10.4102/hts.v70i1.2771>. Geraadpleeg 04.12.2022.
– 2016. Sulamiet. Naledi: Tygervallei.
– 2022. Aarde na firmament. Naledi: Gansbaai.
Terblanche, E. 2019. ATKV/Litnet-Skrywersalbum: Lina Spies (1939 -). <https://www.litnet.co.za/lina-spies-1939/>. Geraadpleeg 04.12.2022.
Van der Mescht, H. 2006. “’Musiek kan my teken’: klanke, voëlgeluide en musiek in die digkuns van Lina Spies”, Tydskrif vir Letterkunde 43(1), 122-140.
Visagie, A. 23 Oktober 2016. Onderhoud met Lina Spies (Sulamiet). <https://versindaba.co.za/2016/11/08/onderhoud-met-lina-spies-sulamiet/>. Geraadpleeg 04.12.2022.
