Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
19 August 202224 October 2022

Nini Bennett. Die surrealistiese verbeelding van die eenmalige Jeanne Goosen

 

 

 

Die Afrikaanse letterkunde het ’n lang geskiedenis van Christelike poësie – en ek gebruik die woord “Christelike” hier met groot omsigtigheid. Ná die verskyning van die antologie, Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte, saamgestel deur Cas Vos, het die polemiek oor wát Christelike poësie versus geestelike of religieuse poësie is, gelei tot die skryf van die volgende artikel deur Pieter Verster op LitNet Akademies: (https://www.litnet.co.za/n-ondersoek-na-christelike-digkuns-in-afrikaans-na-aanleiding-van-die-bloemlesing-die-mooiste-afrikaanse-christelike-gedigte-2017/?fbclid=IwAR3TJkuxocja0hsPzClaJ4bcseaDW-cPXP9SQ4Qy_DWihJLEYTEkblKIefQ)

Die koeël was deur die spreekwoordelike kerk. Alhoewel daar simplisties verwys kan word na Totius as ’n Calvinistiese digter, of aanvaar kan word dat die dominee-digters soos I.L. de Villiers of Cas Vos “Christelike gedigte” skryf, bly dié etikettering egter problematies wanneer daar na die groter korpus digters se werk gekyk word. Vos se Christelike versamelbundel het heelwat reaksie uitgelok by onder meer Tom Gouws, Daniel Hugo en Joan Hambidge. Gouws erken wel in sy resensie op Versindaba dat die samesteller ’n haas onmoontlike taak gehad het in die keuse van hierdie versamelbundel. Uiteindelik kom Verster, in sy LitNet Akademies-artikel tot die gevolgtrekking dat Christelike poësie ’n godvererende karakter moet hê:

Vanuit verskillende benaderings kan sekere riglyne verskaf word om te oorweeg of gedigte wel “Christelik” is. Die belangrike beginsels is dat die eer en heerlikheid van God in Christus Jesus voorop moet staan. Christelike gedigte behoort ten spyte van vertwyfeling en onsekerheid steeds vir Christus te verheerlik. Die antwoord aan God mag spreek van vertwyfeling en onsekerheid, maar dit is altyd ’n reis na en met God wat God in Jesus, God se Seun, openbaar. Die wonder van die woord verheerlik daarmee die Woord.

In hierdie blog wil ek die beskouing huldig dat die etikette “Christelik”, “religieus”, of “geestelik” inderdaad ’n netelige kwessie is; juis daarom wil ek dit vermy. Veral as ’n mens die poësie van ’n digter soos Jeanne Goosen ondersoek. Sy was ’n ewige rebel en femme fatale en beskryf haar buitestaanderskap in Het jy geweet ek kan toor? as volg: “Ek leef op die kantlyn / grotesk trots op my andersheid.” En elders: “Ek is die voël / wie se knieë / potsierlik / andersom / buig.”

Tog het Goosen van die mees evokatiewe verse met ’n Christelike inslag in Afrikaans geskryf. Durf ek dit so noem? Nee; dalk moet ek eerder die groter sambreelterm, “geestelike”, hier gebruik. Óf: dalk moet ek enige poging tot etikettering van Goosen se poësie vermy. In haar DLitt-proefskrif verwys Engelbrecht na Afrikaanse poësie en lirieke wat eienskappe van die panteïsme, panenteïsme en Nuwe Spiritualiteit toon. Inderdaad: soveel dae, soveel nuwe etikette om mee rekening te hou. Ondertussen het die uitbeelding van God en Jesus op die Internet en sosiale media aanleiding gegee tot ’n religieuse hiperrealiteit. Mense van alle Christelike denominasies, asook agnostici en ateïste het virtuele platforms gevind waar elk hulle eie hulle heil uitwerk. Daar is reeds studies onderneem in die uitbeelding van Christus op die sosiale media en gepaardgaande memes en spotprente. Wat voorop gestel word in hierdie kuns, is verbeelding en fantasie. Ook agnostici spreek hulle misnoeë uit oor die versuikerde, Eurosentriese Jesus-beelde wat so geredelik deur gebruikers se nuusvoer beweeg. Fundamentele Christene se debatvoering oor of die Internet ’n instrument in diens van God óf die Bose is, woed voort. In sy betoog vir die Internet as medium vir Godspraak kom Shane Hipps tot dié verstommende gevolgtrekking: “God wants to communicate with us and his media are many: angels, burning-bushes, stone-tablets, scrolls, talking donkeys, prophets, mighty-voices, still-whispers, and shapes traced in the dirt …. Any serious study of God is a study of communication.” En nóú is die Internet God se gekose medium van kommunikasie. Ons leef in vreemde tye: sommige mense verloor hulle geloof iewers langs die pad, maar die gees van wokeness neem toe. En wokeness het geen sin vir humor nie.

Teen hierdie agtergrond wil ek enkele gedigte van Goosen, wat oor ’n geestelike strekking beskik, bespreek. Goosen sou die laaste digter wees wat gedienstig sou wees met etikette. Joan Hambidge het haar poësie waarskynlik die beste opgesom in haar resensie oor Elders aan diens (2007): “Dit [die gedigte] werk met die massiewe surrealistiese verbeelding van die eenmalige Jeanne Goosen.” Ek gaan nie Goosen se verse verswaar in ’n poging tot kategorisering nie. Wat wel opval, is die eindelose deernis wat die digter met die menslike kondisie het; en dat die nihilisme in haar werk in wese ’n noodkreet tot God is.

Afrikaanse digters en liriekskrywers het verskillende – en innoverende – uitbeeldings van die nalewe, die hemel, asook die hemelpoorte. Lina Spies se bundel, Hiermaals (1992) is ’n loflied oor die hier en die nou van aardse dinge; die hemel op aarde met sy sinspeling op hiernamaals. ’n Mens dink ook aan gedigte van Cas Vos, die meer fundamenteel-Christelike siening van die hemel, “Aankoms” (Gode van papier, 2001), of Tom Gouws se gedig, “visioen van thomas op patmos” (Ligloop, 2010) wat oor ’n virtuele hemel handel en na aanleiding van ’n IBM-advertensie geskryf is. In Satan ter sprake (2004) skryf M.M. Walters vreesloos en satiries téén Christelike taboes in.

Vervolgens ’n gedig deur Jeanne Goosen, gebore uit verbeelding en geklee in ’n fantasieryke stemming:

 

Bibberende Piet


Here
U wat die aarde met die holtes van U hande uitgemeet het
U wat die gewig van elke woord meet — omdat die massa U traak
U wat die skepping in ses dae deurgepyn het
Ek vra vir ’n oomblik U aandag:
Het U nie dalk my pa gesien nie?
En ken U hom?
Hy stap mank en lyk nog goed vir sy jare
Die begrafniskunstenaar het hom mooi gemaak vir U poorte
Sy mond en wange bloei soos jong rose
En hy dra ’n wit jurk
Here, en miskien ruik hy nog effens na gas
Maar U sal hom ken aan sy oë
Dié het hul blou vrae behou

Luister U, Here? En mag ek klaar praat?
Daar is nog ’n paar vrae ook wat ek wil vra:
U sê geen haar sal van die mens se hoof val nie
Of U weet daarvan: Dat U oral is en ewig
Dan het U mos gesien hy drink die soet gas van verlossing;
Dan was U mos dáár toe die diewe sy lyk besteel het;
En U het nie ’n vinger gelig nie Here Vader van die diewe
Die blare, die vuur en die slagvelde
Is dit U opdrag dat U herder hom nie moet begrawe nie
Omdat hy nooit tuis in U huis gevoel het nie?
Is dit U wat hom 11 dae in die vrieskas laat lê het?
Wou U dat die vrees naak en sidderend en gestol moes bly
Of wou U hom witter was as wol?
Here,
U wat oordeel uitspreek en verdoem
U wat trooswoorde gee en hulle ook weer wegneem

Beloof my
As Bibberende Piet by U aandoen
Maak U genade aan hom duidelik — en ook U soort apartheid

 

Bibberende Piet is die spreker se pa, maar Bibberende Piet is ook ’n gevestigde en herhalende personasie in Goosen se oeuvre. Dié vaderfiguur word in verskeie prosatekste en poësie verbeeld as ’n eksentrieke man met geestesversteurings en vreemde stokperdjies, maar in alle gevalle sterf Bibberende Piet uiteindelik aan selfdood. In bogenoemde gedig konfronteer die spreker God oor haar vader nadat hy inderdaad oorlede is aan vergassing (selfdood). Die spreker se kwelvrae steier oor die grense van ambivalensie; om Hambidge aan te haal: “Die gedigte beweeg oor gevaarlike afgronde heen – maar stort nooit na benede nie.” Hierdie vers is ’n desperate poging van die spreker om met God te kommunikeer, en sy val haarself ook kort-kort in die rede. Woede en wanhoop word op eg menslike wyse in hierdie gebed verbeeld – asook die spreker se vrees vir “U soort apartheid” – die fundamentalistiese beskouing dat mense wat sterf aan eie hand, nie hemel toe gaan nie, maar ook: “Is dit U opdrag dat U herder hom nie moet begrawe nie /
Omdat hy nooit tuis in U huis gevoel het nie?” Die spreker worstel met vertwyfeling en bitterheid omdat die kerk, waarvan haar vader ’n lidmaat was, hom nie wou begrawe nie.

Die volgende gedig is ’n toespeling op Wilma Stockenström se gedig, “Ecce Homo”, waar die mens as vernaamdoener uitgebeeld word.

 

By Corpernicus leen ek ’n slim slypglas

en loer by die luik van die hemel in

Kepler speel met sy spieëls

en baljaar tussen die mane van Uranus

En daar is die Meester ook

met sy boskasie vol skoenlappers

Hy is besig

Hy brou ’n nuwe skepsel

’n ding —

iets tussen ’n komieklike insek

en ’n wollerige knaagdier

Uit papyrus kry dit twee vlerke

wat hy met spuug aan die krom skouers vasplak

Hy brand ook sy voorletters daarop uit

Want dit is sý eiendom, sý maaksel

Maar wysig God altyd wys?

want kyk:

Hy pas twee OK Bazaarsloffies aan die pootjies

en met haakspelde

speld hy ’n voorskoot aan die lyf vas

God staan terug

peins

sê nadenkend vir sy engel:

Sy sal op kruie wei en ’n soet reuk versprei

en ek sal haar nie aarde toe stuur nie

maar ’n woning in die hemel gee

Voorts pluis God watte uit die wolk

weef ’n tweevertrek-kokon

en betig wind en weer

om hulle plek ten alle tye te ken

En dan druk God sy skepsel teen sy bors

lig die snaakse gesiggie na hom

en plaas sy mond op hare

God blaas

en die vlerke roer in die bries

Ek huil van vreugde uit die twee riviere van my oë

want op aarde het my ma min gehad

 

Die vers hierbo is nog ’n voorbeeld se Goosen se digterlike beskouing van die hemel en die verbeeldingryke en ongewone kartering van die nalewe. Die spreker se moeder is, soos die gemelde vaderfiguur, ook ’n gevestigde personasie is Goosen se oeuvre; in hierdie gedig is sy “herkenbaar” aan die OK Bazaarsloffies na analogie van die werkersklasmoeder in Goosen se novelles, kortverhale en poësie.

Dié onderstaande gedig is vir die eerste maal in Junie 2009 in die Sondagkoerant Rapport gepubliseer, ’n vers wat aanleiding gegee het tot hewige polemiek onder die lesers omdat die betrokke gedig as oneerbiedig bestempel is.

 

Let it be

Ek sit op die stoep. Die aand kom af
Die driepootbrak huppel huiswaarts
Christus kom sit aan met sy vuil voete
en geblowavede hare
Hy breek die brood. Ek is moeg, sê hy
en ek bring vir hom ’n skottel water vir sy voete
Hy skop sy sloffies eenkant
Niks is meer heilig nie, sê hy
Hulle ploeg nou atoomafval in mý woestyn
Let it be, sê ek. Let it be en ek skink sy glas vol wyn
Sorry, sê ek, maar Tassenberg is al wat ek het
By the way, jy’s reg niks is meer heilig nie en dit maak my sad
Hoe voel jy, vra die meester. Hoe voel jy regtig?
Ek lag. Wil jy regtig weet
Praat met my, sê hy. Hoe voel jy regtig?
Wat kan ek tog sê. Alles is in sy moer
Dit help nie om ’n woord daaroor te tjank nie
laat staan nog bid. Ek meen
my broer se as is in ’n fles somewhere in Stikland
hy stamel sonder klinkers maar ek kop wat hy probeer sê
Let it be, sê die meester. Let it be al huil jy bloed
Die oordeelsdag kom ook en my pa slaap nie
Ek kop, sê ek. Ek kop alles
maar soms verlang ek na die ou dinge
soos die mooi droewe woorde van jou daddy
Goed soos regverdigheid en ewigheid en geluk
Ja, sê die meester, dis ’n lang wag maar hy sal sy woord hou
Ek maak ons glase weer vol
Sorry weer ’n keer, maar Tassenberg is al wat ek het
en waar dit vandaan kom is daar nog baie
so moenie skaam wees nie
Cheers
Daar’s baie dinge waaroor ’n mens jou ook kan verheug, sê die messias
maar los dit vir eers
Sit daar vir ons ’n song op, vra hy
Ek doen
Somewhere over the rainbow sing Judy Garland
Ek breek ’n stuk brood en voer die meester
’n Mens moet eet ook, sê ek
and that is no bloody maybe
Soms is ek bang vir jou ou dad, sê ek
hy stuur reën maar ook goed soos droogte wat diere laat vrek
Let it be, let it be, sê die messias
Eintlik verdien aardlinge niks. Maar daar is goeie goed ook
Vat nou vir Judy Garland, sy’s tog meer as reën of droogte
Selfs een soos daai ou Patience Strong
wat sy soms tussen die lyne kwytraak
Many a true word is spoken in jest
Maar dis julle klomp, julle wat niks met rus kan laat nie
wat van die wêreld so omgekrapte onheilige plek maak
Dis julle, you must let things be, you must let it be, let it be!
Dis net, sê die meester, dis net . . .
Ag, nou weet ek ook nie meer wat ek wou sê nie
Is daar nog Tassies?

 

Die titel van die gedig is gegrond op die Beatles-lied van 1969, “Let it be” waarin die spreker vertroosting in moeilike tye by Maria, die moeder van Jesus, gaan soek: “When I find myself in times of trouble / Mother Mary comes to me / speaking words of wisdom / let it be // And in my hour of darkness / she is standing right in front of me / speaking words of wisdom / let it be […].”

Dit is verstommend hoe ruig (of ryk) die stoffering van Goosen se gedigte is. In dié vers spreek Jesus Sy kommer uit oor ekologiese kwessies. “Niks is meer heilig nie, sê hy / Hulle ploeg nou atoomafval in mý woestyn.” (Die begrip “woestyn” in hierdie gedig het egter ’n gelaaide betekenis en Jesus se versoeking in die woestyn (Matteus 4) kom voor die oog.) Die verwysing na “niks is meer heilig nie” word ironies óók ’n debunking van religieuse valsheid en heilige koeie deur die spreker self, wat ’n gesprek met Jesus, wat in ’n humanistiese gedaante verbeeld word, voer. Alhoewel hierdie gedig baie fundamentalistiese Christen-lesers omgekrap het, het Englbrecht in haar DLitt-proefskrif, Bybelse intertekste in resente Afrikaanse gedigte en lirieke, met spesifieke verwysing na identiteitsformasies in die (post)postmoderniteit bevind dat die gedig nie oneerbiedig is nie.

Dit sou met die eerste gewaarwording dalk vreemd wees om Goosen se werk met dié van geestelike poësie te versoen. Tog, met verdere nabetragting is dit dalk wel die geval. Hierdie gedigte is aweregs en intens; turbulent en soekend. Dit verbeeld die stem van die gekwelde buitestander sowel as die van die gewone mens wat wanhopig poog om sin te maak uit geloof – en die gedigte is brutaal eerlik, soos Goosen altyd was. Die digter lewer inderdaad ’n unieke bydrae tot geestelike poësie.

Jeanne Goosen se verse herinner aan praatpoësie wat vra om voorgelees en gehoor te word. Klik gerus op die volgende skakels: 26 Jeanne Goosen gedigte gelees deur Nicole Holm. YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=O9nIPl15s-I asook: Die hemel se hekke – Chris van Niekerk lees Jeanne Goosen poësie. YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=SennBaIqEc8

Verwysings:

 

Engelbrecht, G.C. 2012. Bybelse intertekste in resente Afrikaanse gedigte en lirieke, met spesifieke verwysing na identiteitsformasies in die (post)postmoderniteit. DLitt-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

Digital, P. 13 Maart 2019. God on the web – does God care about media?  https://www.premierdigital.info/post/god-on-the-web-does-god-care-about-media?fbclid=IwAR319xxJlKqfBc8z-0UJM_JKHDQmdy-g-v8GO5GrPUYroxlF8uKA3UBsud8 (15 Augustus 2022 besoek)

Goosen, J. 2007. Elders aan diens. Bloubergrandt: Genugtig! Uitgewers.

Hambidge, J. Resensie. Jeanne Goosen: Het jy geweet ek kan toor? (2020). Woorde wat weeg. https://joanhambidge.blogspot.com/2020/03/resensie-jeanne-goosen-het-jy-geweet-ek.html?m=1&fbclid=IwAR2KRHTBDQTxNPC1pcfAg6Y48JKrH4QVE1OgWRzJ3aQTORi3j4Jp3OHHp1Q (16 Augustus 2022 besoek)

Hambidge, J. Resensie. Elders aan diens (2007). Woorde wat weeg. https://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/jeanne-goosen-elders-aan-diens-2007.html?m=1&fbclid=IwAR1fFHkdSRx4HiIichS8JBgahYfbF6afAxSHpEkCo8LAERwRKivWkfTtNso (14 Augustus 2022 besoek)

Verster, P. 2020-06-11. ’n Ondersoek na Christelike digkuns in Afrikaans na aanleiding van die bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017). LitNet Akademies Jaargang 17(2). https://www.litnet.co.za/n-ondersoek-na-christelike-digkuns-in-afrikaans-na-aanleiding-van-die-bloemlesing-die-mooiste-afrikaanse-christelike-gedigte-2017/?fbclid=IwAR3TJkuxocja0hsPzClaJ4bcseaDW-cPXP9SQ4Qy_DWihJLEYTEkblKIefQ (15 Augustus 2022 besoek)

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Hoe lees ons?
Joan Hambidge. Vertaling →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies
  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Stephan du Toit. Moed

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Eerste sneeu
  • johan swanepoel. tafel vir een
  • Resensie: Steierwerk  deur Johan Myburgh
  • AVBOB Persverklaring
  • Wat lees jy? Living the ultimate carnivore lifestyle (Hendrik Marais)

Nuutste kommentaar

  1. Joan Hambidge on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges11 August 2026

    Dank. Albei is wonderbaarlike digters. Ek lees nou weer die hele Cussons en hoe sy Neruda en Borges vir ons…

  2. Mirinda on Krige Visser. lykskou10 August 2026

    Iets wat mens nooit sal vergeet nie....veral wanneer so jonk en sensitief...en die reuke sal mens altyd bybly...

  3. Eugene Vorster on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges10 August 2026

    Beste Professor Hambidge, baie dankie vir hierdie boeiende artikel. Dit inspireer ‘n mens om verder oor Borges & Cussons te…

  4. Dr PS Swathe on Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet)6 August 2026

    Naledi, wat het hier gebeur ??

  5. Hester Steenkamp on Digtersprofiel: Melt Myburgh3 August 2026

    Oewerbestaan is een van my kosbaarste besittings. Die bundel lê my baie na aan die hart.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d