Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
7 January 20238 January 2023

Resensie: “Huis van tyd” (Melanie Grobler)

 

 

 

 

Resensie: Huis van tyd deur Melanie Grobler. Imprimatur, 2022.

Resensent: Neil Cochrane

 

Die jongste digbundel van Melanie Grobler bestaan uit 13 afdelings. Dit is ʼn lywige bundel waarin ʼn aantal temas aan bod kom: verganklikheid, kunstenaarskap, die liefde, liggaamlike en geestelike aftakeling en gesprekke asook sterwendes en afgestorwenes.

ʼn Magiese en surrealistiese atmosfeer is te bespeur in die bundel en die meeste gedigte beskik oor ʼn spirituele dimensie waarin ʼn strewe na die sublieme voorkom. Meermale herinner die gedigte aan visioene, drome en hallusinasies waarin hermetiese beelde volop is – woordskilderye wat wegskram van klinkklare betekenis. ʼn Melancholiese en elegiese toon is deurlopend aanwesig.

Die bundeltitel verwys na ʼn konkrete plekspesifieke kunswerk in die Karoo naamlik die Huis van Tyd (sien die voorplat) wat deel vorm van die doekvoetgedenkpad wat in 2017 op die been gebring is deur die kunstenaars Anni Snyman en PC Janse van Rensburg. Die doekvoetgedenkpad is ʼn geoglief om bewustheid te skep vir die bewaring van die oewerkonyn –ʼn endemiese dog krities bedreigde spesie van die streek. Die Huis van Tyd was eens ʼn slagtershuis wat nou dien as ʼn inligtingsentrum. Verskeie kunstenaars is toegelaat om op die mure van die huis te skilder en kalligrafiewerk deur Andrew van der Merwe verskyn ook op die mure van die huis.

Die Huis van Tyd-motief word op verskeie maniere in die openingsafdeling geaktiveer. Dit sluit nou aan by die temas van verganklikheid en verlies wat in meeste gedigte in dié afdeling ter sprake kom. Die slotstrofe van “Nogmaals motte” dien as ʼn goeie voorbeeld:

 

Uit verlies en duisternis val beeltenisse

soos pere uit die boom van herinneringe

en word die towerproses gesluit.

 

Die bundel bevat heelwat landskapsverse wat onder meer fokus op landskappe van die Karoo, Katalonië en Algerië. In verskeie gedigte tree die spreker in gesprek met ander kunstenaarsfigure soos Degas, Max Richter en Arvo Pärt. Sommige gedigte soos “Spierwit lakens”(34) en “Die voëltjieroeper” (35) handel oor die digproses wat meermale aan die magiese gelykgestel word.

“Sjamaansterre” (57) is ʼn pragtige liefdesgedig waarin die spreker seisoen-en natuurbeelde vernuftig ontgin om ʼn intieme liefdesverhouding uit te beeld. Die keuse van die koepletvorm om die nabyheid van die twee geliefdes aan te toon is uiters funksioneel. Die uiteindelike slotsom waartoe die spreker kom, sluit goed aan by die voorafgaande beelde en is besonder treffend:

 

Ek leef alleen in die woning van ons liefde,

Huisvrou van die somer, want die blare

Van die herfs het stil tot rus gekom.

 

Vir my is die beste gedigte in die bundel dié wat handel oor siekte, liggaamlike aftakeling weens ouderdom en die spreker se sinmaking van verlies. In dié opsig kan die gedigte in die afdelings “Gedagtes van ʼn ou man”, “Boetie, Ouboet, Boeta, Broertjie” en “Die storm in haar arms” uitgesonder word. Ouderdom, siekte en liggaamlike agteruitgang is vanaf die millenniumwending prominente temas in die Afrikaanse poësie (Viljoen, 2011:26-30) en Grobler se jongste digbundel is ʼn duidelike bewys dat hierdie temas steeds ʼn pertinente rol speel. Grobler slaag daarin om die liggaamlike belewing van die oudwordproses deur verrassende beelde en jukstaposisies te verwoord. ʼn Roerende gedig oor ouderdom en die sterwensproses van die moederfiguur is “Skuifeldans” (101). Dit is veral die slim vervlegting tussen die moeder se tanende reaksies en die insekbeelde in die tweede strofe wat opval:

 

Tydens die siësta van insekte

knip sy haar wimpers

en as die namiddaglig op haar val,

vind sy ʼn netjiese hopie sprinkane

wat ʼn ekspedisie agtergelaat het,

ʼn bietjie veldkos, vlesige bessies

en twee eiertjies om dadelik te eet.

 

ʼn Verdere hoogtepunt wat ek wil uitsonder is “Plaasaanval” (48). Dit is opvallend dat al hoe meer Afrikaanse digters op dié aktuele onderwerp reageer. Onlangs het Johan Myburg ook ʼn onthutsende gedig hieroor in Narreskip (2022) gepubliseer. Die Grobler-gedig fokus egter minder op sosiale kommentaar en lê groter klem op skerp kontraste tussen verlede en hede asook tussen die gewelddadige aardse bestaan en die bevrydende dog misterieuse hiernamaals.

Daar is ʼn aantal klein hindernisse in die bundel. Die ooraanbod adjektiewe en alliterasie in byvoorbeeld “Sodat die hart kan sing”(46) is steurend. Ek sou plek-plek meer gestroopte verse verkies het – gedigte wat minder neig na gedwonge poëtiese uitdrukking en mooiskrywery. Die slotreëls uit “Degas” (67) is nog ʼn voorbeeld van adjektiefkoors en lastige alliterasie wat deur strenger besnoeiing miskien ʼn kragtiger impak sou hê (is voshare nie altyd rooi nie?):

 

[…] die onsterflike

siel vloei en trek terug; ʼn golf breek as die sug

van branders oor die winderige wit sand spoel.

Rooi voshare weerkaats ʼn wond op die maan.

 

In sommige gedigte soos “Katedraal van bome” (71) is die gebruik van disparate en onsamehangende beelde opvallend. Hierbenewens is die beeldgebruik soms obskuur – “In koninklike stilte/bereik die sneeuwit reier/ongemerk die nirvana/van sy eie leegheid”. Maak hierdie beeld hoegenaamd sin? Behels nirvana nie op sigself leegheid nie? Hoe kan die reier dan ʼn verdere leegheid bereik?

Ek vind ook die herhaling van woorde soos “magiese”, “ikoon” en “sjamaan” onnodig. Is daar nie alternatiewe in die tesourus beskikbaar nie?

Imprimatur Uitgewers verdien ʼn pluimpie vir die keurige versorging van die bundel. Dié uitgewery begin om ʼn goeie bydrae te lewer tot die bevordering van die Afrikaanse digkuns – iets wat in hierdie onstuimige tye verwelkom moet word. Resente bundels uit die Imprimatur-stal sluit onder meer die volgende in: Veldboek (2020) van Johann Lodewyk Marais, Konfessies, kaarte en konterfeitsels (2021) van Joan Hambidge, Heenkoms (2021) van Meyer van Rensburg en Skeletaal (2022) van Franco Colin.

Grobler se vierde bundel beskik oor ʼn aantal uitstekende verse waarmee sy haar digterlike stem herbevestig. Sy neem waar met die oë van die visuele kunstenaar en beskik oor die vermoë om haar gewaarwordinge in oortuigende woordkuns te omskep.

 

Bronnelys

Viljoen, L. 2011. Of Chisels and Jackhammers: Afrikaans Poetry, 2000-2009. Current Writing: Text and Reception in Southern Africa, 23 (10):17-34. DOI: https://doi.org/10.1080/1013929X.2011.572341

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Nuwe Bundel. Melanie Grobler: Huis van tyd
Nuwe Bundel. Christiaan Diedericks en Melanie Grobler: Vlindervreter →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d