NAAK
stoksiel alleen lê sy in die staatshospitaal
sonder kind of kraai
stilte stilswyend dawerend daar
die steke op haar kop verraai haar lot
naak oopgevlek, uitgeteer
haar borste uitgestal
tepels pap sonder stamina
vir iedereen onbeperk om te aanskou
lees, lees die steke op haar skedel
hulle is die drukletters van haar verhaal
vir die neuroloog was die gewas ‘n prosedure,
vir haar was die ingreep
‘n vrymaking uit die nood
en dalk, dalk net die uitstel van die ure
waarin sy die voetstappe sou hoor
en sou weet:
hy wat na my toe aankom,
se naam is die Dood
naak lê sy in die staatshospitaal
klere van haar lyf gestroop
beddegoed lankal weggedra
naak het sy in die lewe gekom
naak eindig haar verhaal
© Hennie Maartens, 2023