Pas de deux
vir Roelf
Al besit ek Starbucks
op alle lughawens en winkelsentrums
bruis alle riviere met warm sjokolade
en ravyne vul op met miljoenêrspasta
sal jy my nooit weer vergesel
en proe jou gunstelinge na niks.
Al slaap ek elke nag
met nog ʼn man of tien tegelyk,
stort liters ilang-ilang-olie van planeetwye
Body Shops oor die menigte uit,
maar jy haal nie asem langs my
en kan ek jou nie aanraak
laat dit my koud
ʼn stuk pynende vlees
sonder enige liefde.
Al bly Bach se korale oor en oor speel
en draai ek die volumeknop morsaf
skree encores vir Malek se“Two men in love”
val dit op dowe ore
al staan ek toejuigend en pointe
tot my tone bloei
sal gays steeds sterf in nagklubs
van smeulende geweld
al prewel ek Psalm 16 soos ʼn heilige
hoog op iets
sal jy nie weer
my op jou lippe neem
of aan my skuilplek bied.
Maar nou
is ek klaar met die dinge van ’n kankerpasiënt.
kyk nie meer vas in bottels morfien,
pynplakkers en stomasakkies
soek nie meer na doeke op uitverkoping.
Uiteindelik het ek
geloof, hoop en liefde gesien
soos dit werklik is.
en ken ek ten volle
die grootste van almal:
metastatiese verlies.
© Neil Cochrane, 2023

Ai, so verwronge
Genade Liewe Neil!
Hierdie gedig sny diep,
laat my hart vinniger klop,
my oë opwel met trane,
en skakel die skakelaar van gedeelde ervaring aan.
Dankie!, dat jy dapper én met siel, dit so met lesers deel.
Ek onthou veral Keerboomstrand, 2009… daarna het die koers van ons lewens verander)
Liefdegroete, jou vriend Rudi
Hierdie vers laat die leser stom en verslae.