
Jeanne Goosen (13 Julie 1938 – 3 Junie 2020), gebore in Parrow, Kaapstad, was ’n veelsydige, bekroonde en kontroversiële Suid-Afrikaanse joernalis, digter en skrywer.
Sy begin op jong ouderdom met klavier en klarinet en kry later formele musiekonderrig aan die Rondebosch School of Music. Na skool ontvang Goosen ’n beurs van die Universiteit van Kaapstad waar sy radiografie en drama studeer. Goosen beoefen gedurende haar lewe ’n verskeidenheid beroepe waarvan o.a. kunsredakteur by die destydse koerant Hoofstad in Pretoria en joernalis by die Oggendblad, Tempo en Die Transvaler, bibliotekaris by die Vloot, radiografiste, stoorkamerwerker, vertaler, sitrusboer by Hartebeeshoek, kleuterskoolonderwyseres, visser aan die Weskus, smous, afslaer, en voltydse skrywer.
In 1971 debuteer Goosen met die digbundel ’n Uil vlieg weg. Daarna verskyn Orrelpunte in 1975. Hierna verskyn verskeie dramatekste en romans uit haar pen. Haar laaste digbundel Elders aan diens het in 2007 by Genugtig! Uitgewers verskyn.
Haar verse word opgeneem in talle versamelbundels, waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, Die dye trek die dye aan, Liggaamlose taal, Woordpaljas, Die goue vreugde, Voorspraak en die Versindaba bundels wat jaarliks na hierdie fees uitgegee word. In 2020 word van haar gedigte ook in Vers en vrou opgeneem.
Goosen het veertien boeke geskryf, wat poësie, essays, prosa en drama insluit. Sy het onder meer die volgende pryse gekry vir skeppende werk: Die M-Net en Rapportprys vir prosa, die Rapportprys vir drama, die CNA-prys vir prosa, ’n KKNK-toekenning vir skeppende Afrikaans en Athol Fugard se Helen Martens Fellowship.
Lees gerus ’n meer in diepte biografie oor Jeanne Goosen op LitNet:
https://www.litnet.co.za/jeanne-goosen-1938/
![]()
[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.
Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com]
