
Tom Gouws (1961-2018) is ’n wiskundige, letterkundige, onderwysspesialis, skrywer, bekroonde dramaturg en digter. Hy is gebore op Mafikeng waar hy dan ook in 1979 aan die Hoërskool Mafikeng matrikuleer. Hy behaal sy B.A.-graad met hoofvakke Afrikaans-Nederlands, Wiskunde en Algemene Taal- en Literatuurwetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in 1982.
Hy doseer aan die Universiteit van Potchefstroom, ook dié se Vaaldriehoekkampus, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Noord-Wes (as waarnemende visekanselier en rektor) en die Graduate Academy of Southern Africa (as kanselier). Hy was aan die stuur van ElijahAfrica, ’n internasionele bedieningsnetwerk. Verder lewer hy ook ‘n beduidende bydrae tot die Afrikaanse letterkunde met sy werk as samesteller, medewerker en resensent.
Gouws se gedigte verskyn in tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde. Hy maak sy debuut met die digbundel Diaspora (1990) wat in dieselfde jaar genomineer word vir die Rapportprys. Daarna verskyn Troglodiet (1995), Syspoor (2002), Ligloop (2010) en Stigmata (2012). Ligloop word in 2011 met die ATKV-veertjie vir poësie bekroon en was ook op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg-prys.
Sy gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte, Honderd jaar later en Die dye trek die dye aan.
Gouws skryf ook verskeie dramas. Nag van die lang messe word in 2005 met die Nagtegaalprys vir nuut geskrewe dramas bekroon.
Tom Gouws is in 2018 op 25 Julie vermoor op sy kleinhoewe buite Pretoria. Versindaba betreur hierdie tragiese en sinnelose gebeure.
Lees gerus ’n meer in diepte biografie oor Tom Gouws op LitNet:
https://www.litnet.co.za/tom-gouws-1961-2018/
![]()
[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.
Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com]
