LEROUX OP ONRUS
1989
Januarie het ek, John en Marcel
ná ’n reis deur die Vrystaat en Karoo
op Onrus – “die olifantbegraafplaas
van die Afrikaanse letterkunde” –
besoek gebring aan Etienne Leroux,
of Stephen, soos vriende hom kon noem.
In die sitkamer van die wit strandhuis
wag ons by Elizabeth, sy vrou, tot hy
ná sy middagrus die houttrap opkom:
stadig soos ’n ou man beweeg, kug,
met die handsak van Mykonos by hom,
hand gee en in die leuningstoel gaan sit –
in swart geklee, verskuil agter sy bril.
Ons sit en gesels tot die son gloeiend
oor strandhuise, melkhoute en die see
sak. Voor die skyf die see raak, leun hy
ver oor die balkon se reling, kyk
of hy die flits kan sien wanneer die son
se laaste punt in die see verdwyn;
die flits wat hy al drié keer gesien het,
maar nie elke Jan Rabie en sy maat
sien nie, al kyk hulle ook hóé getrou.
Laataand gesels hy voort oor die jonges
en die Gilde. Stephen is sensuurdol,
’n man van min woorde, byna duister.
Toe ek gaan lê, is Marcel in droomland
weg van sy Vlaanderland, sy platteland.
Die volgende oggend kiek ek Stephen
sekuur met my Minolta XD7
voor “Onse Hymie”: eers drie maal alleen,
dan met John en Marcel, en al drie saam.
By Jan kiek ek verder: hy en Marjorie,
vir Stephen met die groep, as hy ook kom
van onder die olyfboom, waar hy stil
en kolossaal alles gadeslaan.
’n Week later verskyn in Bellville
’n film deurskynend uit die ontwikkelaar.
Daar is dus geen fotografiese rekord
van die João van die roman nie.
Dit kan ek net swart op wit opskryf.
© Johann Lodewyk Marais, 2023