“In Pas” deur Karel Prinsloo het in 2023 by Naledi verskyn
Vyf jaar gelede, in 2018, was dit my voorreg om in die Atterbury-teater dr. Karel Prinsloo se tweede digbundel, Slimfoonflitse, bekend te stel. Dié dag was ’n feestelike geleentheid waaraan veral Helena Hettema met haar sang en toonsettings van gedigte uit die bundel luister verleen het.
Ek herinner my dat ek daardie dag agter die gordyn in die teater die wens uitgespreek het dat ons oor vyf jaar weer bymekaar sal kom om dr. Prinsloo se volgende bundel te vier. My wens is nie uit die lug gegryp nie en natuurlik word wense en drome dikwels waar.
Mylpaalverjaardae word meermale aan die verwisseling van dekades gekoppel, dit wil sê iemand se 50ste, 60ste, 70ste, 80ste, 90ste en selfs 100ste verjaardag. Soos wat mense se gryskrag al sterker en hulle/ons al ouer word, sal ons ongetwyfeld in die toekoms ook iemand se 110de verjaardag vier. Dit is ’n goeie gebruik, wat sowel die jubilaris as dié wat aan die vieringe deelneem die geleentheid tot besinning gee. En volgens die groot Duitse filosoof Martin Heidegger is nadenke oor iets ’n manier om te onthou en dankie te sê.
*
Voor ek, soos vyf jaar gelede, oor die jubilaris se veelsydige en ryk lewe ’n een en ander sê, wil ek graag ʼn herinnering met u deel wat my terugvoer na my eerste dae by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN).
In 1983 (vanjaar nie minder nie as 40 jaar gelede!) is ek as navorser by die RGN aangestel. Dr. Prinsloo was toe die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Taal, Lettere en Kuns (INTAK), en was toe reeds ’n gesoute Springbokkop-wolklasseerder en dosent. INTAK self het sy oorsprong in P.J. Nienaber se Dokumentasiesentrum vir Afrikaans gehad. Dr. Prinsloo se onmiddellike voorgangers was die ewe gedugte P.G. du Plessis en Pirow Bekker.
’n Jaar of twee ná my aanstelling het P.G. du Plessis besoek by INTAK afgelê om weer van sy oud-kollegas te sien – heel raar weliswaar, want ek het oor die jare selde beleef dat bestuurders na hulle vorige domeine terugkeer.
Du Plessis se eerste drama het in die 1960’s verskyn en hy was in die 1980’s een van die bekende Sestigers. Om ’n Sestiger te wees, was om ’n besondere eretitel aan die bors te dra. Die sogenaamde “Tagtigers” van my era van jong skrywers het ’n betreklik onseker begin gehad en nie juis veel waarde aan so ’n beskrywing van die generasie geheg nie. Daarom dálk was P.G. se vlymskerp opmerking nie té venynig nie, naamlik “Dalk is daar hoop vir negentig!” Intussen het negentig gekom en gegaan. Ek het sedertdien wel ’n sestiger en dr. Prinsloo ’n tagtiger geword!
Intussen het die wêreld om ons ingrypend verander en moes almal van ons leer om by veranderde omstandighede aan te pas. Ná die RGN was daar vir dr. Prinsloo nog ’n lewe: Hy het voortgegaan om netwerke te skep en sy stempel af te druk as uitvoerende direkteur van die Stigting vir Afrikaans, wat as mondstuk Afrikaans Vandag gepubliseer het. Maar die oprigting van die tweemaandelikse tweetalige raktydskrif Plus 50, wat wyd in Suid-Afrika en Namibië versprei word, onder sy hoofredakteurskap en sy betrokkenheid as uitvoerende vervaardiger van die TV-reeks op kykNET, “Met ’n huppel in die stap”, is van sy grootste en volhoubaarste prestasies. Hoe ook al, vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans verdien dr. Prinsloo geruime tyd reeds ’n bekroning deur die hoogste instansies.
Die jubilaris se betrokkenheid by die ouerwordende deel van die samelewing het hand oor hand gegroei. As die voorsitter van GrysKrag, ’n landwye vereniging vir die bevordering van die belange van soms vergete en gemarginaliseerde bydraes wat die beleë deel van die samelewing bied, help hy om groter erkenning aan die behoeftes van hierdie gemeenskap te gee. En intussen “dig hy tussendeur vir [glo!] sy plesier”.
*
Dr. Prinsloo se eerste bundel, Tussen grensligte, het in 1990 by Human & Rousseau verskyn. Om by dié uitgewer te debuteer, is as ’n bevestiging van meriete en gehalte beskou. Die bekendstelling van die bundel, met ’n treffende kunswerk van Wendy Malan op die voorplat, het in die eertydse Pierneef-museum in Vermeulenstraat (tans Madibastraat) plaasgevind. Prof. Elize Botha, een van dr. Prinsloo se dosente aan die Universiteit van Pretoria, het die rede gevoer. In dié bundel het veral die spanning tussen natuur en kultuur voorop gestaan.
In dr. Prinsloo se tweede bundel, Slimfoonflitse, van 2018 was daar weerklanke van sy ervarings en bestekopname as navorser, bestuurder, kundige op verskeie terreine en die mens. Minette van Rooyen se voorplat van die bundel het ʼn blik gebied op die suidwestelike horison van Pretoria waar die son ondergaan. Die lewe in hierdie stad kry baie aandag en daar is in die gedigte baie mense wat lyding, ontheemding of ontnugtering trotseer. Vyf jaar gelede het ek oor dié histories bewuste bundel die volgende gesê:
“Dié gedigte of flitste fokus op berg en stad, aktuele kwessies, familie-intriges en -figure, en die hedendaagse mens wat teen wil en dank in ʼn globale wêreld leef waar kontak met kinders en kleinkinders ‘oor die aarde’ grootliks deur sosiale media geskied […].”
Tussen 2018 en 2023 het sowel die globale as die plaaslike wêreld waaroor dr. Prinsloo in In pas, sy derde digbundel, skryf ingrypend verander en byna onoorsigtelik geword. In hierdie tydsgewrig het Suid-Afrika self magsvergrype en akute kragonderbrekings begin beleef en moes Covid-19 die hoof bied. Voorts het die hoofstad Pretoria met die Uniegebou (treffend in Estelle Logie se kunswerk vir die voorplat) baie van hierdie onrus en gerugte van onrus geregistreer en het die sosiale media ’n vanselfsprekende deel van ons daaglikse bestaan geword. Die bundel dien as ’n gevoelige barometer vir ’n lang lewe se ervarings en die uitdagings en voorreg om nog vyf jaar by ’n produktiewe en vol lewe te voeg. Die eerste gedig, “Als myne”, weerspieël ’n lewe wat dr. Prinsloo op ver paaie geneem het, maar wat hoofsaaklik in Pretoria afgespeel het:
[…]
In bykans elke voorstad
is bakens, herinnerings
van ’n lewe hier verloop,
of bekende netwerkpunte,
vertrekpunte na ver plekke.
’n Lewe van besit,
geniet, droom
en inpas,
amper asof
primitiewelik
alles aan my behoort.
Wanneer ons verder in die tweede gedig, “Van lankal af”, lees van “die aarde self/ getuie,/ twee miljoen jaar aanmekaar,/ van tweebeen-wandelaars, voorsate dalk/ en ek en jy” is dr. Prinsloo se historiese bewussyn weer soos in sy twee vorige bundels sterk aanwesig en is dit duidelik dat sy digterlike bewussyn sedert sy eerste bundel in die tradisie van die digter D.J. Opperman staan.
Die bundel werk terugskouend en is ’n subtiele bestekopname van ’n lewe en ervarings, maar die onlangse verlede en hede is die hooffokus vir besinning en dikwels verwondering. Dit is, soos in die vorige bundel, veral die nagtelike gewoel en geluide in die stad wat rus en vrede versteur: die stad en stedelig (wat dikwels nie brand nie) lyk ánders as dié in Opperman se soortgelyke gedigte in bundels soos Dolosse (1963), Edms. Bpk. (1970) en Komas uit ʼn bamboesstok (1979). Maar veral die gedigte oor lyding en liggaamlike aftakeling is andermaal op die “spoor” van Komas en Afrikaans se talle mediese gedigte geskryf en herskryf, en belig ook ervarings in hospitale, die groot mediese koste vir die dienste, belewenisse van pyn en veroudering.
In In pas is die 78 gedigte goed in ses afdelings georden en in ’n digterlik beheerste gesprekstrant opgeteken. Die gedigte bied aan die leser perspektiewe op tydgenootlike gebeure en selfs hoogs persoonlike ervarings. Die bundel se keurige taalgebruik in Standaardafrikaans, een van Afrikaans se bedreigde variante, en woordkeuse, asook heelparty verrassende slotte val op.
Die bundel is netjies met die hulp van ʼn letterkundige adviseur, redigeerder, uitlegkunstenaar en uitgewer versorg. Dr. Prinsloo het voorstelle ter verbetering van die teks deeglik oorweeg, maar dit nie slaafs gevolg nie om sy eie stem en ideolek te bevestig. Ek was getuie van hierdie kreatiewe proses. Die gedigte is moontlik as tydverdryf geskryf, maar die afronding het met inspanning en toewyding gepaard gegaan.
*
Om op 80-jarige ouderdom ʼn bundel soos In pas te publiseer, getuig van besondere kreatiwiteit, ’n ondersoekende en besinnende gees, lewenslus en oorlewingskrag in ’n tyd van persoonlike, fisieke, stedelike, nasionale en globale uitdagings.
Die bundel is ’n tydsdokument van ʼn digter wat die wêreld kennend beleef, krities is oor tendensies van die tyd (sien “Beurtkrag” met die verwysing na die Prez, d.w.s. pres. Cyril Ramaphosa) en tekorte in die land (sien “Toekoms gesteel”, “Kragonderbrekings” en “Nagspel”). Hy plaas ook klem op die immer verrassend aanwesige natuur om hom (sien “Deuntjie vasgehaak”, “Vliegmaarskalk” en “Ko-habiliteer”), “benadeeldes” en gemarginaliseerde dele van die samelewing (sien gedigte soos “Koerantverkoopsters” en “Paasfees-huislikheid”), sy eie welsyn en uitdagings ná gesondheidsterugslae (sien “Sluk en bly stil”, “Ander seer” en “Pynwyk”), sosiale eksesse en gebeure (sien “How to steal a country” en “Ter elfder ure”), familiefigure (sien “Slaaplywe” en “Sakpastoere”) en persoonlike versugting en verlange (sien “Verlange” en “Hunkering”).
Oor die digters wat saam met hom die Afrikaanse digkuns van sy tyd gebrei het, dig dr. Karel Prinsloo soos volg:
POËTE
In hoge poësie,
dikwels verwysings
à la die Louws en Joan
na ander poëte van naam.
Ander bekendes, soos Antjie
praat “fokken” oor Ouma
en Oupa se “poep op die stoep”.
Party, weer, vriendekring-
en verenigingspoëte
van die “Small Poet Society”,
stokperdjiedigters,
selfpubliseerders,
verseniers van faam, én probeerders,
is nie minder geesdriftig nie.
Nog ook die Facebook- en Tik-Tok-
versiemakers en blog-rymers
soms met duisende lesers.
Pryswenners, vermaardes
tot woordwêreld-vrypagters:
eintlik is almal maar,
soos Pirow Bekker sou sê,
beurtelinge, Koos Doep se
kinders van die wind.
Dr. Karel Prinsloo se geskakeerde nalatenskap soos ons dit ook in die beste gedigte in die bundel In pas sien, is ’n getuigskrif van ’n geleefde, en in Johan Degenaar se woorde, geëksamineerde lewe. Die bundel vier die lewe in sy talle geledinge tussen geboorte en die goeie dood.
Weer eens baie, baie geluk met dié bundel en jou 80ste verjaardag, dr. Karel Prinsloo! Daar is inderdaad hoop vir negentig!
■ Toespraak gelewer op 18 Februarie 2023 in die Blue Crane-restaurant in Pretoria.
© Johann Lodewyk Marais, 2023