Prik
die spreekkamer word weekliks ‘n vagevuur
(‘n tydelike tussenwêreld)
waar ek my sondige natuur kom bely
binne hierdie keurig gemeubileerde sanktum
waar styl en funksionaliteit fatsoenlik ontmoet
begroet deur meer kundige as kunstige mure –
daar in die hoek, agter valsmuur, die altaar
wat met behulp van trap bestyg moet word:
my bloed die weeklikse offerande
binne hierdie klinies gestileerde bieghokkie,
my bloed wat moet smeek vir absolusie,
tog word die seën nie oor my uitgespreek
en word die kamer feller in my kasty:
“Meneer Van Zyl, jy weet mos wel
16mmol/L is mos gans te hoog,
so bly liefs weg van alle soetgoed,
los die brood die drank die rook
voor jou Godgegewe lewe
vir jou aardse sondes boet…”
© Floris van Zyl, 2023