Knoppiesdorings
Die laat-lente het room geword:
alle nare gedagtes
aan geniepsige dorings
is vir die oomblik vergete,
want in afwagting op die reën
staan die geharde ou reuse
reeds feestelik geklee.
Neem my volgende november
terug na daar langs die Timbavati,
na die geur van ‘n oormaat blom-are
en die gedreun van bye-kore,
want hier in my foto-album
gaan die soet van die Laeveld
by die dag al verder verlore.
© Hennie Nortjé, 2023