Ivermectin
( ‘n Klaaglied geskryf vir Plasebo Dom-mingo, circa 2021)
Die vee krepeer.
Skaap en bees gaan gebuk onder pes op pes.
Al hoesend en proesend kyk otte orals op hulle snoete.
Van die groen, groen lande van Natal tot op die kaalgestroopte stoppelvelde
rondom Koringberg weerklink voordurig die al moeër gemoe.
Ja, hoor jy die kranklike geblêr? Oor die veld kom dit wyd gesweef:
Boere, landbou-beamptes, Bangjan Alleman, korrupte voorbankers,
selfs hoofgeleerde artse: O, julle lae spul wurms, hoeveel langer sal ons,
tot nou toe die goeie vee, sulke mishandeling moet verduur?
Hoe rond en gesond slaap julle babas, dikgesuip aan ons oorvloed melk,
wyl julle hulle vleislustige ouers selwers al hoe wyer gedy.
En dit terwyl ons arme plaasdiere sieker en sieker,
wriemelend van parasiete, nogmaals aan die agterspeen suig.
Wee, o wee, onbesonne diewe van die wonderkuur
eens slegs vir ons ingewande bestem.
Blatante aflaggers van medisyne-en veerartsenykunde rade.
Selfgeleerde ignoreerders van vrywillige proefhase,
helaas tevergeefs, dubbelblind in die kollig versteen.
Immer slaggereed om eerder ‘n duisternis van haastige
en verdagte publikasies foutief te interpreteer.
Weet nou dan:
Ondenkbare ellendes en pestelensies wag op een en elk van julle:
Tevergeefs bring julle naweke geurige offerhande op jul agterplaasaltare.
Kyk, die varkrib sit wit van die pitjies.
Maaiers baljaar in elke eerste graad snit.
Selfs die jongste lamstjops verg nou ‘n klem-in-die-kaak
gekou en gekou tot elke goue kroon kraak.
En dit als weens julle ongelooflike geloof in Plasebo;
die koorsagtige gehunker na ‘ n wonderkuur.
Sulke makabere desperados absoluut ongehoord in die ganse
geskiedenis van die zoologie.
Onbesonne sogenaamde hoër primate:
Kyk, die Goeie Veearts was sy hande in onskuld( en 70% alkohol)
en lag van agter ‘n vyflaagmasker sy anus af vir hierdie massa-histerie.
L’ envoi: (Die laaste strooi)
Ten slotte, arme kranklike kuddes,‘n uiters ontstellende gerug:
hoogs ongehoord vat jul sogenaamde redders van Onderstepoort
ieder en elk ook glo skelmpies saans ‘n dosis of drie:
(wondermuti of te nie, met hierdie virus waag mens eerder g’n kans nie!)
Volslae versaakte diere-nasies, voorwaar die laaste bitter pil om te sluk.
© Hennie Nortjé 2023