Niemandsland
Vir MJ (1951-2022)
Die afsprake was jarelank vol huiwering,
driemaandeliks vooruit gedagboek:
Die ritueel van regmaak, ry, parkeer
en aanstap oor niemandsland deur swoel
reuke van afskeid en vertrek, na doolhowe
oorvol geykte retoriek; tussen drupbuise deur
waar ’n hematoloog bloedplaatjies bekyk
en voorstelle bedink; die onkoloog, gangaf,
’n kelk só doseer om oor drie, vier ure
deur are te skink, en só oorlewing te beklink.
© Eunice Basson, 2023
