Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
31 March 2023

Daniel Hugo. Enkele metapoëtikale sonnette in Nederlands

 

Vierhonderd jaar gelede skryf die Spaanse digter Lope de Vega (1562-1635) ’n sonnet oor die skryf van ’n sonnet. Dolf Verspoor vertaal dit in die twintigste eeu soos volg in Nederlands:

 

Viola wil me zien sonnettenboeten:

nooit werd de pin zó op mijn neus gezet!

In veertien regels haal ik een sonnet?

Daar gaan er vier die het ontgelden moeten.

 

Ik dacht nog wel naar rijm te moeten wroeten.

Maar nummer zes is ook weer jé van hét.

En haal ik de terzinen nu nog net

dan kan ik de kwatrijnen verder groeten.

 

Ha, daar betreed ik de terzinentempel!

Met vaste voet ben ik er ingestapt

en al een aardig eind voorbij de drempel –

 

Haal ik het eind? Ik heb’t haast gelapt –

Dertien – nog even natellen – warempel:

Véertien! Alweer een dichtwerk opgeknapt!

 

Viola (Violante in die Spaanse gedig) is die digter se geliefde. Sy wil hê hy moet ’n sonnet skryf: “sonnettenboeten” beteken letterlik ’n sonnet aanmekaarlap soos wat jy met geskeurde vissersnette doen. Dit word geëggo in die woord “gelapt” in reël 12. Die idioom “een pin op de neus zetten” is om iemand in die knyp te bring of om hom te dwing – ’n “pin” is ’n knyper of breinaald. In hierdie geval kan die “pin” waarskynlik ook dui op die groot naald waarmee nette gestop word.

In plaas van ’n liefdesgedig vir sy muse te skryf – hy is klaarblyklik nie in ’n bui om dit te doen nie, veral nie as hy geforseer word nie – maak hy die skryfproses self sy onderwerp. Hy is aanvanklik bevrees dat hy nie die veertien versreëls, wat die sonnetvorm vereis, gaan haal nie. Daarom hou hy noukeurig telling van die aantal reëls soos hy vorder: “nog even natellen” staan in die voorlaaste versreël.

Hy het ook sy twyfels of hy die streng rymskema van die sonnet sal kan nakom. In die eerste agt reëls, die oktaaf, mag hy slegs twee rymklanke gebruik – en dieselfde geld vir die ses reëls van die sestet. Dit is natuurlik ’n uitdaging wat eweneens vir die vertaler geld. Verspoor slaag uitstekend met die rymskema: abba baab cdc dcd. Boonop vind hy verrassende rymfrases soos “jé van hét” (geselstaal vir “presies reg”) wat onder meer op “sonnet” rym. In die sestet oorrompel hy die leser met: terzinentempel / drempel / warempel.

Ten slotte kan die digter uitroep: “Alweer een dichtwerk opgeknapt!” – “opknappen” beteken hier “afhandel”. Of Viola ewe tevrede was met haar digter se eindproduk, is natuurlik ’n vraag wat ewig onbeantwoord sal bly.

Gerrit Komrij het sekerlik De Vega se sonnet geken – moontlik deur Verspoor se vertaling wat in 1958 verskyn het in die bundel Spaanse lyriek van lief en leed. Hy voer die oorspronklike idee tot sy absurde uiterste. Maar anders as die Spaanse digter en sy Nederlandse vertaler kon hy nie die veertien reëls van ’n sonnet haal nie. Hy noem sy vers, uit die bundel Gesloten circuit (1982), doodeenvudig “Een gedicht”:

 

De eerste regel is om te beginnen.

De tweede is de elfde van beneden.

De derde is om wat terrein te winnen.

De vierde moet weer rijmen op de tweede.

 

De vijfde draai u plotseling een loer.

De sesde heeft de twaalftal gehalveerd.

De zevende schijnt zwaar geouwehoer,

De achtste bloedserieus. Of omgekeerd.

 

De negende vertelt nog eens hetzelfde.

De tiende is misschien een desillusie.

De elfde is niets anders dan de elfde.

De twaalfde is van niets de eindconclusie.

 

Die triomf van hierdie vers lê in die feit dat die gedig sonder inhoud is en die leser tog enduit bly boei – selfs al blyk dit dat jy ’n poets gebak word: “De vijfde draait u plotseling een loer”. Die leser word dus vroeg reeds gewaarsku. Inhoudelik is die gedig inderdaad ’n desillusie (reël 10). Soos wat De Vega se sonnet vir sy Violante ook moes gewees het.

Lope de Vega se poëtikale sonnet weerklink – so ’n tweehonderd-en-vyftig jaar ná sy muse se opdrag – ook in J.J.L. ten Kate (1818-1889) se “Nieuwerwetse manier van dichten”. Dit is ’n satiriese vers wat gemik is op die Nederlandse Tagtigers, met hul voorliefde vir die sonnetvorm en romantiese temas.

 

Een klinkdicht, ja! dit wil ik eens proberen …

Het is een sjouw, zo viermaal ’t zelfde rijm!

En dat nog wel op dat ellendige ijm;

Maar ’k heb de tijd, en ’k wil en zal het leren.

 

Dat ’s één couplet! Het zal wel reüsseren.

Maar kieze ik nu, eer ik soms verder lijm,

Een onderwerp … Tsa Muzen! ik bezwijm,

En weet niet waar ik ’t eerste mij zal keren!

 

Een rijkdom van gedachten lacht mij aan.

Wie voegt het meest de hulde mijner noten:

De Roos? de Herfst? Maria of de Maan?

 

Een min begaafde had al lang besloten.

’t Word toch hoog tijd, zo ’t ergens op wil slaan …

Neen, ’t hoeft niet meer: ’t ding staat al op zijn poten!

 

“Klinkdicht” is ’n ou Nederlandse woord en is ’n letterlike vertaling van die Italiaanse oorsprong van die woord “sonnet”, naamlik “sonare”: om te klink. In sy  “Aan de sonnetten” beklemtoon Jacques Perk in 1882 juis die klankrykheid van die sonnet: “Klinkt helder op, gebeeldhouwde sonnetten.”

Perk gaan voort en noem sonnette “kinderen van de rustige gedachte”. Ten Kate sinspeel moontlik hierop as hy sê dat hy genoeg tyd het om rymwoorde te vind, selfs op “dat ellendige ijm”. Een van die rymwoorde waarmee hy dan vorendag kom, is “lijm”. Volgens Van Dale is “verzen lijmen”: “op kunstloze of gebrekkige wijze in elkaar zetten, rijmelen”.  Dit klink nogal baie na Dolf Verspoor se “boeten” en “lappen”. Is dit moonlik dat hy Ten Kate se gedig in gedagte gehad het toe hy Lope de Vega vertaal het?

Om in Nederlands op eren te rym is geen kuns nie, daarom doen Ten Kate sy bes om die leser te verras met “reüsseren” in reël 5. Dit kom uit Frans en beteken “slaag”. So ’n deftige woord val uiteraard buite die toon van die vers en versterk die satiriese aanslag.

Anders as Komrij, bekommer Ten Kate hom kamtig oor ’n geskikte onderwerp vir sy gedig. Die muses is hom genadig en ’n rykdom van gedagtes kom by hom op. En dit is hier dat hy die kans kry om met die Tagtigers se tere sieleroersels te spot: roos, herfs, Maria en die maan. Maar voor hy kans kry om een tema te kies is sy veertien reëls vol: “’t ding staat al op sy poten!” Met hierdie ongesofistikeerde, boerse uitspraak wys hy presies wat hy van die nuwe digterskool en hul skeppings dink.

In 1952 verskyn Lucebert, ’n groot vernuwer van die Nederlandse digkuns en sogenaamde keiser van die Vijftigers, se debuut onder die titel apocrief /de analphabetiese naam. Die bundel open met die volgende sonnet wat klaarblyklik op dieselfde soort sonnetdigters gemik is as wat Ten Kate aan die einde van die vorige eeu geteiken het. Die selfbehepte liriese ek word hier voorgestel as ’n narsis:

 

sonnet

 

ik

mij

ik

mij

 

mij

ik

mij

ik

 

ik

ik

mijn

 

mijn

mijn

ik

 

In die daaropvolgende vers, “school der poëzie”, spel hy sy digterlike credo uit. Hy begin met “ik ben geen lieflijke dichter” en doen dan ’n beroep op sy mededigters wat hy “rijmratten” noem: “hoon / hoon nog deze veel te schone poëzieschool”.

Die string wat ek as inheemse wawielspinnekop gespin het – van Lope de Vega tot Dolf Verspoor tot Gerrit Komrij tot J.J.L. te Kate tot Jacqus Perk en Lucebert – is maar een van die drade van ’n verwikkelde poësieweb.

 

Bron

Atte Jongstra & Arjan Peters: Dichten over dichten. Bloemlezing uit de Nederlandse poëzie van de 19de & 20ste eeuw. Uitgeverij Contact, Amsterdam, 1994.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Daniel Hugo. Hessels – digter tussen twee wêrelde
Yves T’Sjoen. Cahier van een lezer [15] →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • bevan boggenpoel. winter
  • Willem de Swyger. Ou Steenmaker
  • Krige Visser. olie op die vier
  • Miel Vanstreels. Terug
  • Elisma van Zyl. Tydloos

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d