Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
3 April 202316 March 2023

Digtersprofiel. Ingrid Jonker

Daar sal ʼn tyd kom wanneer ons land die herinnering aan ál sy mense sal respekteer: die seuns, die dogters, die moeders, die vaders, die jeugdiges en kinders wat – deur durf en daad – vir ons die reg gegee het om met trots daarop aanspraak te kan maak dat ons Suid-Afrikaners is; dat ons Afrikane en wêreldburgers is. Met die sekerheid wat ouderdom bring, is ek oortuig dat daar tussen hulle ʼn Afrikanervrou is wat die grense van ʼn spesifieke ervaring oorskry het en wat tereg as Suid-Afrikaner, Afrikaan en wêreldburger geklassifiseer kan word. Haar naam is Ingrid Jonker. Sy was tegelykertyd ʼn digter en Suid-Afrikaner; ʼn Afrikaner en Afrikaan; ʼn kunstenaar en mens. Te midde van smart, het sy hoop besing. Toe sy met dood gekonfronteer is, het sy skoonheid gehandhaaf. In die donker dae toe alles in die land hopeloos gelyk het, toe almal geweier het om die weerklank van haar stem te hoor, het sy haar lewe geneem. Aan haar, en ander soos sy, is óns iets aan die lewe-self verskuldig. Aan haar en ander soos sy, is daar ʼn verpligting op óns met betrekking tot die armes, die onderdruktes, die hart-gebrokenes en veragtes. Na aanleiding van die bloedbad tydens die verset teen paswette by Sharpeville, het sy geskryf: “Die kind is nie dood nie …” — President Nelson Mandela

 

’n Geslag kan nie verbygaan sonder ’n Ingrid Jonker op die rak en in die hart nie.  — Tom Gouws

 

Ingrid Jonker, die tweede dogter van die skrywer en politikus Abraham H. Jonker en Beatrice (Cilliers) Jonker is op 19 September 1933, ʼn paar maande na haar ouers van mekaar vervreem is, op Douglas in die Noord-Kaap gebore. In die beëindiging van die verhouding bevraagteken haar vader sy ouerskap met betrekking tot die ongebore kind (Ingrid) wat later ʼn groot sielkundige effek op die digter sou hê. Toe Jonker ongeveer tien jaar oud was, sterf haar moeder. Soos wat met Jonker in 1961 sou gebeur, word haar moeder óók as psigiatriese pasiënt in Valkenburg behandel.

Jonker was ʼn ruk lank saam het haar grootmoeder in die Gordonsbaai-omgewing woonagtig en is deur omstandighede genoop om baie rond te trek. Hulle was baie arm en het ʼn karige toelaag van haar vader ontvang. Later bly sy by haar vader in Kaapstad. Jonker het tot ʼn mate ʼn wrok teen haar vader gehad, omdat hy ’n Nasionale Party-politikus was. Sy matrikuleer aan die Hoër Meisieskool Wynberg. Ná haar skoolloopbaan is sy in Kaapstad werksaam by boekwinkels, drukkerye en uitgewers.

Jonker se eerste verse word reeds op sesjarige ouderdom geskryf en verskyn in skoolblaaie en Die Jongspan. Op sestienjarige leeftyd lê sy ’n bundel verse onder die titel Ná die somer voor aan D.J. Opperman wat haar van advies bedien maar die manuskrip word nie vir publikasie aanvaar nie. In die vyftigerjare verskyn van haar gedigte in Die Huisgenoot en Naweekpos, terwyl sy later ook tot Contrast, Inset, Sestiger en Podium bydra.

Haar debuutbundel, Ontvlugting, verskyn in 1956. Ernst van Heerden maak onder andere die volgende stellings met betrekking tot dié bundel: “… adolessente verse … en dikwels volwasse reeds in die knap en selfversekerde vormvermoë en die rake begrip van wese onder die skyn van dinge …” ; “… die grootste gevaar wat haar [Jonker se] poësie bedreig: te veel kop, te min hart …” ; “… ʼn ongelyke debuut wat in liefdesillusie en derivatiewe ‘drade’ verstrengel geraak het. Maar haar talent was onmiskenbaar …”

 

Ontvlugting

 

Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug

en dink my nou in Gordonsbaai terug:

Ek speel met paddavisse in ʼn stroom

en kerf swastikas in ʼn rooikransboom

Ek is die hond wat op die strande draf

en dom-allenig teen die aandwind blaf

Ek is die seevoël wat verhongerd daal

en dooie nagte opdis as ʼn maal

Die god wat jou geskep het uit die wind

sodat my smart in jou volmaaktheid vind:

My lyk lê uitgespoel in wier en gras

op al die plekke waar ons eenmaal was.

 

(Uit: Ontvlugting, Jonker, 1994: 17)

 

In dieselfde jaar as die verskyning van Ontvlugting (1956) is sy met Pieter Venter (digter van Die blomblaar is requiem) getroud ná hulle ongeveer twee jaar vantevore by ʼn Boheemse partytjie ontmoet het. In Desember 1957 word haar dogter Simone gebore. In 1962 is sy en Venter formeel van mekaar geskei. Simone het ʼn belangrike invloed op haar digkuns gehad.

Ná die verskyning van haar debuutbundel raak sy bevriend met Uys Krige, Jan Rabie en Jack Cope, en later ook met André P. Brink, wat almal haar werk lees en haar aanmoedig. Sy het later liefdesverhoudings met Brink en Cope. In 1962 raak sy swanger met Cope se kind, maar die kind word geaborteer. Nie Brink of Cope wou ooit met Jonker trou nie.

Jonker se tweede bundel, Rook en Oker, verskyn in 1963. Sy ontvang die A.P.B-prys vir dié bundel en die prysgeld en ’n studiebeurs van Anglo American stel haar in staat om deur Wes-Europa te reis. Vir ʼn sekere deel van dié reis word sy deur André P. Brink vergesel. Haar en Brink se verhouding vertroebel teen die einde van dié reis en sy word weens depressie opgeneem in ʼn Paryse hospitaal. Brink beëindig die verhouding finaal in April 1965.

 Kannemeyer maak die volgende inleidende opmerkings oor Rook en Oker:

In teenstelling tot “Ontvlugting” beoefen sy hier oorwegend ’n tipe vrye vers wat gekenmerk word deur die kortsluiting van ’n reeks assosiatiewe beelde, inkanterende gebruik van die herhaling, eie ritmiese gang en afwesigheid van interpunksie, wat tot verrassende jukstaposisies en funksionele dubbelsinnighede lei. Die grootste deel van die bundel bevat intens erotiese poësie waarin gesoek word na ’n verlore geliefde, in so ’n mate dat die verhouding tussen die ek en die afwesige jy tot enigste werklikheid verhef en die omringende wêreld en mense tot illusie gereduseer word.

Sommige van die gedigte uit dié bundel is in Engels, Frans, Duits, Hindi, Persies, Zoeloe en Xhosa vertaal.

 

Op alle gesigte

 

Op alle gesigte van alle mense

altyd jou oë die twee broers

die gebeurtenis van jou en die onwerklikheid

van die wêreld

Alle geluide herhaal jou naam

alle geboue dink dit en die plakkate

die tikmasjiene raai dit en die sirenes eggo dit

elke geboortekreet bevestig dit en die verwerping

van die wêreld

My dae soek na die voertuig van jou liggaam

my dae soek na die gestalte van jou naam

altyd voor my in die pad van jou oë

en my enigste vrees is besinning

wat jou bloed wil verander in water

wat jou naam wil verander in ʼn nommer

en jou oë ontsê soos ʼn herinnering

 

(Uit: Rook en Oker, Jonker, 1994:47)

 

Voor haar dood begin Jonker werk aan ʼn nuwe versameling gedigte. Gedurende die tyd verswak haar geestestoestand en ervaar sy ernstige finansiële probleme. ʼn Paar dae voor haar dood verneem sy van Brink se verlowing aan Salome Louw. Sy pleeg selfmoord deur op 19 Julie 1965 by Drieankerbaai die see in te loop. Sy was 32 jaar oud. Daar is ʼn handvol van haar gedigte wat haar selfmoord voorspel. Die versameling Kantelson, het postuum in 1966 verskyn. In Kantelson, aldus Kannemeyer “herhaal Jonker motiewe en vondste uit haar vroeër werk … en oorheers die desillusie oor die liefde en lewe en lei dit tot verbittering en wanhoop.”

 

Met hulle is ek

 

Met hulle is ek

wat seks misbruik

omdat die indiwidu nie tel nie

met hulle wat dronk word

teen die afgrond van die brein

teen die illusie dat die lewe

eenmaal goed of mooi of betekenisvol was

teen die tuinpartytjies van die valsheid

teen die stilte wat slaan teen die slape

met hulle wat oud en arm

meeding met die dood die atoombom van die dae

met hulle verdwaas in inrigtings

geskok met elektriese strome

deur die katarakte van die sintuie

met hulle van wie die hart hul ontneem is

soos die lig uit die robot van veiligheid

met hulle kleurling african ontroof

met hulle wat moor

omdat elke sterfte opnuut bevestig

die leuen van die lewe

en vergeet asseblief

van geregtigheid    dit bestaan nie

van broederskap    dis bedrog

van liefde   dit het geen reg nie

 

(Uit: Kantelson, Jonker, 1994:127)

 

Kort ná haar dood word die letterkundige prys, die Ingrid Jonker-prys, vir die beste debuutbundel vir poësie, ingestel. Dit word jaarliks alternatiewelik vir óf ʼn Afrikaanse óf ʼn Engelse digter wat debuteer, toegeken.

Jonker se gedigte is onder andere deur die jare deur talle kunstenaars getoonset, hulle is verwerk tot verhoogdramas en het gelei tot ʼn huldigingsrolprent. Haar kuns is ʼn onmiskenbare kulturele erfenis en ʼn skatkis waaruit toekomstige generasies nie net inspirasie kan put nie, maar wat, soos alle groot digters, in ʼn taal praat wat iets sereen en onsterflik op ʼn volk se psige én die individue se siel sal agterlaat.

Sy het nie die geduld gehad om vir tyd te wag nie, kompromie het sy verseg, en haarself kon sy nie bedrieg nie. Ingrid Jonker het gefaal in haar lewe as vrou, maar is enersyds ook deur die lewe in die steek gelaat. Poësie en liefde het versmelt in diesélfde vuur wat tussen haar en die dood gebrand het, tot en met die voorwaardes té ongenaakbaar geraak het en haar hart ingegee het as gevolg van die uitputting.

En nou is dit híérdie poësie wat die essensie van wat sy was omvat, die teer en sagte stem van smart en vrouwees en liefde en blydskap. En daarom, waar poësie gelees en geken word én waar lewe verrys uit die as van die vernietiging wat dit agterlaat, sal generasies van jeug en skoonheid vir haar ʼn kroon van wilde olyf bring.  — Jack Cope

 

Lys van publikasies:

1956 Ontvlugting

1963 Rook en Oker

1966 Kantelson

1975 Versamelde werke (heruitgawes in 1983 en 1994)

2007 Black butterflies: Selected Poems soos vertaal deur André P Brink en Antjie Krog

 

Publikasies oor Jonker:

Brink, AP. 2016. Vlam in die Sneeu – Die liefdesbriewe van André P Brink en Ingrid Jonker, Umuzi, 2016

Metelerkamp, P. 2018. Ingrid Jonker. ’n Biografie, Penguin Books.

 

Bronne:

 Jonker, I. 1994. Ingrid Jonker, Versamelde Werke (Derde Hersiene uitgawe). Human & Rosseau. [Alle aanhalings van gedigte hieruit geneem. Die Nelson Mandela en Jack Cope aanhalings soos deur die samesteller vertaal in Afrikaans.]

Kannemeyer, JC. 1984. Geskiedenis van Afrikaanse Literatuur, Band 2. Akajademia.

https://af.wikipedia.org/wiki/Ingrid_Jonker

https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/nasionaliste/biografiese-profiele/ingrid-jonker-1933-1965/

https://open.uct.ac.za/bitstream/handle/11427/19070/thesis_hum_1971_driesse_oliver_

 

 

 

 

 

 

[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com 

Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:

      • ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
      • ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
      • ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
      • Enige ander interessante feite oor jou

Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.

Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com]

 

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

2e gedagtes oor “Digtersprofiel. Ingrid Jonker”

  1. Gerard Scharn says:
    3 April 2023 at 11:58

    Ter aanvulling: Onlangs werd door Stichting de Kaneelfabriek een Nederlandse vertaling uitgebracht van Petrovna Metelerkamps ‘Ingrid Jonker – Beeld van ‘n digterslewe’ en een uitgebreide samenvatting van ‘Ingrid Jonker – ‘n Biografie’. Vertaling en samenvatting (Het kind is niet dood) werden uitgebreid besproken tijdens de presentatie in het Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, augustus 2022. Terug te zien op YouTube /www.youtube.com/watch?v=lAZL0AcnMhw

    Ook werd in de zelfde maand (27 augustus 2022) in het Haags Literatuurmuseum een tentoonstelling geopend over Ingrid Jonker.

    Reply
    1. Liz Jantjes says:
      3 April 2023 at 19:48

      triest, zo een gekrap in een leven, toch? Het belangrijkst die ervan over bleven, is toch die Gedichten? Waarom zou ons nu iedere detail von die miserere moeten weten? Het ga niet meer over lijken van verdronkenen en hun vooraf-ellende en uitzicht verliest, het ga om wat er leven in hun werk…Daarom onthou ons haar tog?

      Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d