Gedig vir my suster in die gety van vinne
My suster het kanker.
borskanker.
Sy betwyfel dit, want sy voel dan so goed, so gesond, sê sy, inderwaarheid lanklaas so jonk gevoel en vol energie.
Te danke aan vars plaasmarkvrugtesappe.
Sy laat nie aan haar sny nie, sê sy. Ek vas
ek cleanse
ek joga
My suster is skaars sestig.
Ek sê vir haar jy speel nie met kanker nie. Kanker is nie jou speelmaat nie.
My ma is dood aan kanker. Longkanker.
Sy was skaars sewentig, nou soveel jaar gelede. Sy kon nog geleef het, maar my suster, toe nog jonk, voortvarend, eiewys neem my ma op sleeptou.
Kruiedokter, homeopaat.
Ek vas, ek strek, ek cleanse, ek oefen, sê sy die dag by die see in haar blou house coat in ‘n gety van vinne.
Ek sê vir my suster, jy speel met kanker. Sy kyk vir my, hande op die heupe.
Bo haar roer die lug konsentries.
© Kirby van der Merwe, 2023