Ars poetica
I myself am hell; nobody’s here— only skunks, that search in the moonlight for a bite to eat.
Robert Lowell
In ‘n gedig vir sy digtersvriend, Elizabeth Bishop, bely
Robert Lowell sy liefde vir die afstandelike meester van verlies.
By ons staan alles opgeteken in lang akwarelle van die dors.
Briefwisselinge eers, later e-posse en dan blitsige vonkpossies,
maar immer die band tussen ons; dog ons so uit-een-lopend.
Dis jy wat my attent maak op Bishop se kritiek op die bi-polêre Lowell
toe hy sy naastes plunder vir beelde of inspirasie. For the hell of it …
Life Studies, ja. Maar lewe is nie gelyk aan ‘n gedig nie; nog minder
‘n gedig ná jare herleibaar of herkenbaar aan dié of daardie insident.
Vannag droom ek en jy en Antjie by ‘n digtersfees, verdryf
deur die sameroeper, omdat die dekorum glo oortree word:
ek alweer laat, Antjie vloek te veel en jy halpierig aan die gons.
Hoe word die digter van die wals geskei, en wanneer het hier-
die ding ‘n lewe van sy eie (soos) ‘n Spoetnik om die maan?
Tyd – soos die seisoene – beweeg. Begryp nog steeds nie ‘n eklips
of die Hubble-teleskoop, soos jy. Priemgetalle laat my immer koud.
My notaboeke dra swaar aan kladmerke (soos Courtney Gallagher)
en iewers skuifel ons mankepankerig aan in hierdie troebel dae:
Hierom dra ek twee horlosies. Die een omarm regte, egte tikketyd;
die ander verklap die sorge van my soekende, speurende gemoed,
uitstulpend in vóórwetes (soms in ‘n vloekskoot) ‘n gedig perfek.
© Joan Hambidge, 2023
