Amanuensis
Pure rethoric of a language without words.
Wallace Stevens
Die meester van amblisia, Wallace Stevens,
vertolk die stiltes ágter woorde en die skadu’s
van winter se ryk en pynlike geheime.
My mentor glo aan die sagte boodskap,
nes my vader wat die soetjiesriet
van slegte nuus telkemale probeer vermy.
Gister kyk ek uit na Tafelberg vanuit my
kamervenster asof ‘n groot skildery
perfek ingepas voor ‘n takserende blik.
Niks gaan verby nie, ‘n iteratief-duratief
vir hierdie optekenaar langs ‘n berg
vol ravyne en soveel stilgemaakte stemme.
Hierdie gedig ‘n diktaat van gister en altyd
se wete van ontnugtering is ‘n kwel-
ling opgeteken in die aanstap van tyd.
© Joan Hambidge, 2023
