
Death must be so beautiful. To lie in the soft brown earth, with the grasses waving above one’s head, and listen to silence.
To have no yesterday and no tomorrow.
To forget time, to forget life, to be at peace.
- Oscar Wilde
’n Sterwensdoula is ’n opgeleide persoon wat sterwensbegeleiding verleen. Daar is twee soorte doulas: die eerste, die argetipe van die vroedvrou wat ’n vrou bystaan wanneer sy geboorte skenk aan ’n baba. Sterwensdoulas, op hulle beurt, versorg mense wat terminaal siek is, bejaardes, of dié wat palliatiewe sorg benodig. Doulas beweeg dus in die liminale en skemer ruimtes tussen die lewe en die dood.
Alhoewel baie doulas werksaam is in ’n vrywillige hoedanigheid of binne die informele sektor, beskik hierdie persone oor geen mediese bevoegdheid nie. Hulle rol is om sterwendes gemaklik te maak en om sielkundige en spirituele bystand te verleen. In hierdie verband komplimenteer ’n doula die rol van mediese praktisyns, en is onder meer opgelei om die sterwende persoon se familie by te staan met byvoorbeeld die tref van begrafnisreëlings. Die opleiding en registrasie van doulas verskil van land tot land en van samelewing tot samelewing.
Een van die eerste formele bewegings van hierdie aard – sterwensdoulas as moderne roeping met ’n antieke oorsprong – het in 2000 in New York ontstaan waartydens vrywilligers aan die hand van ’n formele program opgelei is in die onderskeie fasette van sterwensbegeleiding. Die woord “doula” is afgelei van die Grieks wat “slavin” beteken, maar waarvan die betekenis eerder dui op ’n gewillige diensbaarheid om sterwendes by te staan. Sedertdien is daar verskeie studies oor die rol en funksies van doulas onderneem wat ook fokus op die belangrikheid van die opleiding van hierdie sterwensdoulas. Artikels oor die gebruik van poësie as terapeutiese instrument in sterwensbegeleiding het in mediese joernale verskyn, wat beklemtoon dat doulas as begeleiers méér as net ’n aanhang of uitdrukking van ’n New Age-, holistiese of woke-sentiment behels. Die meedoënlose Foucauldiaanse mediese blik – en enersyds die desensitisering van die sterfproses – word aangespreek met terapie en empatie: waar die feilbare mediese behandeling van ’n pasiënt ophou, gaan die psigologiese en spirituele versorging voort.
Terminaalsiekes, en mense wat palliatiewe sorg ontvang, lees poësie as eufemisme vir hulle lyding – en dit is iets wat doulas goed verstaan. Daar bestaan selfs webtuistes vir hierdie begeleiers se keuse van poësie. Die meeste doulas is vroulik. Dit is vroue wat tradisioneel die liggame van geliefdes uitgelê, versorg of gebalsem het; en dit is vroue wat blomme op grafte sit. Dit is vroedvroue wat kinders help om gebore te word, en dit is vroue wat help om die laaste uitvaart of oorgang te versag. Vroue is die onbetwisbare begeleiers van lewe en dood.
Dit is dalk nie toeval dat die god Apollo geassosieer word met digkuns én genesing/troos nie. Inteendeel: dié Griekse en Romeinse god word gesien as die historiese landmerk in die ontstaan van poësieterapie soos ons dit vandag ken. Om dr Louis Hoffman, ’n kliniese sielkundige van Colorado aan te haal: “Before there was psychotherapy, there was poetry, which can be recognized as one of the oldest healing arts that has been utilized across many different cultures throughout history.”
Die terapeutiese waarde in die lees en skryf van poësie lê in die verwerking van emosie. Die doel van poësieterapie is onder meer om ’n pynlike ervaring te besoek, te herleef, afstand te kry daarvan, dit weer te besoek … en in die proses sin te maak uit lyding op emosionele sowel as kognitiewe vlak. Daar is dus parallelle tussen psigoterapie en poësieterapie. ’n Gedig is ’n veilige plek om in die diepste registers van verdriet te delf, sonder die inmenging van kommentaar of rede. Om oor persoonlike trauma te skryf, skep die moontlikheid dat iemand daar buite – ’n leser – mag resoneer met die vers en sal ‘antwoord’ deur empatiese aanvaarding. Effektiewe psigoterapie bied emosionele ontlading. Pasiënte beskryf dikwels hoe “lig” hulle voel na ’n sessie; eienskappe wat inderdaad met dié van poësieterapie korreleer. Die digterlike woord beskik oor ’n transformerende krag wat die leser verplaas, wég van siekte en pyn. Poësie se inherente foregrounding en die gebruik van trope aktiveer die alchemie van die verbeelding wat, soos die hipnotiese kwaliteit van klank in poësie, tot ’n geestesveranderende ontvlugting mog lei.
Om poësie te skryf, beteken dat jy diep in jouself moet soek na ’n outentieke stem in die strewe na selfrealisering. Ons stem is tog die beliggaming van wie ons is, hetsy gesproke of geskrewe. Ons stemme verskil in terme van ritme, tonale verskeidenheid, variasie, en die idiosinkrasie van assosiasies, beelde of ander somaties-sensoriese metafore. Om psigiatriese medisyne te drink, gee gestalte aan die wetenskap van pyn; en poësie – aan die kuns van pyn. Medisyne se verhouding met pyn is dus ’n verdowende of narkotiese een, terwyl die simbiose tussen poësie en pyn vra vir ekspressie: vir die artikulasie van die pyn. Om te genees beteken etimologies gesproke om heel te maak; om met poësie die geestelike laserasies te heg en die persoon te herenig met die wêreld om hom. En vir diegene wat eensaam of depressief is, bied poësie ’n sensitiewe deelgenoot om, metafories gesproke, beter in die donker te kan sien.
Ten spyte van individuele verskille, is ons almal uiteindelik uitgelewer aan dieselfde lot – ons is gewikkel in ’n ewige dialoog met siekte, dood en sterfgang. Poësie is die ideale medium om uitdrukking te gee aan ons pyn en verlies – woorde gelei én dit genees.
Die bystand van sterwensdoulas is ’n algemene verskynsel in Europa, die VK, Australië en die VSA. In sommige gevalle beklee die doulas reeds vaste aanstellings in versorgingsoorde en is van groot waarde vir besige mediese personeel. ’n Doula besoek sterwendes persoonlik; en die besoeke kan in hospitale, versorgingsoorde of tuis, waar die pasiënt woon, geskied.
Ook Suid-Afrika kry momentum met die opleiding en indiensneming van sterwensdoulas. Organisasies waar doulas gekontak kan word, is byvoorbeeld Sacred Dying South Africa – Embracing The End Of Life, asook DignitySA.
Filmkuns staan nie terug wanneer dit kom by die vergestalting van terminaalsiekes se lyding nie. ’n Mens dink byvoorbeeld aan die tranetrekker, Love story (1970) wat reeds kultusstatus bereik het. Insgelyks vertel Dying young (1991) die verhaal van Hilary O’Neil (vertolk deur Julia Roberts), wat reageer op ’n koerantadvertensie en só Victor Geddes, wat aan leukemie ly, se tuisversorger en minnares word. Filmkuns en die populêre kultuur vorm egter ook die lingua franca van die dag. In The bucket list (2007) ontmoet die motorwerktuigkundige, Carter Chambers die biljoenêr Edward Cole in die hospitaal: albei mans ly aan terminale longkanker en het minder as ’n jaar oor om te leef. En albei stel dan ’n “bucket list” op van ervarings en avonture wat hulle nog wil beleef voordat hulle sterf. Die idiomatiese gebruik van die term “bucket list” as wenslys vir dít wat ’n mens nog alles wil doen voor hy/sy sterf (die emmer skop), het momentum gekry na analogie van die film. Vandag nog sal mense verwys na hulle “bucket list” as metafoor vir die lys van uitgestelde ideale wat hulle wil bereik. Alhoewel films met narratiewe van sterwende persone troos mog bied aan dié wat ly, is die aanbod van hierdie films eufemisties of selfs versuiker. Dit mis die diepgang en in sommige gevalle die katarsis wat die lees en skryf van poësie bied.
Elisabeth Kübler-Ross het die vyf fases van rou in haar ikoniese 1969-werk, On death and dying, geïdentifiseer nadat sy haar waarnemings van 500 terminaalsiek pasiënte opgeteken het. Hierdie fases, genaamd ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding vorm die hoeksteen van sterwensdoulas se ritualistiese benadering tot sterwensbenadering. Poësie, as terapeutiese instrument, reflekteer hierdie (nie-liniêre) rouproses in die wydste sin van die woord. Die gebruik van Rumi, Tagore en Gibran se werk is gewild – en dan natuurlik bekende verse soos “Last words” van Sylvia plath; “Because I could not stop for death” deur Emily Dickinson; “A farewell” deur Alfred, Lord Tennyson, en “Hopi prayer” van Mary Elizabeth Frye. Uiteraard wissel die keuse van die poësie en speel die literêre opvoedingspeil van die doula sowel as die sterwende persoon ’n rol. Die moontlikhede vir vertroostende poësie, of dié wat die fases van rou weerspieël, is egter legio.
Daar is digters wat die dood negeer en hierdie ‘doodloosheid’ en ontsterflikheid besing in hulle verse, soos byvoorbeeld “And this I dreamt, and this I dream” van Arseny Tarkovsky, of “Resignation” van Henry W. Longfellow:
There is no Death! What seems so is transition;
This life of mortal breath
Is but a suburb of the life elysian,
Whose portal we call Death.
In Afrikaans is daar ’n wye register van poësie wat doulas kan gebruik in poësieterapie. Hier is slegs drie voorbeelde wat die efemere aard van dinge op sublieme wyse verwoord:
Nog in my laaste woorde
Nog in my laaste woorde sal jy wees,
nog in die laaste skeemring van my dink
en weet, as ek alleen in die bitter vrees
van sterwe lê, en al die mindre sink
in my deur vaal vergetelheid: veel haat,
veel liefde wat kon waag om min te vra,
ure wat rus geken’t, of blote daad,
en nie die teken van jou onrus dra,
o jy wat vlam was: skoon en sterk en blind
vir smart; wat alles tot jou beeltnis brand;
wat áls kon eis en nooit volkome vind
versadiging! Dán weet ek het jou hand
my jeug se oopgelate kring voltooi:
mooi is die lewe en die dood is mooi.
© NP van Wyk Louw
ek sal sterf en na my vader gaan
ek sal sterf en na my vader gaan
Wellington toe met lang bene
blink in die lig
waar die kamers swaar en donker is
waar sterre soos seemeeue sit op die nok
en engele vir wurms spit in die tuin,
ek sal sterf en met min bagasie
in die pad val
die Wellingtonse berge oor
tussen die bome en die skemer deur
en na my vader gaan;
die son sal in die aarde klop
die wind se branders laat die voeë kraak
ons hoor die huurders
skuurloop bo ons kop,
ons sal dambord speel op die agterstoep
– ouvader kul –
en oor die radio
luister na die nag se nuus
vriende, medesterwendes,
moenie huiwer nie; nou hang die lewe
nog soos vlees om ons lywe
maar die dood beskaam nie;
ons kom en ons gaan
is soos water uit die kraan so
soos klanke uit die mond
soos ons kom en ons gaan:
ons béne sal die vryheid kén –
kom saam
in my sterf in in my na my vader gaan
Wellington toe waar die engele
met wurms vet sterre uit die hemel hengel;
laat ons sterf en vergaan en vrolik wees:
mý vader het ’n groot bôrdienghuis
© Breyten Breytenbach
Afskeidsvers aan N.P. van Wyk Louw
Dis twaalfuur nou, die wysers paar,
ek let, en noem jou, weet jy let –
dis of ek ongebore weer
jou wit-rooi duif hoor ritsel het.
Ek het jou voetstap nog gehoor
net om die draai, toe weg,
en met ons laggroet nog by my
geweet hoe word die straat
oneindig skemer tussen rug
en rug – oneindig leeg.
© Sheila Cussons
Verwysings:
Baker, D. 12 November 2019. Death doulas. Guest Post from Columbus Community Death Care. https://deathdoulas.com/deathdoulasblog?fbclid=IwAR32hn0SXo6vmZFUpxVDzm_6gkDz0fIqhLlEWCG9M_qQtEmLyQWIuhrl-_g (10 Mei 2023 besoek.)
Coulehan, J. en Clary, P. 2005. Healing the healer: Poetry in palliative care. Journal of Palliative Medicine. Vol. 8 (2).
Davies, E.A. Maart 2018. Why we need more poetry in palliative care. Cancer Epidemiology, Population and Global Health, School of Cancer and Pharmaceutical Sciences, Faculty of Life Sciences and Medicine. Londen VK: King’s College.
Minnaar, M. The art of sacred dying. Sacred dying South Africa – embracing the end of life. https://sacreddying.co.za/?fbclid=IwAR2UxCvQdjo9AXtCwjRcInqAv9ElNy1XBen5HdARZfBe8MRD4pHdt0TySVo (11 Mei 2023 besoek.)
Ross, E.K. 2014. On death and dying. New York: Scribner.
Weiss, H.F. 2017. Caring for the dying: The Doula approach to a meaningful death. Massachusetts: Red wheel.
