Spinnaker
Eens span ek my seile
na die wind, nou my
pleganker, hierdie bedryf,
waar woorde ruimskoots
iets verklap van storms
op die oop see tot wind-
stiltes toe jý, gedig, my
die loef afsteek, ek die mas
moes opkom soos ‘n skip
in die woestyn loop dit nou
die spuigate uit, wyl daar
agter hierdie net visgevang
word op poolshoogte vereers.
© Joan Hambidge
