Joert
In my Siberiese tent onthou
ek my ouers op ‘n lughawe
(toe nog Jan Smuts) elkeen
met ‘n koffer terug ná pligsreis.
Ou tasse met klere nuut, was dit,
vir daardie besoek om ‘n krisis
van ‘n nabye familielid op te los.
Wie of wat dit was, nie nou
tersaaklik. Net my vader in sy jas,
om die koue af te weer, my ma
soos altyd bekommerd oor die tog
terug (ver van jou goed, na aan
jou onrus) tot by hul huis, ‘n hawe
vir my hart se onthou, op die walle
van die Vaal met ‘n sifdeur wat klap
wanneer sy nie meer raad het met
al die briewe en oproepe en ons …
Op hierdie wintersoggend verwarm
hierdie herinneringe my tog toe
ek my vader hoor praat: ”Dit sal
alles regkom, dit sal …”. Nou
verlangend na daardie tyd, daardie tyd
van hoop toe die kerktoring se horlosie
die ure presies en pligmatig aftel.
© Joan Hambidge, 2023
