Pastiche by ‘n passere klaaglied
Di sprinkhane en die droogte
Is swaar nou op ons land,
En wat fan ons moet worde
Is bowe my ferstand
– Anoniem uit die Eerste Taalbeweging.
Deur die eeue speel die sprinkaan
‘n rol uitnemend vol,
glip gemaklik van die een in die ander
en bly gewigtig in die kol.
Vir een van “di plagen van Egypteland”
word sprinkaankommando’s opgeroep,
en hul maak voorbrand op hul manier
om uit dwingelandy te loop.
Met die Woord se koms in Afrikaans
wen die sprinkaan onvoorwaardelik grond
veral toe aanvaar word die gevleueldes
stil honger in ‘n dapper mond.
Hier te lande kon hul getalle flink gedy,
met afswerm wyd verwoesting saai.
‘n Bestryder mik na voetgangers in hul slaap
toe voor sy toorts verrys: ‘n reus.
Boere, pas uit die Vryheidsoorlog tuis,
moes weer perd opsaal, bandeliere laai,
pleks van Kakies wat hul land wou vat,
nuwe beslagleggers jag.
‘n Kiekie in dié bewoë tyd geneem,
waarskynlik met ‘n syncro box
toon ‘n beampte wat met geweer kordaat
‘n sprinkaan aan sy agterkloue lig
– jy kyk twee keer: dis nie ‘n springhaas
wat daar hang, nie ore, maar voelhorings
wat vir laas die polle gras betas – dié ta
kerf nooit weer sy karkas glad …
In die gekiedenis word oor die episode
steeds druk bespiegel deur die nasie:
Was manipulasie destyds al ‘n mode
– dit op sigself ‘n tegniese prestasie –
of is die gif vir bespuiting van die hordes
te flou vir vergewe aangemaak
en is mettertyd ontstellende gesondes
op skrapse weidings losgelaat?
Van als gestroop is die boksie se produk
vir die kleingelowiges steeds bewys
hoe is ‘n wonderkuur gehaal deur net-net
onder maat, arseen te sluk.*
© Pirow Bekker
*Die foto en berigte oor die uitermaat groot sprinkane, geskryf deur MC Fourie,
verskyn in OVK Nuus, volume 8, nr 3 en 4.
** Foto verskaf deur MC Fourie, met die volgende byskrif:
Hierdie een is kort anderkant die Havengabrug naby Petrusville geskiet. Enkeles het verder uitgewyk en het selfs sover oos as Bethulie en Smithfield voorgekom. Hierdie jagter was ene Gerhardus Henning van Trompsburg.