Versugting
Miskien sal ek vannag nog sterwe,
die teerste woorde tussen ons
ná maande en jare reeds gesê,
dikwels onverwags en naglank
tot een van ons die aftog blaas
– eintlik die kerse vir mekaar –
en ek tot laat onrustig lê.
Of dalk sterf jy vannag stilweg
met die laaste woorde wat steeds
gesê en ongesê bly voortbestaan.
© Johann Lodewyk Marais, 2023
