Malutikombers
Ek lê onder ’n Malutikombers
om my teen die koue warm te hou.
By my bed flikker ’n tropiese kers.
Laasnag het ek gedroom van ’n vers
waarin ek wegkoes teen die winter se kou.
Ek lê onder ’n Malutikombers.
Vanaand se vlamme is helder en pers
sodat ek my woorde goed kan beskou.
By my bed flikker ’n tropiese kers.
Geskrifte kanker voort in my lêers
soos ’n dwase argief vir die onthou.
Ek lê onder ’n Malutikombers.
Nou is geluk opgeskryf as iets ver
waaraan ons in hierdie lewe bly klou.
By my bed flikker ’n tropiese kers.
Het ek van verdriet die tande gekners
en al ons verlore dae onthou?
Ek lê onder ’n Malutikombers.
By my bed flikker ’n tropiese kers.
© Johann Lodewyk Marais, 2023