Horing
Met apologie aan DJO
Die renoster ken nie porno nie,
draf skommelend met dubbelloopneus,
soek net ʼn koei om in seisoen te dek.
Bedink nie sy libido nie, weet geen snars
van ereksie of impotensie nie ̶
renosters ken geen porno nie.
Jan of Yang, met eenhoringkompas
buffelagtig vooruit, grawe
by Mapungubwe sy voorsaat op ̶
ʼn oerdespoot, grafgehurk met septer,
kommetjie en renoster ̶ relieke
van fallus, baarmoerder en afrodisiak,
byeen as ʼn nigromansie
van dit wat steeds oorheers:
Jan en Yang, blindbejags, sien
van uitwis niks, skiet skoot-skoot
die hele santekraam in sy moer,
maal en sluk die horing, bespring
die splete doosbefok, vermy
fornikerend gode en gebede,
verlossing tot orgasme verskraal:
Buffels weet boggerol
van die metafisika
van renosters.
© Franco Colin, 2023
