Edms. Bpk.
Boomringe, weet kenners te vertelle,
verklap ‘n stadiger groei tydens droogtes.
Digters, dié weet ons, skryf glo dwingend
tydens verlatings vanuit hierdie stiltehel.
‘n Familiefoto van my mense met moeder
na links, reeds aan die vertrek, verklik
iets van dié stamverwantskap: saamgesnoer
op ‘n foto eenmalig, altoosdurend bewaar.
Hier staan niks van Dirk se melkhoutboom,
‘n bakkapel of proklamerende Janfiskaal;
net ‘n verbeelde, opgedroomde akkerboom
verplant uit die Boland na die ou Transvaal.
© Joan Hambidge, 2023