Waar is al die liefde heen?
Alles oor die liefde staan opgeteken
in Roland Barthes se liefdesdiskoers.
Ook in Tristia word die wag be-teken,
nes in Fanie Olivier se bloemlesing.
Vėrder terug Petrarca en sy Laura
en daarna Freud wat meen belewing,
‘n illusie oor die geliefde, indien gesien
soos-dit-is, nooit hartstog sal verdien.
Eybers praat oor die liefde as besering,
‘n afstand en verbintenis; gaan weg
sodat ek oor jou kan skryf, dalk reg?
Vir al diė letsels ‘n vergeet-my-nietjie.
Is jy, digter, in ‘n verhouding trou,
vra ‘n toekyker onfatsoenlik nou:
helaas alle liefdesonthoue verdring,
verdraai, verdoesel, vergal, ‘n ding
sonder uitkoms of vergunning.
Nog wyn vir die ou harlekwyn?
Iewers ‘n ewige geseur oor myn
en dyn en dyn en myn en dyn?
L’envoi
Vermy altyd in liefdesverse pyn
en vele sinonieme soos foltering:
hou dit tog ook maar tussen myn
en die afwesige dyn, ‘n fata morgana.
© Joan Hambidge, 2023
