I
Daar bestaan vele handleidings oor hoé om ‘n gedig te skryf, maar in hierdie reeks lesings gaan ons fokus op die belangrikste beginsels van die digkuns. ‘n Goeie digter is ‘n goeie leser. ‘n Stipleser.‘n Gedig het beginsels wat die digter moet ken. Om die reëls te breek, beteken dat jy eers die reëls moet begryp. Dis soos met sang.
Luister hoe vertolk die groot mezzo-sopraan Anne Sofie von Otter die sanggroep ABBA se “The day before you came”.
https://www.youtube.com/watch?v=7zmtHWIa38Y Besoek 5 Julie 2023
Wanneer Pavarotti met popsterre saamsing, hoor jy iets anders. Trouens, jy besef opnuut hoe mooi die popster se stem is.
II
Hoe lyk ‘n gedig?
‘n Gedig het ‘n bepaalde vorm, m.a.w. dit bestaan uit versreëls nie sinne nie. Digterlike taal werk met disjunksie. Dit is nie gewone taal nie, maar taal vol kortsluitings of gapings. Verskillende teoretici het al daarop gewys dat implikasie waarskynlik een van die belangrike aspekte van ’n gedig is.
H.J. Snyman is sy studie Mirakel en muse wat in 1983 verskyn het, wys op die implikasie-verskynsels by die interpretasie van ‘n gedig.
Hy beklemtoon hoe daar na verskillende antwoorde gesoek is, soos die uitken van ‘n metafoor of dalk die herkenning van ironie (die paradoks).
Implikasie (geïmpliseerde taal) is waarop ons sal fokus in hierdie bydrae.
Daar is klankpatrone soos alliterasie, assonansie, rympatrone – maar daar is ook die vrye vers wat nie rym nie, maar met ander tegnieke die gedig saamsnoer soos beelde in die gedig. Rym is ‘n tegniek, maar moet spaars en soomloos gebruik word. Die meeste swak gedigte word deur knalryme ontsier. Dan is daar uiterlike vorme soos die kwatryn, die sonnet, die ballade, die distigon, haikoe, tanka, ensomeer.
Gaan kyk by die volgende glossarium hoeveel vorme en tegnieke bestaan.
https://poets.org/glossary Besoek 5 Julie 2023
Daar is onbekendes (ook vir hierdie digter), want hoe langer ‘n mens dig, hoe meer besef jy hoe min jy weet.
Doha: a form in Hindi and Urdu verse that consists of rhyming couplets made up of twenty-four syllables each.
Tlamatine: a Náhuatl word for “the one who knows” referring to fourteenth- and fifteenth-century Aztec poets.
Verskillende kulture skep dus hul eie konvensies soos die Japannese tanka of haikoe.
En ‘n digter wat werklik uitstekend dig ken hierdie konvensies ten einde maksimale betekenis en implikasies vir die leser daar te stel.
‘n Digter wat meesterlik digterlike tegnieke manipuleer is D.J. Opperman.
Man met flits
In die klein wit kol
van my wete stol
bruin en skerp ’n klip
soos ’n bok wat skrik,
staan, vinnig weghol
uit die klein wit kol.
Aan ’n takkie hang
twee ogies wat bang
uit die klein wit skyn
van my flits verdwyn.
Oor waters wat glip
soek ek klip na klip
maar ’n duister land
bedreig my alkant.
Hierdie gedig is opgeneem in Negester oor Ninevé (1947).
Die beste manier om die digkuns te verken, is om ‘n klassieke gedig te vertaal.
Dan besef die digter watter eise die skryf van ‘n gedig aan jou stel. In tye wanneer die digter ‘n droogte beleef, is dit ‘n goeie vingeroefening. ‘n Gedig is altyd by uitstek ‘n vertaling van jou emosies, maar paradoksaal verdoesel die goeie gedig emosies. Dit werk met implikasie en die emosie moet die leser “aansteek”.
In hierdie klein vers van Johann de Lange (na ‘n vers van Konstantinos P. Kafavis) sien ons dit gebeur:
Twee vriende
na Cavafy
Hulle is minnaars soos hulle daar stap.
Hulle kan dit nie wegsteek nie.
lets aan hulle houding suggereer meer
as wat sigbaar is: die oorleun
van hulle lywe na mekaar,
‘n vertroulikheid in die kantel
van nek en skouers,
en ook hulle stap
– in pas – verraai iets
van die soort bed
waaruit hulle so pas opgestaan het.
Johann de Lange: Nagsweet (1991).
Nou hierdie gedig verklap hoe ‘n geslaagde vers met insinuasie werk.
Die digter moet ook lees. Hierom is die vertalings van Louise Cilliers so belangrik. Haar vertalings klink nie soos vertalings nie. Dit lees seepglad, vlot – soos in hierdie vers:
Gebed
Die see het ’n matroos in sy dieptes ingetrek.
Sy moeder, onwetend, neem ’n kers,
steek dit aan by die voete van Maria,
vra vir ’n spoedige tuiskoms, goeie weer –
en heeltyd spits sy haar ore teen die wind.
Maar terwyl sy bid en smeek
luister die beeld, swaarmoedig en bedroef,
wetend dat die seun op wie sy wag nie sal terugkeer nie.
‘n Beeld kan nie “swaarmoedig of bedroef” wees nie. In ‘n gedig kan dit wél en hierdie stylfiguur heet personifikasie. Op Grieks heet dit prosopopoeia en is ‘n vorm van beeldspraak. Lewelose voorwerpe word dus vermenslik.
Kers en gebed teenoor die beeld van Maria waar die moeder smeek en bid vir die seun se terugkoms. Die beeld, simbool van die religieuse en die primordiale, wéét dit gaan nie gebeur nie.
Die kind is reeds dood en die beeld word hier verbind aan die dimensie van die Onsienlike.
Mariologie in die Katolieke kerk is hier tersaaklik.
https://ecke.co.za/mariologie/ Besoek 5 Julie 2023
Die kind wat Maria gebaar het, is mens én God.
‘n Goeie digter gebruik mitologie, kerkgeskiedenis en taal om ‘n gedig te laai met implikasie.
Bronne:
Konstantinos P. Kavafis.Van Alexandrië na Ithaka (vert. Louise Cilliers). Naledi, 2023.
Handleidings en belangrike tekste:
Addonizio, Kim. 2009. Ordinary genius. A guide for the poet within. Londen: W.W. Norton.
Aucamp, Hennie. 2010. Oor en weer. Pretoria: Protea.
Barthes, Roland. 1985. The grain of the voice: Interviews 1962–1980. Londen: Jonathan Cape.
Bloom, Harold. 1982. Agon: Towards a Theory of Revisionism. Londen: Oxford University Press.
Boulton, Marjorie. 1953. The anatomy of poetry. Londen: Routledge & Kegan Paul
Chetwynd, Tom. 1982. A dictionary of symbols. Londen: Paladin.
Eliot. T.S. 1920. The Sacred Wood. Londen: Methuen.
Grové, A.P. 1984. (vierde druk). Woord en wonder. Pretoria: Nasou.
Jung, C. G. 1964. Man and his symbols. Londen: Dell.
Kannemyer, J.C. 1998. Verse vir die vraestel. ‘n Poësiegids. Kaapstad: Tafelberg.
Padel, Ruth. 2007. The poem and the journey. Londen: Chatto & Windus.
Paglia, Camille. 2005. Break. Blow. Burn. New York, Pantheon Books.
Riccio, Ottone, M. 1980. The intimate art of wrtiting poetry. Londen: Prentice Hall.
Shumaker, Wayne. 1965. An approach to poetry. Londen: Prentice Hall.
Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.
Ullyatt, A.G.. 1994. A profusion of choices. Pretoria: Van Schaik.
Venuti, Lawrence. 2008. The translator’s Invisibility: A History of Translation. Londen: Routledge.

Ja, baie dankie. Waaaardevol!!
Dankie vir die praktiese aanbieding. Dit is baie waardevol. Ek sien uit na die volgende lesing.