Wildernis
(na DJO)
Watter boom of klip is dit
wat witter as walvisbeendere
tussen see en duin se deinings sit?
Watter skuiling van gesteentes en fossiel
is hier halsstarrig opgerig
om ontheemde digters te beskut?
Met die jare strek die lug
en die water
hoër weg en verder terug,
in opdrifsels uit boeke en berigte
flenter beroemdes se omletterde gesigte
en met die souttongspel van suiderseë
word dig en digter uitgevee.
© Ilse van Staden, 2023