Somer in die Waterberg
(vir Marcella)
Eenmaal het jy gevra dat ek
die somer as ʼn haikoe skryf,
die woorde het jy self verstrek:
wit vlinders wat deur warm dae dryf,
wit vlinders in die Waterbergse somer
asof dít vir jou die essensie was
(jy was maar altyd ʼn dromer!)
wat ek in drie versreëls in moes pas.
Maar nou skryf ek vir jou die donker stroom
met babers en waterlelies, die bang
vir rinkhals en luiperd, ʼn doringboom
waaraan bloeisels geelpers lanterns hang,
droogtes en donderbuie en wye blou lug
in die veertien reëls van ʼn onthou-gedig.
© Ilse van Staden, 2023
Ilse, so is dit. Pragtige wêreld, in jou 14 reëls die essensie opgesom wat net Waterbergers weet.
Sjoe, Ilse, daar het jy my nou in trane: oor al die onthou van die Waterberg en ons kindertyd daar.