Resensie: laatnageilande deur Marlise Joubert. Naledi 2023. ISBN: 9 781991 256089
Resensent: Nini Bennett
Marlise Joubert is sedert 1970 werksaam binne die literêre toneel. Sy het ’n beduidende bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gemaak en het bekendheid verwerf as digter, romansier, rubriekskrywer, radiodramaturg, vertaler van kinderboeke en as samesteller van die versamelbundel In a burning sea: Contemporary Afrikaans Poetry in Translation. Daarbenewens is sy ook bekend as skilder.
In 1970 debuteer Joubert met ’n Boot in die woestyn, ’n bundel wat opgevolg word met Domus (1973); So ver en verder (1976); ontruiming (1986); Lyfsange (2001); passies en passasies (2007); splintervlerk (2011); bladspieël (2015); grondwater (2019) en disteltyd (2021).
Met die verskyning van bladspieël het Tom Gouws (2015) gewys op die taksering van dié bundel as laatwerk. Vir die daaropvolgende grondwater is Joubert bekroon met beide die ATKV-Woordveertjie vir Poësie en die SALA-Poësieprys vir ’n Afrikaanse digbundel. [D]isteltyd, asook Joubert se onlangs verskene laatnageilande dui stilisties en tematies op ’n intensivering van die sogenaamde laatwerkstyl.
Joubert se oeuvre het tot dusver allerlei liminale gebeure en merkers ingesluit, byvoorbeeld die uitvaart van die digterlike lewensboot wat homself vinnig in ’n woestyn bevind; die bewoning van die huis; die eksterne en interne reismotief na/van die huis; egskeiding en aflegging; nuwe liefde en die herontwaking van die lyflike; ander oorgangsrites; die herstel ná ’n pynlike operasie; en daarna vier bundels wat as laatwerk beskou kan word.
In Afrikaans is daar min navorsing oor laatwerk gedoen. “Laatwerk” verwys na ’n outeur se “laatstyl”, afgelei van Theodor Adorno se Spätstil wat deurgewerk het na Edward Said se 2006-boek, On late style. Naas Helize van Vuuren se studies oor Breyten Breytenbach en D.J. Opperman (2011, 2014) en Amanda Lourens se taksering van Pirow Bekker se laatwerkpoësie (2017), is die teoretisering nog yl. ’n Digter se laatwerkfase dui op die laaste fase van sy/haar lewe waartydens die estetiese uitdrukking van skeppende werk teen die agtergrond van agteruitgang, of in die skadu van dood, gestalte vind. Laatwerk is nie sinoniem met literêr-gerontologiese studies nie, alhoewel laasgenoemde kan oorvleuel. ’n Digter wat sterwend is op ’n relatief jong ouderdom kan ook laatwerk lewer. Faktore soos ouderdom, fisiese en psigiese gesondheid en die rol van sosio-politieke omstandighede speel ’n rol in die laatwerkfase van ’n digter se oeuvre.
Die eerste fase van laatwerk bevat die digterlike neerslag van ’n psigologiese hellevaart (katabasis), terwyl die tweede laatwerkfase ’n nuwe lewe, ’n herrysenis na lig en herstelde balans (anabasis) uit hierdie doodskaduwee beskryf.
Die eienskappe van laatwerk is onder meer die volgende: Die gevoel van intense isolasie en opstand teen verbygaande tyd; fragmentasie, ballingskap en gebrek aan samehang; ’n doodsbewussyn, apokaliptiese verwagtings en doemdenke; die proses van sinmaking uit die naderende dood, en ’n groter gevoel van medemenslikheid, sereniteit, aanvaarding en transfigurasie.
Reeds in die titel, laatnageilande word die “laat” in laatwerk gesuggereer, maar die titel dui ook op prosesse van veroudering as ’n liminale posisie. Dit is laat in die nag (lewe); nóg aand, nóg oggend; en eilande betrek die geïsoleerdheid van die ouerwordende digter-spreker se synsbestaan. Dit is egter nie net die spreker wat haarself geïsoleerd, op ’n metaforiese eiland bevind nie: ook die spreker se beminde, wat uit Joubert se oeuvre blyk haar eggenoot Louis Esterhuizen te wees, deel in hierdie eiland-isolasie. Sentraal tot die bundel staan “eilandnag” (pp. 28-29) wat voorgehou word as ’n vrye omdigting van Pablo Neruda se “la noche en la isla” (uit Los versos del capitán, 1963).
Die tweede betekenis van die eilandgedigte daag as ’n onafwendbare uitvloeisel van Covid-19 wat die ouerwordende spreker bewus gemaak het van haar oewerbestaan.
Die omslagkuns toon ’n collage, Resettle I van Jean Dreyer as deel van die uitstalling burnt white/brandwit. In die vers, “collage” (p. 82) tree die spreker dan ook by wyse van ’n ekfrastiese vers in gesprek met Dreyer se collage. Ingrid Jonker se “Bitterbessie dagbreek” klink op in dié gedig. Die bruidsrok transfigureer nou na die (bejaarde) spreker se “doodsrok”.
gesigloos die eggospel met ander:
hier is sy aljimmers die verbeelde
mens-vrou-ding, verberg onder
’n trourok van sellofaan, asof verbind
aan ’n dun omspieëlde vel
seisoene kan genadeloos spin
die sirkelgang ontswart
sal ook onverwags vir jou
die doodsrok bring
Tematies beskik die bundel oor ’n ruim register. Daar is gedigte wat handel oor eindes en eindigheid, ’n verloopte lewe, verganklikheid, verwording, futiliteit, aftakeling, geliefdes wat die spreker ontval, verse oor die spreker se moeder, kinders en kleinkinders, kommer oor maatskaplike probleme ter plaatse, gedigte oor die Russies-Oekraïense oorlog en geslagsgebaseerde geweld, die nasleep van Covid-19, katte, die huismotief, ekfrastiese verse, mitologiese moeders, die natuur, ensovoort. Liefdesgedigte is goed verteenwoordig in Joubert se oeuvre; in laatnageilande maak die prille erotiek, wat kenmerkend was in verskeie bundels en hoogty gevier het in Lyfsange, nou plek vir bedaarde liefdesverse waarin die spreker en haar geliefde die durendheid van hulle liefde as geestelike saamwees ervaar. Binne die skopus van literêr-gerontologiese studie bring Joubert vernuwing met die skryf van dié liefdesverse tussen twee jarige minnaars.
Die talle ars poëtikale verse toon ’n dwingende, amper obsessiewe kunsteoretiese besinning oor die maak van poësie – om gedigte te skryf, word ’n desperate sin-gewing aan die lewe self; die spreker-digter skryf poësie om aan die lewe te bly. Intens bewus van die naderende dood in hierdie laatwerkfase, krimp die spreker se leefruimte hoofsaaklik na haar huis en tuin. Soos in die geval met die vorige bundel, disteltyd, word vuur voorgehou as ’n vernietigende krag wat ’n biblioteek en boeke (“brandende boek”; pp. 89-90) en briewe (“ou briewe”; pp. 121-122) verswelg. In dié bundel is daar ’n groter frekwensie verse waarin die spreker se selfspot – en ironisering, as antidoot teen oudword, voorkom. Stilisties vertoon enkele gedigte fragmentaries (“fragmente vir die niet”; pp. 113-114), of verbrokkel en/of verwissel die vertelinstansie tussen die eerste-, tweede- en derdepersoonsperspektief, soos in die gedig, “fotoflits” (pp. 79-80). Hierdie willekeur en versplintering kan waarskynlik geassosieer word met die dissosiasie en angs wat verband hou met veroudering.
Uit die tematiese en stilistiese register blyk dit duidelik: laatnageilande staan volledig binne die teken van laatwerk, soos daar ook verder aangetoon sal word.
Die rubrisering geskied in sewe dele. Die bundel open met die programgedig, “ek was haar woorde” (p. 11) waarin die spreker-digter se dagboek aan die woord gestel word, ’n ars poëtikale bestekopname van die spreker se skryfwerk en lewensloop. Die laaste strofe kondig die sentrale metafoor, die laatnageiland aan:
ek wil haar laatnageiland wees,
haar uitspoelstrand,
haar segging én haar sterfte.
In die gedig, “tussenruimte” (p. 125) kyk die spreker terug op haarself vanuit ’n ouktoriële perspektief, “die geskryfde ek”. Die spreker transporteer haarself as’t ware na anderkant die dood; anders gestel, oorleef die skeppende spreker haar sterfproses deur die bemiddeling van die digterlike woord:
maar toe ek na my
skryfhand kyk, asof ’n leë nis
sonder beeld of artefak,
sien ek vae buitelyne: die impasto
van ’n lewensreis het verbleik.
’n ander vraag doem op:
wie was die geskryfde ek?
Deel I word ingelui met ’n motto van Joan Didion wat handel oor sterflikheid, verlies en ’n disintegrerende identiteit:
“We are imperfect mortal beings, aware of that mortality even as we push it away, failed by our very complication, so wired that when we mourn our losses we also mourn, for better or for worse, ourselves. As we were. As we are no longer. As we will one day not be at all.” – Joan Didion.
Om poësie te skryf in die skadu van die dood is ’n noodsaaklike, lewensonderhoudende aktiwiteit: “om nou te oorleef / met waterskaarste / en metafoor” (p. 14). Ongelukkig dring sekere woorde, wat ’n bedreiging vir die spreker inhou, haar intieme leefruimte binne:
woorde soos oproer, aftreeoord,
afstand en sekuriteitskompleks,
beurtkrag, misdaad en oorlog,
plundering, brandstigting, isolasie,
armoede, verval en pandemie
ek het alles probeer om dié woorde
te verwyder, geskree en gevloek
gedreig en gesmeek, maar niks
niks skrik hulle af nie –
hulle reken
van nou af is hulle familie (p. 15)
Joubert skryf op onthutsende wyse oor oudword en kyk die problematiek van bejaardheid vierkantig in die oë. Deel I handel oor ’n vervreemdende wêreld waarin politieke oplossings gefaal het. Verse as ’n versugting oor ’n virusvrye wêreld, asook verwysings na die vyandige inval in die Oekraïne, kom voor. In “kind sonder ouma” (p. 21) projekteer die spreker die intergeneratiewe trauma van ’n seun wat sy ouma in die oorlog verloor het, op die aangesprokene asof dit haar eie kleinseun is. Ook in die verse oor vrouemoord en geslagsgebaseerde geweld registreer Joubert ’n besonder empatiese bewussyn teenoor die slagoffers – ’n sterker belewenis van medemenslikheid wat op sy beurt tekenend is van laatwerk.
Deel II word ingelui met ’n (ongepubliseerde) digmotto van Louis Esterhuizen – heel gepas, omdat laasgenoemde op biografiese vlak die spreker se geliefde is. Bernard Odendaal het in ’n resensie verwys na Joubert en Esterhuizen se onderskeie intertekstuele liefdespoësie as ’n “minnetweespraak”. Binne die konteks van laatnageilande (en laatwerk) skryf Joubert liefdesverse waarin die broosheid van die ouerwordende persoon beslag vind binne ’n literêr-gerontologiese konteks.
Die saamwees tussen die spreker en geliefde oorstyg lyflike erotiek, en word op synsvlak ervaar. Die sentrale metafoor van die eiland is afgestem op die spreker én haar geliefde, wat nou hierdie geïsoleerde ruimte deel. Dit is met ander woorde die twee bejaarde minnaars sáám teen die aanslae van die wêreld.
om mekaar
se bymekaar te wees
maak die isolasie minder stil (p. 30)
In “slaap” (p. 32) breek Joubert rigiede genrekonvensies as sy ’n prosagedig – of stuk poëtiese prosa – skryf. In laatnageilande spil Covid-19 as vertrekpunt vir gedwonge isolasie, maar konvergeer in die dubbele bedreiging: die pandemie én veroudering. Hierdie betrokke vers, in vier dele, kom gefragmenteerd voor; daar is heelwat verse in die bundel wat doelbewus gemoeid is met brokke, reste en breuke met ’n gebrek aan kohesie, kensketsend van laatwerk. Hierdie gefragmenteerde ‘stukke’ poësie herhaal in “laatsomer” (pp. 48-49) en “hoe traag” (p. 50), strofes wat opval in hul gedrongenheid.
Deel III open met ’n motto deur Abdellatif Laâbi en betrek gedigte wat oor die spreker se moeder (“Ma Didi”) handel, soos dit onder meer tematies beslag vind in grondwater en disteltyd. In “liewe ma” (p. 54) gebruik die digter-spreker een van haar voorkeurgenres, die briefvorm, om met haar moeder, wat in 2016 oorlede is, te kommunikeer. Die gesprek met die moeder word voortgesit in “rok” (p. 59), waarin die rok ’n gedeelde metafoor vir die ma en dogter se (verloopte) lewensreis word. Die tema van huise (en die poëtika van ruimte) figureer dwarsdeur Joubert se oeuvre, soos die verse, “op ’n dag” (p. 57) en “niks om te verhaal nie” (p. 60) getuig. In Joubert se oeuvre het die huismotief inderdaad verskillende dimensies aangeneem: ’n huis wat die dromer beskut (na analogie van Gaston Bachelard); ’n huis wat ontruim word en waarin die spreker in kluisenaarskap verkeer (ontruiming); ’n huis waarin die liefde gevier word – erotika (Lyfsange); en laatnageilande, waarin die spreker die isolasie van ’n ouerwordende persoon ervaar. Aansluitend hiertoe skakel die verse wat handel oor die spreker se troetelkat, Goya, wat verdwyn het (“in die maand april”; pp. 63-64). Joubert se katgedigte sluit aan by die groeiende korpus verse oor katte in Afrikaans soos byvoorbeeld dié van Lina Spies. “[M]matriarg” (p. 67) is ’n voorbeeld van só ʼn portretstudie van ’n kat; Joubert skryf ongetwyfeld van die mooiste katgedigte in Afrikaans. Die tema van die vroulike identiteit is eweneens lank reeds ingeburger in die digter se oeuvre, soos dit gestalte vind in “achille lauro, 1992” (p. 69) en “moedersee” (p. 71). In eersgenoemde vers word ’n skip metafories ’n bruid (wat sterf/sink), terwyl laasgenoemde gedig vanuit ’n ekoperspektief kritiek lewer op besoedeling van die oseaan as mitiese oermoeder.
Deel IV handel oor die verskillende belewenisse en inkantasies van vrouwees, met enkele beeldgedigte. Dié deel kan ten beste opgesom word as “verloopte reise” (p. 86). “[A]llervrou, ’n sprokie” is ’n kopknik na Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves, terwyl “rapsodie vir ’n regterskouer” (p. 92) berig oor die spreker se hoopvolle herstel ná ’n operasie. In “handsak” (pp. 84-85), op sy beurt, word die vroulike liggaam gelyk gestel aan ’n handsak wat foto’s en memento’s van geliefdes huisves.
In deel V word die vervlietende aard van ’n lewe beskryf. Joubert skryf met “liewe em oë” (p. 96) teen die grein van genrekonvensies in: die vers is nóg prosa, nóg poësie; nóg brief, nóg anekdote. Hierdie oorskryding van tradisionele konvensies werk wars van lesersverwagtinge – weer eens, tekenend van laatwerk. Joubert se poësie word gekenmerk deur surrealisme en bewussynstroomtegniek en die vryhede wat die sewentigers hulself veroorloof het – maar in dié bundel gaan Joubert ’n aks verder met haar ongebreidelde, voortstuwende metaforiek.
Let vervolgens op die treffende gedig, “video call met lente” (p. 101):
ek wil jou inskryf op papier
soos ’n tekening in houtskool
blywend ets as ’n geraamde hawe
vir al jou jare wat nog kom –
jou bruin dadelkrulle oor jou kop
jou kykers as blouste hemelinge
tropies onder sysagte wimpers
helder soos die onskuld van ’n skulp
jou mond glimlaggend
met vyfjaaroue asemteue
asof jy reeds alwetend is
dat my stomgestaar na jou
tog so amusant kan wees
jou ganse gesiggie straal
’n tuin waaroor niemand nog
’n skemerspoor getrap het nie
waar geen doringbos
sy wortels ingepen het nie
jou vel kaats die romerige glans
van melk in allerdunste glas
ek hou jou lyfdiep vas
ek skryf jou innig in op papier
en glo met elke reël dat
niks jou ooit in murg
en been sal splinter nie
In deel VI kom ’n handvol verse waarin die spreker na haarself met selfironisering verwys, voor. Reeds in die laaste vers in deel V, “wat is die woord” (pp. 108-109) spot die spreker met haarself wanneer sy ’n woord vergeet. Die aanslag is ’n tragikomiese een wanneer die spreker se voet vashaak en sy val, die laaste strofe:
goddank niks gebreek
die lewe ook nog hortend daar
oopgemyn in die afgeleefde land
van stygende geheueverlies
Opvallend van die verse in die bundel is die fyn metatekstuele kommentaar wat die spreker moeiteloos en elegant lewer. In hierdie gedeelte raak die ars poëtikale drif verder sigbaar in ’n fenomenologiese bestekopname van die verse: só byvoorbeeld word die sardientjietyd ’n uitgebreide metafoor van digterlike prosesse van verlies en aflegging (“visgedig”; pp. 126-127). “[O]m laat in die nag” (p. 117) skep ’n allegorie tussen die skryf van ’n gedig en ’n motorongeluk, wat dan laat in die nag gebeur. Die spreker tint die vers in donker humor, soortgelyk aan “alle boeke leef” (p. 119) en “versoek” (p. 128) waarin die spreker wonder wat van haar skryfwerk gaan word wanneer sy nie meer hier is nie.
Uit “versoek”, strofes 3-4:
vergeet tog ook nie my farah-horlosie
die kristalblou verloofring, my beursie
met ’n kredietkaart in, want wie weet
ek mag dalk ’n boete betaal of miskien
is ek lus vir ’n opdraairoomys voordat
verspreide warm tonge my omring
graag wil ek lemon creams en jelly babies
byderhand hou, my selfoon in die hand
indien ek wil bel, solank as wat
die sein ondergronds kan hou
Die ironie in deel VI word afgewissel met melankolie en pyn – en soms ’n sober gevolgtrekking wat spruit uit die onderhandeling met die self. Hierdie labiele gemoedstrominge van die spreker herinner aan die verskillende roufases wat Elisabeth Kübler-Ross geïdentifiseer het. [L]aatnageilande is inderwaarheid ’n elegie aan ’n geleefde lewe.
Deel VII bevat van die mees ontroerende verse in die bundel – en in Joubert se oeuvre. Die laaste gedeelte word ingelui deur ’n motto van Yehuda Amichai waarin daar getreur word oor ’n lewe wat verby is, maar wat skynbaar, oënskynlik, steeds bestaan. Die sluitstuk van laatnageilande vorm ’n subtiele terugreik na Bybels-mitiese metafore wanneer die spreker haar doodsversugting en herontwaking in ’n nalewe só verwoord, die laaste vier strofes van die gedig, “uitvaart’ (pp. 138-139):
laai my af in ’n kuswoud tussen wilde diere.
laai my af tussen eskaders bye
besies en motte onder die gesiglose
gewelf van sterre waar ek aan
die vrugte van kennis kan proe
my klein vinjette op vyeblare aanteken.
dáár kan ek elke dag die hartkuil
van eie wilde bos in vrede geniet
en in die omheining wag
op die wedergeboorte van ’n duif.
Alhoewel baie van die tematiek in Joubert se voorafgaande bundels weer in laatnageilande voorkom, sorg dié bundel vir ’n welkome toevoeging tot haar oeuvre. Die bundel is as geheel in ’n mineur-toonaard gestem, tog is die verse nie swaartillend of deprimerend nie; die verganklikheidsbesef verleen aan die verse ’n “ligte” kwaliteit. Dalk som Breyten Breytenbach se inleidende motto in deel VI die bundel ten beste op:
“wat is die gedig
anders as ’n veerveeg skaduwee
voor die lig”
As meester van metaforiek bly Joubert haar leser mesmeraais. Die bundel werk nie net verruimend in tot haar oeuvre nie, maar staan gemaklik tussen die toonaangewende laatwerkpoësie in Afrikaans.
Verwysings:
Gouws, T. 2015. Bladspieël: Suiwer, onpretensieuse poësie wat die leser meesleur. Netwerk24. (23 Julie 2023 besoek).
Lourens, A. 2017. Die toepassingsmoontlikhede van die teoretiese gesprek oor laatwerk: Pirow Bekker. Stilet 29(2). September 2017. 73-94
Said, E.W. 2006. On late style: music and literature against the grain. Londen: Bloomsbury.
Van Vuuren, H. 2011. “’n Almanak van klippe”: Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge). LitNet Akademies Jaargang 8 (3), Desember 2011.
Van Vuuren, H. 2014. D.J. Opperman se laatwerk. LitNet Akademies, Jaargang 11, Nommer 2, Augustus 2014.
Van Zyl, S. 2019. Hennie Aucamp: ’n gerontologiese oeuvrestudie. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Noordwes-Universiteit.
UItstekende resensie. Dit is ‘n kompliment aan die resensent, maar ook aan die digter as ‘n resensent soveel stipte aandag gee aan die teks wat bespreek word.