Weereens die weduwee – ’n drieluik
Op ’n Sondagmiddag loop die weduwee Viljee
in swart geklee
met twee kolliehonde langs die see
Uiteraard met apologie
Johann Lodewyk Marais
Ek dig oor spesies versprei
oor ons verweerde aardbol
nie eintlik oor honderas
Canis familiaris soos benoem
deur Linnaeus in 1758
taamlik troetelvervelig vir my
ook nie spasie vir ’n huilende
Homo sapiens in my bioargief
dié een se spesifieke etologie
staan my nie aan en oor die mensdom
se beste vriend is al te veel geskryf
kollies is wel intelligent en terapeuties geskik
hulle sal haar wel vertroos
en met ’n kuddeinstink aanpor
na ’n groener weiland.
Ek rig my verkyker en kamera
eerder op bedreigde wolwe:
Canis simensis, Canis lupus baileyi
Canis rufus ensovoorts…
hilda smits
die weduvrou se man is dood aan lewerkanker en hy het geel opgeblaas
in die intensiewesorgeenheid van die nabygeleë hospitaal en sy het dae
en dae aaneen spandeer in haar oopplankombuis en freneties aartappels geskil
later toe maar die bredie vir Scout en Buddy gevoer terwyl sy wonder
oor wat gebeur met die afgestorwenes veral na lyflike leed
perfekte peinsing vir ’n windverwaaide wandeling
Loftus Marais
ek bekyk haar in die fynste besonderheid
hier vanaf my panoramiese dakterras
Fabulisha de Wee, dra beslis nie ’n roupalet
sy mince en strut in technicolour
wys ’n gemanikuurde middelvinger
vir Joeri, Jewgeni en Aleksei –
die bronstige matrose op die Lady R
seesand is háár stage
Sondae is háár fashion day,
terwyl sy nog so sissy that walk
lig een fokken brak abrupt sy been
teen ’n flonkerende strandsambreel
© Neil Cochrane, 2023

Fantastiese parodieë van hedendaagse digters. Cochrane hier soos ‘n wafferse Opperman aan die woord. Welgedaan.