Carel Anthonissen is ’n teoloog wat na drie bedienings in die NG kerk, in 2005 die eerste nie-Anglikaanse direkteur geword het van die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit. Hy beklee die pos tot aan die einde van 2017 waarna hy die werk van die Sentrum op Stellenbosch voortsit deur onder meer die aanbied van kursusse oor die mistieke spiritualiteit, geestelike begeleiding, ens. Deel van sy huidige werk is ook die hou van ‘n weeklikse kontemplatiewe diens in die kapel van die Fakulteit vir Teologie. Die diens bied tans vir baie ‘n ruimte vir stilte, gemeenskap en estetiese belewing en staaf ‘n groeiende behoefte aan hierdie waardes in ons samelewing.
Anthonissen het reeds enkele Engelse gedigte in drie bloemlesings oor Afrika, oorlog, en liefde gepubliseer. In 2015 is een van sy Afrikaanse gedigte geranglys vir die Sol Plaatje Europese Unie se Poësiekompetisie, waarna die gedig later dieselfde jaar in ’n bloemlesing gepubliseer is. Van sy Afrikaanse gedigte is ook in Stanzas (Nr. 6, Desember 2016) opgeneem.
Die geselekteerde gedig hieronder is uit sy debuutbundel Vuurvas, wat in 2017 verskyn het.
Labirint
1 hy wig hom saggies in by hierdie
2 oopgesperde oog
3 loop nog ’n keer die afgeskeepte
4 reis
5 raak op die spoor wat uitboog,
6 draai, terugwaaier na die middel
7 verlore, maar bewus van haar
8 wat peinsend op hom afstap,
9 deurskynend in ’n rok wat kleef
10 en bol
11 dan omdraai, terug, ’n enkele
12 skrede saam
13 dít is die groot geheim:
14 die saamhurk in ’n kern waar
15 die koninkryke daag
16 ’n lewe laag vir laag geskil word
17 met ’n sagte bries in die gesig,
18 ’n rooskwarts teen die wang
19 en dan, terwyl die bome rondom
20 hom in kleur verskiet
21 die oopgaan van die oë.
Uit: Vuurvas (2017)
’n Labirint, soos in hierdie gedig metafories benut word, het slegs een pad wat in ’n spiraalvorm baie keer heen en weer draai voor die middelpunt bereik word waarvandaan daar weer slegs een pad terug is. Dit simboliseer die reis tot selfkennis en spirituele ontwaking en is van die vroegste tye deur verskillende gelowe gebruik vir spirituele sentrering, kontemplasie en gebed. Els (2017:4) haal Artress soos volg aan: “[…] as you walk (the spiral of the labyrinth), it takes you deeper into your center”, asook Schaper en Camp: “From early on Christians believed that walking the labyrinth represents the soul’s journey to Christ”.
Vanaf die 12de eeu het labirinte in Europa begin verskyn. Een van die beroemdstes is die 13de-eeuse labirint in die middeskip van die beroemde Chartres-katedraal in Frankryk wat reeds vir honderde jare deur pelgrims besoek word.
Volgens Dudeja (2018:24) is die derde oog die middelpunt van die labirint. Die konsep van die derde oog word gewoonlik met Oosterse mistieke tradisies geassosieer, maar Richard Rohr (soos aangehaal deur Rockefeller 2017) voer aan dat om met die derde oog te sien, metafoor is vir die niedualistiese denke wat kenmerkend is van mistici. Rohr beskryf hierdie vlak van bewustheid as “having the mind of Christ”.
Op grond van bostaande inligting word die labirint soos in hierdie gedig uitgebeeld, dan verstaan as dit wat vir die digter ’n reis na binne bied, ’n reis wat reeds afgelê is (“nog ’n keer” in reël 3), maar ook waaraan nie genoegsame aandag gegee is nie (“afgeskeepte reis” in reëls 3–4). Die “oopgesperde oog” in reël 2 dui op die derde oog soos hierbo beskryf, en is metafoor vir die mistieke ingesteldheid waarmee die labirint betree word. Die woord “saggies” in reël 1 suggereer dat dit in stilte vir die digter iets intiem-persoonlik is.
In reël 7 dui die “verlore” toestand moontlik aan dat hy voel dat hy kontak met die spirituele werklikheid verloor het. In ’n artikel oor die effek wat ’n kontemplatiewe stap deur ’n labirint op mense gehad het, bevind Lizier, et al. (2018) dat “the participants felt lost in time and space”. So ’n gevoel sluit aan by die persepsie van tyd- en ruimteloosheid wat kenmerkend is van ’n mistieke ervaring.
Die wêreldse versoeking word in reëls 7–10 uitgebeeld in die gestalte van ‘n vrou waar “deurskynend” meerduidig suggereer dat die vrou ’n denkbeeld is, maar ook op haar verleidelikheid (die rok wat “kleef” en “bol”). Die “groot geheim” in reël 13 berei die leser voor op die digter se noëtiese insig wat volg.
Hierdie ontmoeting vind by die “kern” plaas, in die middel van die labirint, die derde oog wat metafories dui op ’n toestand van spirituele bepeinsing en ook resoneer met die peillose diepte, die abissale, die apofatiese plek waarin taal en rasionaliteit nie die waarheid kan uitspreek nie. Dit is waar die oënskynlike, wêreldse “waarheid”, in Willis (s.a.:5) se woorde, “is subverted, wounded, ruptured”. Smith (2000:67) beskryf dit as innerlike transendensie waarvan die problematiek geleë is in “delving into the caverns of the mind, plunging into the abyss of consciousness”.
Die “twee koninkryke” in reël 15 verwys na die twee domeine – die goddelike en die wêreldse – wat elkeen “daag”, of oproep oor waaroor daar besin moet word. Die waarheid word onthul wanneer die vals “waarhede” van hierdie wêreld “laag vir laag” (reël 16) verwyder word. Hierdie beeld sluit ook aan by die gedagte van suiwering van dit wat laag is. Dit is Rumi se “place of the placeless”, waar apofatiese taal konseptuele taal dekonstrueer, “the space in which “truth” is subverted, wounded, ruptured” (Willis s.a.:5).
Die beeld van die bries in reël 17 roep assosiasies op met die wind wat talle kere in die Bybel voorkom, veral as voorstelling van die Heilige Gees. Dit dui dus daarop dat die digter met sy terugkeer uit die labirint uit, deur die goddelike geraak is. Dit word verder uitgebeeld met die metafoor van rooskwarts wat volgens Simmons en Ahsian (2007:405) onder meer geassosieer word met “loving consciousness of Christ”. Reëls 19–20 druk ’n getransformeerde visie op dinge uit wanneer “die bome rondom hom in kleur verskiet”, wat dan met die slotreël, “die oopgaan van die oë” terugverwys na die “oopgesperde oog” van reël 2, asook ’n dieper visie – ’n noëtiese kennis.
Hoewel die styl gestroop is, lees die gedig vloeiend en musikaal weens die jambiese metriese patroon. Die tipografiese uiteensetting is funksioneel en strook met die betekenisgewing soos met reël 13 wat geïsoleer word om die wending te beklemtoon.
Deur middel van ’n labirint met spirituele konnotasies van selfondersoek en meditasie, skep die digter ’n afgeslote milieu wat die teks losmaak van die wêreldse domein en simbolies dien as die weg na innerlike ontwaking.
Hierdie paadjie deur die labirint kan beskou word as metafoor vir die via mystica – die mistieke weg. Dit begin met die via purgativa, wat in reëls 7–10 uitgebeeld word as verlorenheid en konfrontasie met versoeking, daarna die via illuminata en via unitiva wat voorgestel word deur die digter se aanvoeling van goddelike nabyheid, sy oë wat metafories oopgaan en noëtiese kennis wat verkry word. “Labirint” kan dus as ’n mistieke gedig beskou word en is ’n waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse mistieke poësie.
Bibliografie
Anthonissen, C.A. 2017. Vuurvas. [s.l.]: Naledi.
Dudeja, J.P. 2018. Awakening the Trinity eye by walking through the triple spiral labyrinth. International Journal of Advanced Scientific Technologies in Engineering and Mangement Sciences, 4(11):22.
Els, L. 2017. The labyrinth as a symbol of life: A journey with God and chronic pain. HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 73(4):1–11.
Lizier, D.S, Silva-Filho, R, Umada, J, Melo, R en A.C. Neves. 2018. Effects of reflective labyrinth walking assessed using a questionnaire. Medicines (Basel), 5(4):111.
Rockefeller J.D. 2017. The transformed heart: Spirituality, religion, and the struggle for integrity. Maryknoll, N.Y.: Orbis Books.
Simmons, R. en N. Ahsian. 2007. The book of stones: Who they are and what they teach. Berkeley, Calif.: North Atlantic Books.
Smith, J.K.A. 2000. Between predication and silence: Augustine on how (not) to speak of God. The Heythrop Journal, 41:66–86.
Willis, S. s.a. Desire for the impossible: On Rumi and Derrida. https://www.academia.edu/ 6062951/Desire_For_The_Impossible_On_Rumi_and_Derrida (1 Mei 2023 geraadpleeg).
