Hoewel daar van die vroegste tye af baie godsdienstige Afrikaanse gedigte verskyn het, is die mistieke poësie-oes maar klein. Hierdie artikel het ten doel om deur ‘n ontleding van Johann de Lange se gedig, “Die diensbaarheid van bome” uit Vaarwel, my effens bevlekte held (2012) aan te toon dat die gedig as misties bestempel kan word, en dus tot die mistieke korpus gedigte behoort.
Johann de Lange, gebore op 22 Desember 1959 is kritikus, prosaskrywer en een van ons belangrikste digters van gay poësie. Hy skryf oor die verhouding tussen die seksuele en die religieuse en ontgin ook die temas mistiek en religie.
Die gedig wat hieronder behandel word, is uit sy bundel Vaarwel, my effens bevlekte held waarin De Lange volgens Viljoen (2012) met kenmerkende dubbelsinnigheid die temas van mistiek en religie aanspreek, en waaroor Snyman (2012) aanvoer: “daar is min aspekte van menswees […] wat nie deur De Lange se skerp maar gevoelige digterlike lens in die mistiek van die woord vasgevang word nie”.
“Die diensbaarheid van bome”
1 Gedenk Hom wat lief was vir bome,
2 vir die skrynende aromatiese klank
3 as die boom onder vaardige hande
4 sy natuur gedienstig aflê & tafel word,
5 of laaikas, rusbank met gewronge poot,
6 of stoel met ’n steil rug om ’n rug te stut.
7 Op sy laaste tog het die kruishout
8 Hom gedra, die stil olyf
9 het donkernag van sy smart
10 weggewring, & die dorings
11 van die wag-’n-bietjie of wit haak
12 het sy woorde bloedwarm tuisgebring.
Uit: Vaarwel, my effens bevlekte held (2012)
Reeds in reël 1 is dit duidelik dat dit hier oor die goddelike gaan. “Gedenk Hom” herinner aan Christus se opdrag aan die dissipels by die Laaste Avondmaal en die bediening van die nagmaal wat aansluiting vind by “kruishout” in reël 7 en die verwysing na die kruisiging in die tweede strofe. Die leser kan nie anders nie as om die ironie in die frase “lief was vir bome” raak te sien nie. Die ironie is daarin geleë dat dit waarvoor Hy lief was, as kruishout, die instrument van sy dood sou wees.
Wat die ironiese betref, voer Snyman (2012) in sy resensie van Vaarwel, my effens bevlekte held aan:
Die sin vir ironie is altyd naby, soos dit die goeie digter betaam. Hierdie ironie in die bundel “renders the poet free”, in Kierkegaard se woorde, en, so skryf Etienne Leroux: “Daardie vryheid is die sine qua non vir skepping. Die gebondenheid word elke keer besweer; die slot wat die kettings bind, gaan magies oop.”
Christus word in reëls 1–6 uitgebeeld as timmerman wat uit bome, meubels – “tafel”, “laaikas”, “rusbank” en “stoel” – vervaardig. Die aard van die boom word metafoor vir die mens se laer self, sy natuurlike aard, sy sondige ego wat hy “gedienstig aflê” om deur God getransformeer te word en diensbaar te wees.
In reël 2 word dié transformasieproses as “skrynend”, dus pynlik, met die ooglopende woordspel op skrynwerker uitgedruk. Die sinestetiese “aromatiese klank” dui egter ook op ’n aangename sintuiglike ervaring. Die paradoksale van hierdie beeld wat eie is aan die mistieke, resoneer met die via purgativa – die eerste fase van die via mystica – wat die mistikus deurloop, die weg na God wat met lyding gepaardgaan, maar terselfdertyd die positiewe inhou.
Daar word kortliks stilgestaan by die mistieke weg. Ruusbroec onderskei drie fases van die via mystica wat aansluit by wat in feitlik al die mistieke “programme” aangetref word: die reinigende fase (via purgativa), die verligtende fase (via illuminata) en die verenigende fase (via unitiva).
Die 16de-eeu word beskou as die goue era van die mistiek in Spanje, en die belangrikste Christene, beide van die Karmeliet-orde, was Teresa van Ávila en Juan de la Cruz. By Juan de la Cruz vind die via mystica sy hoogtepunt. Hy was ’n belangrike figuur in die Teen-Hervorming, is daarvoor gevange geneem en het in haglike omstandighede tydens sy aanhouding van sy voortreflikste werk geskryf. Sy gedig “Noche Oscura” (Donker Nag) druk die reis van die siel tot mistieke eenwording met sy geliefde God uit. Sy poësie asook sy studies oor die groei van die siel word as die hoogtepunt van mistieke Spaanse letterkunde beskou.
Die verlange na God en die behoefte om by Hom te wees, laat die mistikus besef dat sy eie ego, sy selfgesentreerde begeertes van die sintuie, verstand en hart en alles wat skeiding tussen hom en God maak, afgelê moet word. Volgens Juan de la Cruz is die hooftaak van die reinigende fase (via purgativa) om aktief betrokke te wees by “the trials and bitterness of mortification and in meditation upon spiritual things” (Kourie 2016). Die reinigingsproses versterk die psige en die gees en “is part of a process of integration whereby our inner fragmentation is overcome and all aspects of our human existence are brought together in a self-gift to God.”
Gedurende dié fase word ’n nuwe noëtiese kennis ontvang – ’n kenmerk van die mistieke ervaring. Die noëtiese, afgelei van die Griekse woord νοῦς is ’n filosofiese term vir dié gedeelte van die menslike verstand wat in die klassieke filosofie beskryf word as nodig om wat “waar” of “werklik” is, te begryp. Hoewel die noëtiese kenmerk die intellek behels, is dit kennis wat as bo-rasioneel bestempel word en waardeur die mens ‘n nuwe of ‘n omvattende insig in die waarheid verkry. In hierdie toestand verkry die mens insig wat verby intellektuele kennis strek. Die mistikus word bewus van die intieme verband tussen dinge en van ‘n toestand van harmonie en eenheid wat hy nooit vantevore ingesien het nie – ’n nuwe soort openbaring.
Die paradoksale aspek van hierdie stadium is egter dat dit ’n “dark night of unknowing”, ’n leegheid, dorheid en wanhopigheid tot gevolg het. Daar is die sensasie dat alle geestelike lewe ineengestort het en regressie ingetree het. Merton (2004:92–93) verduidelik dit soos volg: ’n innerlike stryd is besig om plaas te vind tussen ons gevalle siel, die self wat ons ken en God wat binne ons is. Ons natuurlike magte word gevolglik ingeperk, ons word nederig en onkundig en selfs in goeie werke voel ons kragteloos.
Die via illuminata en die via unitiva, wat soms opeenvolgend, soms ineengevleg ervaar word, dui op die mistikus se ervaring van God se teenwoordigheid en eenwording met Hom.
Om terug te keer na die gedig, in skerp kontras met reëls 1–6 waarin Jesus as mens uitgedruk word, beeld reëls 7–12 op aangrypende wyse die laaste tog, die via purgativa en die uiteindelike via unitiva uit. In Jesus se laaste ure op aarde speel bome waarvoor Hy lief was, nou as kruishout, steeds ’n rol. Die kruis kan hier beskou word as simbool van die gevalle mens – die doel / rede waarvoor Hy gekruisig moes word.
’n Evokatiewe beeld word geskep met “stil olyf” wat die beeld van ’n heilige stilte skep wat op die Olyfberg heers. Die byvoeglike naamwoord “stil” (reël 8) wat die vrug van die olyfboom beskryf, tesame met “het donkernag van sy smart weggewring” (reëls 9 en 10) druk die roerende beeld uit van die God-verlate Christus, wat die “donkernag van sy smart” alleen beleef, en roep Juan de la Cruz se “Donker Nag” – die via purgativa op.
Die voortgesette verhouding tussen die mens en God bereik ‘n klimaks in mistieke eenwording tussen die kruis as metafoor vir die mens en Christus as sy verlosser. Rom. 6:6–8 word hiermee opgeroep:
Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kan word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.
Die laaste treffende reël met die beeld van die Woord wat Vlees geword het – “het sy woorde bloedwarm tuisgebring” – weerspieël nie net die eenwordingsbelewenis nie, maar dui ook op intense beliggaamdheid wat ervaar word. Dit skakel met die mistieke opvatting dat dit met beliggaming (“bloedwarm”) en nie die intellek (“woorde”) is nie, waardeur werklike noëtiese begrip, en mistieke eenwording verkry word. Eers met die binnedring van die dorings in die vlees in, of anders gestel, met die liggaamlike belewing, vind eenwording plaas. Dit is dus die via illuminata, die via unitiva, en ook Sells se “meaning event” – waar die betekenis identies word of ineensmelt met die skryfhandeling, en die leser self die gebeurtenis ervaar.
Die woorde “weggewring” in reël 10 en “tuisgebring” in reël 12 as die enigstes in die hele gedig wat rym, dien om die teenstelling tussen die mens se sondige, selfsugtige natuur en Christus se opofferende liefde aan te toon.
Deur in reël 12 die doringplantspesies met omgangstaal “wag-’n-bietjie” en “wit haak” te benoem, verkry die mistieke uitbeelding ’n Suid-Afrikaanse konteks en groter universaliteit.
Die boom of hout as metafoor vir die mens wat as verskeie items (“tafel”, “laaikas”, “rusbank”, “stoel”) optree (“perform”) en kulmineer as Christus se kruis en sy doringkroon verkry performatiewe waarde wat die kognitiewe vlak van die blote woorde transendeer en deelname van die leser betrek.
De Lange se “Gedenk Hom wat lief was vir bome” druk emosionele hartstog en meelewing met Christus se pyn en smart uit wat aangrypend verwoord word deur sy uitbeelding van die boom, metafoor vir die mens, as die kruis. Soos Snyman tereg aanvoer:
die woorde in De Lange se werk “beteken” nie net nie, dit “be-teken”, en sodoende kom daar telkens nuwe betekenisse uit die verse.
Bibliografie
De Lange, J. 2012. Vaarwel my effens bevlekte held. Kaapstad: Human en Rousseau.
Kourie, C.E.T. 2016. The Way of the Mystic: the Sanjuanist Stages of the Spiritual Path. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 72(4). http://dx.doi.org/10.4102/hts. v72i4.3258 Datum geraadpleeg: 3 Des. 2023.
Merton, T. 2004 The Inner Experience: Notes on Contemplation. San Francisco: Harper.
Snyman, H. 2012. Die woord leef in Vaarwel, my effens bevlekte held. https://www.litnet.co.za/die-woord-leef-in-vaarwel-my-effens-bevlekte-held/ Datum geraadpleeg 3 Jan. 2024.
Viljoen, L. 2012. Johann de Lange se beenwit woorde. https://slipnet.co.za/view/reviews/johann-de-lange-se-beenwit-woorde/ Datum geraadpleeg: 20 Jan. 2024.
Meevoerende ontleding van ‘n gedig uiters gepas vir die Lydenstyd.
‘n Aangrypende gedig – veral nou, in die Lydenstyd.