Litotes
I
Litotes (uit die Grieks) is ‘n stylfiguur van verkleining en is sterk verbind aan ironie. Dit heet ook understatement.
Hutcheon in Irony’s Edge maak ons attent op vyf kategorieë of merkers:
1 veranderinge in register; 2 oordrywing of versagting; 3 kontradiksies of teenstrydighede; 4 verletterliking of “simplification” en 5 repetisie (“echoic”). (1994: 156)
Vir Henning Snyman beklemtoon die litotes sagkens die “ewewigsfaktor”. Die verskille tussen ironie en litotes is net “graduell” (Mirakel en muse: 173).
Hoewel die litotes sterk ooreenkom met die ironie, meen Snyman verder, sou dit nietemin onbillik wees om te meen dit word gebruik in diens van die ironie.
Snyman lees dan Boerneef om sy punt te illustreer.
So klink Boerneef se “Ek het ‘n vreemde voël hoor fluit”:
Ek het ‘n vreemde voël hoor fluit
in die matjiesgoed by Doringspruit
dis ‘n mooi lied
dis ‘n treurige lied
want die voël is alleen in die fluitjiesriet.
Hierdie treurige lied word ‘n weergawe van die spreker (die ek) se gevoel van eensaamheid en isolasie. ‘n Palinode op hierdie gedig beklemtoon die isolasie van die moderne mens wat oënskynlik gekonnekteer is, maar steeds alleen is in háár fluitjiesriet. Met leë praat of Lacaniaanse “empty speech”.
Posduif
‘n Posduif op die wifi-boks
bring ‘n groen olyftak
uit die matjiesgoed by Doringspruit.
Gekonnekteer is ons nou:
met selfone en whatsapps;
navrae dikwels ongevraagd.
E-posse in die in-en-uit.
Te veel lawaai en leë praat:
Blogs, Instagram, Facebook.
Hoe was alles nie indertyd
toe ‘n brief, gepos langsaam
‘n bestemming bereik het nie?
Nou wag ons oorgehaal
vir daardie één versend
van jou na my, van my na jou:
vinkel en koljander
jou omgee ‘n aljander
vir ‘n duif alleen in haar fluitjiesriet.
© Joan Hambidge
II
Die digter Johann de Lange dig soos volg in Die algebra van nood (Human & Rousseau, 2009):
Dooiepunt
My hart trap klei,
wil ómdraai: trú –
maar my harsings (of iets)
stu klaar by práát verby.
Hierdie gedig aktiveer die stelling dat die hart redes het wat die verstand nie begryp nie. Die rymwoorde klei / verby bewys die verhouding is verby. Daarom trú teenoor stu …
Die gesprek met Tristia is eweneens opvallend, maar hier as ‘n litotes.
In Johann de Lange se Duimnaelsketse (Naledi, 2020) staan hierdie pragvers opgeteken:
Elisabeth Eybers & Olga Kirsch
Kaapstad 1979, ’n laaste besoek
Vriende, én eensame ballings van ’n taal,
het hul ’n laaste keer in die vlees ontmoet
in die Kaap van Storms; oor ’n laaste maal
‘n gedeelde taal gewissel, & gegroet.
Hoewel hierdie digters vir die laaste keer werklik ontmoet het, word hul gedigte lewend gehou deur vele reaksies van ander digters op hul werk. In ‘n exergasia of dalk ‘n amplifikasie.
‘n Duimnaelskets is ‘n létterlike vertolking of weergawe van die litotes.
In dieselfde bundel ook ‘n gesprek met Boerneef:
Brand
’n Skollie het ’n vonk laat val
op die dakke van Woeperdal.
Kalkmure soos geskroeide vlees,
windloos & stom, ontdaan van gees.
en
Spekulum
Die berggans het ’n veer laat val
wat skrywe op die spieël van die wind.
Jy sal die antwoord op jou vrae
in die kleure van die berggansvere vind.
So klink Boerneef:
Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê
Op you tube is daar vele vertolkings en ook kan ons hoor hoe die digter dit voorlees. En Mimi Coertse se interpretasie bly die beste. Nes “Aandblom is ‘n witblom”.
Letterlik klein verse wat deur palinodes en liedvertolkings verder gedra word.
Kyk hoe Boerneef en Olga Kirsch tans deur mede-digters lewend(ig) gemaak word.
III
‘n Laaste woord aan Olga Kirsch:
Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?
Gaan luister gerus hoe Laurinda Hofmeyr hierdie gedig vertolk.
Joan Hambidge
Bronne:
Hugo, Daniel. 1994. Nou spreek ek weer bekendes aan. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hutcheon, Linda. 1994. Irony’s Edge: The Theory and Politics of Irony. Londen / New York: Routledge.
Muecke, D.C. 1970. Irony. Londen: Methuen.
Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.
Die volgende bundels van Olga Kirsch is weer besoek:
1948: Mure van die Hart (Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel)
1972: Negentien Gedigte (Kaapstad: Human & Rousseau)
1976: Geil Gebied (Kaapstad: Human & Rousseau)
1978: Oorwinteraars in die Vreemde (Kaapstad: Human & Rousseau)
1982: Afskeide (Kaapstad: Human & Rousseau)
1983: Ruie tuin (Kaapstad: Human & Rousseau)
1990: The Book of Sitrya (Rehovot: O Kirsch)
