I
Ironie is een van die belangrikste merkers van ‘n gedig. Maar waar presies vind die leser dit in die gedig? Hoe weet ons die digter is ironies? Of sarkasties? Linda Hutcheon in Irony’s Edge: The Theory of Politics of Irony het in 1994 verskyn. Met ‘n dogtertjie wie se voete oor ‘n afgrond hang op die voorblad.
Dis meer as antifrase of die omgekeerde betekenis van wat jy uiter. Dis eerder die ongesêde teenoor dit wat daar staan. Nou onlangs gaan kyk ons na die film Mission Impossible 7 met ‘n trein waar die waens afval oor ‘n afgrond. Ek merk op teenoor my filmmetgesel: ”A, ‘n cliff hanger.” En ons lag. ‘n Film vol bedoelde en onbedoelde grappe en verwysings na treine en jaagtonele met kopknikke na James Bond wat hierdie kyker optel.
Die raaisel wat opgelos moet word. Wat kom nooit aan nie? Môre.
Ironie se bedmaats is die litotes, satire, hiperbool, sarkasme en parodie.
II
Waar lê die betekenis van ‘n gedig? In die gedig? Of in die leser? Of in die samespel tussen beide?
Is dit relevant om die bedoeling of intensie van die digter te ken? Hierteen het Strukturaliste soos Wimsatt & Beardsley beswaar gemaak in hul beroemde artikel “the intentional fallacy”. Ook is ‘n gedig nie net geslaagd weens ‘n emosionele impak of effek op die leser het nie (“the affective fallacy”). Daar is ‘n triadiese verhouding tussen teks, leser en skrywer.
In die negentiende eeu was die intensie of bedoeling van die skrywer belangrik. Die Strukturaliste (vanaf die Russiese Formaliste, New Critics en Practical Critics) fokus op die teks. In die sestigerjare word die leser weer aktief betrek met die opkoms van die sogenaamde resepsie-estetika (Jauss, Iser, Ingarden in Europa) en skrywers soos Stanley Fish in die VSA. Die leser se verwagtingshorison word in ag geneem en daar word verwys na die leë plekke wat gevul moet word. In die twintigste eeu is daar veral psigoanalitiese benaderings tot die literatuur en feminismes (teenoor maskuliniteite) wat tekste anders ontsluit. Hierbenewens is daar historiese literatuurteoretici wat ‘n teks situeer binne ‘n bepaalde tydvak. Hoe sal lesers van gedigte oor ‘n honderd jaar nou terugkyk (byvoorbeeld) na gedigte wat handel oor die pandemie of rasongelykheid?
Gedigte is ingebed in kulture en aannames wat die ondergrond van ‘n teks vorm.
‘n Motto of aanwysing (soos satire of parodie) kan die teks rig.
III
Carol Ann Duffy, die voormalige Britse poet laureate, se liefdesgedigte illustreer die probleme rondom interpretasie ten beste. Sy werk met ‘n hele verwysingsisteem van Engelse digters waarteen haar verse inspeel. Donne, Shakespeare en verskeie klassieke tekste word op hul kop gekeer.
Met die slot: “Here’s not looking at you kid” wat die beroemde 1942 film van Michael Curtiz Casablanca aktiveer op ‘n ironiese manier. Humphrey Bogart en Ingrid Bergman.
https://prezi.com/p/5n5snwzvvsyd/to-the-unknown-lover/ Besoek 2 Augustus 2023
Of in die film Barbie: Kenough!
IV
Elisabeth Eybers is waarskynlik die groot meester van ironie. Hierdie gedig is gebaseer op ‘n brief van haar aan my:
Brief van Eybers
In ‘n brief aan my gedateer
(24.3.2006) netjies geargiveer,
merk jy met kenmerkende ironie:
“Jammer vir my stilte. Dood
van ‘n ander; siekte my eie …”
Jou “Röntgenfoto” kom na vore
met ‘n rugbesering toe my werwels
(een vir een ingedruk deur ‘n masseuse)
my laat nadink oor hierdie jukstaposisie:
dat sowel die dood as siekte, meer
of min, immer iets ánders impliseer.
Of dit bysaak is, sal ek beslis nie seur.
Ironie impliseer altyd “iets anders”; die wete dat iets nie volmaak is nie.
Ook Hendrik J. Botha werk met hierdie ironiese spanning:
Ter wille van die gode
Die Rig Veda, weet te leer,
van Indra, god van water, donder en reën
deur die Aryans tot opper-god verhef.
Op die rug van ‘n olifant ry hy die heelal binne,
bespied met duisend oë die einders vir reën,
water, iets om te plunder.
Diegene wat weet fluister met oë groot
dat hy ‘n duisend testis onder sy jurk versteek
en ek gee onvoorwaardelik gelyk: enige wese só bedeeld,
wydsbeen op ‘n olifant sonder om te gryns of grim
verdien om as ‘n opper-god beskou te word
deur man en vrou en die hele gender-santekraam.
Die slot is satiries-ironies oor al die genderkonstruksies wat tans bestaan.
V
Ironie is spotspraak, skryf Snyman in Mirakel en muse (1983: 152). Hy wys eweneens op die kontras tussen skyn en werklikheid. Droom en realiteit.
‘n Disjunksie tussen hierdie twee pole wat altyd neerkom op ontmaskering.
Dit wys altyd innerlike konflik uit. Snyman som dit ten beste op wanneer hy skryf op bladsy 157: “Die ironie maak nie allereers staat op sigbare taalvorm nie, maar wel op die situasionele bedoelingsmoontlikhede”.
Muecke se klassieke kort en kragtige studie oor ironie beleef verskillende uitgawes. Hy verwys na die kompas van ironie in sy 1969-uitgawe.
In 1982 word dit deel van ‘n Methuen-reeks waarin belangrike literêre terme ontleed word.
Die anatomie van ironie begryp hy uitstekend.
VI
Tony Ullyatt, self ‘n gerekende digter en vertaler, skryf insigryk oor die digkuns in A Profusion of Choices.
So dig hy self:
Twixt and between
error
lies in the distance
between the eyes
and the desire
desire
lies in the distance
between the eyes
and the error
In ‘n onderhoud met die digter maak hy besonder belangrike opmerkings oor die digkuns met die publikasie van sy bundel An Unobtrusive Vice (2018).
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=tony+ullyatt 2 Augustus 2023
Soos die meester Auden dig:
Musée des Beaux Art
H. Auden
About suffering they were never wrong,
The old Masters: how well they understood
Its human position: how it takes place
While someone else is eating or opening a window or just walking dully along;
How, when the aged are reverently, passionately waiting
For the miraculous birth, there always must be
Children who did not specially want it to happen, skating
On a pond at the edge of the wood:
They never forgot
That even the dreadful martyrdom must run its course
Anyhow in a corner, some untidy spot
Where the dogs go on with their doggy life and the torturer’s horse
Scratches its innocent behind on a tree.
In Brueghel’s Icarus, for instance: how everything turns away
Quite leisurely from the disaster; the ploughman may
Have heard the splash, the forsaken cry,
But for him it was not an important failure; the sun shone
As it had to on the white legs disappearing into the green
Water, and the expensive delicate ship that must have seen
Something amazing, a boy falling out of the sky,
Had somewhere to get to and sailed calmly on.
Waarskynlik is ironie duideliker aanwesig by ouer digters wat met afstand kyk na toenmalige verbintenisse en ervarings.
Joan Hambidge
Augustus 2023
Bronne:
Booth, Wayne C. 1974. A Rhetoric of Irony. Chicago: University of Chicago Press.
Hutcheon, Linda. 1994. Irony’s Edge: The Theory and Politics of Irony. Londen / New York: Routledge.
Muecke, D.C. 1970. Irony. Londen: Methuen.
Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.
Ullyatt, A.G.. 1994. A Profusion of Choices. Pretoria: Van Schaik.
Dis ook nogal ironies dat “New Critics” soos Wimsatt en Beadsley ook Strukturaliste was.