Bulhond of Boleyn
“The desires of the heart are as crooked as corkscrews.”- W.H. Auden
Hy woon nou
in die middel
tussen
Chartwell
aan die een kant
– met rakke geniale geskrifte en testamente,
doktrines oor oorloë, getuigskrifte,
verklarings en belydenisse:
kennisbronne
om besonne van te leer –
en Hever-kasteel:
torings, gragte, en labirinte
om in rond te dool en kneusel
met aanloklike prinsesse
in verleidelike wellus
en brons begeertes
wat bedrieg en bekonkel
so, wanneer hy
doller-as-kopaf stoei
met idees en handelinge
wat soos botallige, swarthond-demone
volhardend op sy spoor blaf
wonder hy:
“Is ek boeldok of Boleyn:
as my koning weer
verskyn
word ek heroȉes vereer
of tereggestel om kop-af te verdwyn?”
© Meyer van Rensburg, 2023
