Rou en melancholie
Skryf alles op, maan my vriend,
voormalige buurman, dan sien,
verstaan jy alles beter, hoor.
Ontmoet op ‘n Sondag in ‘n hotel
waar ek helaas ‘n pen verloor,
soekend na ‘n rymwoord vir hotel.
Sondae (Sunday bloody Sunday)
‘n tyd vir terugkyk én terugtrek
oor al die stiltes wat my laat onttrek.
‘n Tyd van soveel beproewing.
“Onthou, juis in só ‘n tyd dring
die Onsienlike deur die donkerte.”
‘n Stilgeworde vriend, die vertrek
van ‘n vriend se man verneem
op ‘n Sondagaand, soos my neef,
vredeliewend wat sterf, onverwags,
soos ‘n vriendin wat sover-as-‘n-engel
te-perd-kon-ry tot ín hierdie lament:
ons tydelike verblyf bring niks meer
as ‘n klaagsang, ‘n obiter dictum,
dat die lewe nie nou op veel neer-
kom nie, ‘n dubbele negatief,
tussen verstaan en sien en hoor
deur eindelose stiltes uitgeklank.
© Joan Hambidge