cul-de-sac
vir D.J. Opperman
hy loop in die loopgraaf
wat hy self gegrawe het
vanuit die hoogte lyk dit na
ʼn gelerige dun paadjie omsoom
deur die kolonne kleurlose kaal bome
die boere hier het hulle geplant
en gekweek teen die kwaai oostewind
die geel streep is van bo goed
waarneembaar ten spyte van die feit
dat dit slegs een kleurtoon hoër
staan op die skaal van spektrumkleure
as die omliggende vaal velde
oekraïene se immense vlaktes
ʼn hommeltuig behendig beheer deur
die operateur en gehoorsaam aan sy verre
hand, hou hom reeds vir ʼn rukkie dop en
dit lyk nou asof die man nie meer wil
vlug nie, moeg van hardloop, oorlog, siek
en sat vir hierdie sigbare kleierige aarde
onsigbare bevelvoerders, trae opdraggewers
doodmoeg vir die slim hommeltuie wat
voorgee hul is sy alwetende beskermengele
maar hulle sweef deur die lug as gevalle
engele en het juis sy makkers laat sneuwel
bewus van sy posisie en dat daar geen
uitkoms is nie, dat hierdie voorval dalk
ʼn vrymagtige voorbeskikking gaan wees
loop hy nie meer vir die vale nie maar
kriskras hy in die uitgrawing tot hy by
die klein uitbreiding kom wat omdraai soos
ʼn ewige eierstok by die baarmoeder of ʼn omega
hy weet daar is geen omkeer moontlik nie, hy
weet dis ʼn blinde pad maar hy wil hier wees
dis sy bestemming, sy volkome vervulling
en nou voor hy op die klam grond gaan lê
voor hy in hierdie dooie vaal land val
gryp hy nog na die binnesak van sy uniform
en kyk na die hommeltuig, na die hemel, na
die wakende oog van die soldaat wat hom in
die vyandige skanse skuilhou, kyk hy na my
wat tuis voor die twitter sit, en dit is nie
ʼn vuurwapen wat hy onverwags uitpluk om met
die ding te skiet nie, dis ʼn verfrommelde foto wat
hy uit die bloute op sy helm plaas, reg langs
sy slaap sodat ons dit kan sien en dan eers gaan
hy in embrioïede houding lê om die verwagte
selverdeling te ondergaan, sy nageboorte te
beleef, ons maak maar almal ʼn geraamte groot
ek kan op my skerm nie sien wat dit is nie, ook
die operateur nie, hy zoom in op die plek maar
ons weet steeds nie wat die foto voorstel nie, ʼn vrou
of ʼn kind, elkeen besluit vir homself, miskien
ʼn gewyde ikoon wat te pas sou kom by
ʼn skietgebed, die operateur aarsel om nou die bom
of granaat van onder die hommeltuig te los, dalk
het hy reeds die knoppie gedruk terwyl die kamera
se beeld stadig voor my oë uitdoof… trippe…
trap patrone, kanontjies en atome, matrosies
in die hawe, soldaatjies in loopgrawe…
© Jerzy Koch, 2023