Resensie: erf en elders, Kleinboer, 2023. Gansbaai: Naledi.
Resensent: Dewald Koen
Kleinboer, oftewel Fanie de Villiers, se tweede digbundel het onlangs by Naledi verskyn. Alhoewel Kleinboer veral bekend is as skrywer van die romans Kontrei, Werfsonde en Hierdie huis, het hy in 2020 as digter gedebuteer met Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels. As skrywer is Kleinboer enig in sy soort en word dikwels as die “Boere-Bukowski” beskryf weens onder andere die sterk outobiografiese element wat in sy skryfwerk voorkom. Hy skroom nie om oor, wat sommige lesers as kontroversiële onderwerpe mag beskou, te skryf nie. Onderwerpe soos seks, prostitusie, dwelmgebruik en die skatalogiese kom tematies gereeld in sy romans asook in sy gedigte voor.
Soortgelyk aan die digter-skrywer Charles Bukowski, beoefen Kleinboer hoofsaaklik die parlando as versvorm. Dié versvorm word gekenmerk aan die praatstyl of anekdotiese vertelstyl asook die intense persoonlike aard wat tematies in die gedigte voorkom. In die Afrikaanse poësie is digters soos Danie Marais en Charl-Pierre Naudé bekend vir die gebruik van die praatvers as digstyl. Daar word soms neergekyk op die parlando as versvorm. In Marlene van Niekerk se gedig “Gerbrand/Plascon” in haar bundel Kaar (2013) steek sy die draak met die gebruik van die praatvers. Ten spyte van sommige poësielesers se negatiewe beskouing van die parlando wil dit voorkom asof daar in die Afrikaanse poësie steeds ’n neiging bestaan om meer in die tradisionele versvorme te dig. Dit is egter stadig maar seker besig om te verander, veral wanneer tendense soos kletsrym en poësie wat op Instragram en ander mediaplatvorms verskyn in ag geneem word.
Kleinboer maak deurgaans van die parlando gebruik. Die bundeltitel plaas klem op die digter-spreker se liefde vir sy “erf” waar hy woon en die meeste van sy vrye tyd deurbring. Alhoewel ruimtes “elders” ook aan bod kom, keer die digter-spreker telkens terug na sy spreekwoordelike veilige hawe naamlik sy “stadserfie” in Yeoville:
ek reis hopeloos te min na my sin
petrol en hotelle is duur
en pandemieregulasies en vrese
vang my in eie stadserfie vas […]
Daar kom steeds enkele verwysings na die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperking voor. Hierdie gedigte is egter beperk tot gedigte wat soos in sy debuutbundel tydens die inperkingstydperk geskryf is. Opvallend is egter die spreker se aanvaarding van die inperking tot sy “stadserfie” en vind hy dit selfs gerusstellend en vreedsaam om ingeperk te wees. Die titel van die programgedig, “reis”, verwys immers in die opsig na die interne reis wat die spreker tydens die inperking onderneem waartydens hy die beperkte ruimte tot sy beskikking ten volle verken en benut.
Tematies sluit die bundel sterk aan by sy debuutbundel. Weer eens handel die meerderheid verse oor sy liefde vir braai, seks, alkohol asook sy liefde vir sy tuin. Alhoewel dit oppervlakkig mag klink, is dit juis die spreker se onpretensieuse en eerlike verse wat tot die leser spreek. Hier is gewoon ’n tipiese Suid-Afrikaanse man wat sy alkoholiese drankie geniet terwyl hy by die braaivleisvuur staan en soms in die tuin urineer.
Dit het my egter opgeval dat die spreker telkens na sy ouderdom verwys en bewus is van die verganklikheid van die mens, maar veral ook sy eie verganklikheid. In die gedig “eina, ek het my twee broers oorleef” skryf hy met deernis oor die sterwe van sy broers weens verskillende tipes kanker.
[…]
hierdie liewe broer met eelte aan sy hande en ’n bleskop
is aan ’n ander vorm van kanker dood
’n rare tipe wat die are om die hart aanval
en ek?
nog nie vir kankergene laat toets nie, nee
te skrikkerig
[…]
Ook beurtkrag kom in die gedig “beurtkragblues” aan bod. Die spreker maak op geslaagde wyse van ’n Bybelse interteks gebruik om die dilemma te takel. Hy skroom egter nie om hierdie amper daaglikse ongerief komies te benader nie:
massiewe vuurbal doer in die lug
en kokende lawa ’n ent onder ons voetsole
maar hier op die skilletjie aardkors
sit ons al weer sonder elektrisiteit en skud kop en sug “hierdie land”
gasstofies gons
aanstons maak ons eksotiese koffie
ek verkies ivoorkus bo brasilië
en wonder wanneer maak ’n einstein
die energiedeurbraak wat ons verlos
my vyf lanterns met gelaaide batterye
is soos die oliegevulde lampe
van die bybel se wyse maagde
hulle moet mooi met die paadjie
deur die ruigte loop want ’n verkragter
genaamd eskom dool in die donker bos
die maagde moet mooi loop met lamp
in die een hand knopkierie in die ander
en ’n gil agter kleintongetjies gereed
Intertekstueel verwys hy ook na F.W. Reitz se bekende gedig “Klaas geswint en zijn Paert” (of “Klaas Geswind en syn perd”) wanneer hy in “matigheid voor oë is die doelwit” opmerk: “gisteraand weer so geswaai / soos klaas geswind op sy perd”. Die spreker tree ook selfspottend op met verwysings na resensies van sy vorige publikasies wanneer hy aanvoer:
[…]
my romans bevat hopeloos te veel seks
askies, en my digbundels dalk te veel drank
maar in ’n volgende lewe sal ek verander
[…]
Die spreker maak van treffende metafore gebruik. In “om vadersnaam” verwys hy tergend na “die groen fase van verkeersligte [wat] erg suinig [is] met tyd”. Myns insiens is een van die treffendste verse in die bundel getiteld “tyd”:
’n minuut ná seks wys ’n betrokkene se gesig
nie noodwendig meer blyke van intimiteit nie
en die sementtrap wat jou been breek
verklap agterna geen getuienis nie tensy
vate ook geskeur en bloed gespuit het
maar ’n tuinslak skuim soos ’n malle se mond
lank ná ’n onnutsige kleuter se soutstrooiery
en jou bankrekening vlieg nog vir ure
soos ’n arend ná jou salaris geland het
’n tsoenami gryp ruikers van ’n bloemis
se toonbank tientalle meters van die strand
en laat harte leeg en dompel moeders
jare lank in donkerte en smart
en iewers in die noordelike halfrond
verbeel ’n atoomhorlosie hom
hy hou tyd akkurater as ’n miljoenste
van ’n sekonde van god se polsslag
Met erf en elders het Kleinboer bewys dat hy maar mág dig. Ten spyte van ’n spelfout op die agterplat (“laager”) is die lywige bundel as geheel tegnies en taalkundig goed versorg en die verse afgerond. Alhoewel die verskeie verwysings na die skatalogiese irriterend raak, maak dit nie afbreuk aan die bundel as geheel nie. Erf en elders bied aan die poësieleser ’n alternatiewe blik op die lewe buite die grense van voorstedelike saligheid en versinnebeeld die digter-spreker die hart en polsslag van ’n dinamiese stad in Afrika op sy erf in Yeoville.
“Laager” is die Nederlandse vorm van “laer” en word veral gebruik wanneer dit ironie moet help skep in Omgangsafrikaans en selfs in akademiese Afrikaans.