Bataille*
In ‘n droom (soos) met ‘n slopende oorlog
verander my motor in ‘n stofsuier toe ek my kantoor
weer besoek: opruiming, verwydering, afsluiting.
‘n Skoonmaker tel die suigbesem op, teruggevind
in ‘n ander vertrek met vensters toe: ‘n vasgekeerde duif
in hierdie resumé, presies só hortend, rammelend beleef.
Verder in hierdie vreemde, dog helder opname, staan
kollegas en toekyk hoe ek daardie groot pakhuis weer betree
asof dié bewaardepot én argief nou aan hulle behoort.
Oorlog teenoor vredesduif? Skoonmaker versus vakgenote?
Transformasie, sou Carl Jung dalk meen, oor afskeid en vertrek,
‘n moerske kolokwint. Altyd hede geplaas teenoor durende verlede
in hierdie mislukte sonnet, tewens ‘n dwingende tête-à-tète.
* Bataille soos in oorlog (op Frans)
© Joan Hambidge, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.