Bloublommetjieskloof
My vader, my Dad se geboortehuis op Bloublommetjieskloof,
waar daar ruige pampliere neffens blou blommetjies staan,
het sý pa, my dowe Oupa Frank, die see en son in ‘n bestaan
soos sy skilderskoonsus, in vele portrette en sketse oopgekloof.
My ou vader, ja my Dad, daardie stil man met hare grys,
in ‘n netjiese donker pak, kon nie die diefstal van hul plaas bewys.
Vol onthoue oor daardie tyd vol sonskyn voor die groot trek
na Kuilsrivier, danksy die familie nydig en vol van die-eie-ek.
En nou in hierdie landskaptafereel, wonder ek hoé ‘n mens nou
iets kan regmaak as ‘n kodisil oor ‘n geboorteplek alles vernou?
Die dubbelpraat van my gedig, ook geroep disglossia of soiets,
verlos my vandag van daardie verdriete; die son se skyn is verniet.
Bome is afgesaag, maar wortels bly ondergronds steeds groei,
nes al die uitinge van my Oupa Frank en Dad wat hier uitbloei.
© Joan Hambidge, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.