Resensie: Moerasperd deur die nag deur Louis Jansen van Vuuren. Naledi, 2023. ISBN 978-1-991256-24-9
Resensent: Neil Cochrane
Louis Jansen van Vuuren is visuele kunstenaar én digter. Net soos Breyten Breytenbach en Sheila Cussons. Dié dubbeltalent lei tot ’n interessante kruisbestuiwing in Jansen van Vuuren se derde digbundel, Moerasperd deur die nag waarin die visuele op verskeie maniere aan bod kom – die treffende voorplat, verrassende beelde en ’n pertinente fokus op ekfrastiese verse.
Die bundel is aan die lywige kant en bestaan uit agt afdelings. Benewens visuele kuns vorm homoërotiek, veganisme en sinmaking van die chaotiese kontemporêre bestaan deel van die tematiese kader. Bundeleenheid word bewerkstellig deur ’n diggeweefde intertekstuele netwerk en die herhalende perdmotief. ’n Apokaliptiese stemming is vanaf die openingsvers aanwesig wat meermale herinner aan Die Openbaring aan Johannes. In dié teks word immers verwys na die ruiter op die wit perd. Die gedig “Aandlied van die voëls” speel in op die sedelose vrou in Openbaring wat nou totaal herverbeel word:
Ek sal my eden te bowe kom
paradysvoël in elke hand
oortuig
oorbrug
oorkom
My rooi geverfde naels en lippe
letsels van begeerte en ekstase
sal ek verder nie verbloem nie.
Ek sal die knie buig.
Hoof hemelhoog lig.
Oë boetvaardig knipper.
Die beeldgedigte in die vierde afdeling is ’n hoogtepunt. Jansen van Vuuren sluit hiermee aan by gedugte beoefenaars van ekfrastiese poësie in Afrikaans soos onder meer Joan Hambidge, Johann de Lange, Henning Pieterse en Johan Myburg. Dié soort gedig is beslis Jansen van Vuuren se forte en sy fyn waarnemingsvermoë is opvallend. Hy slaag telkens daarin om die spesifieke stemming en strekking van ’n visuele kunswerk digterlik te verwoord. Hiervan is die gedigreeks, “Les Nymphéas 8 waterlandskappe deur Claude Monet” ’n goeie voorbeeld. Die gedigte in dié reeks beskik oor die allure van gekondenseerde eerste indrukke en die spaarsamige taalgebruik asook die weldeurdagte verstegniese beheersing staan absoluut in diens van Monet se impressionistiese skilderkuns waarin stemmingwekkende elemente voorop staan. Skoonheid lê in eenvoud. Dié beginsel word dan ook in beide kunswerk en beeldgedig gereflekteer:
oggendblou
oggendroos
oggendhulde
polichroom aubade
rietgewas
skoonskynend
vleikuikenkoor
In “Rembrandt: Selfportret 1658” verkry die beeldgedig ’n ander betekenisnuanse in die sin dat die spreker-waarnemer self as subjek optree in ’n proses van selfidentifikasie en ’n kreatiewe interaksie tussen waarnemer en waargenomene plaasvind – iets wat dikwels nie in beeldgedigte aanwesig is nie:
My hedendaagse skrik word stilte
ek herken myself in jou visage
my afgeleefde aangesig met
elke vlek en letsel, vesel en vou
En dan is dit wéér duidelik daar:
die onafwendbare laaste blik
Die kyk wat jy na my kyk
is die kyk wat ek na jou kyk:
opwaarts én uitwaarts
Die homoërotiek word voortreflik ingelei deur gedigte soos “Pretty Outlaws” en “hand-job” in die tweede afdeling. In die vierde afdeling vind die homoërotiese element ook neerslag in die beeldgedigte. Dié spesifieke samesmelting is veral aanwesig in “Trompe l’oeil” en “Johannes Johannes” – terselfdertyd ook ’n duidelike bladskud na soortgelyke verse in Hennie Aucamp se Hittegolf: wulpse sonnette met ’n nawoord (2002).
In verskeie gedigte vertoon Jansen van Vuuren goeie verstegniese vaardigheid. Hiervan getuig die bedrewe hantering van die villanelle in “Dame en die eenhoring [ii]” en die koeplet in “Dame en die eenhoring [i]”. Die skitterende “cedrus libani” is ’n teksboekvoorbeeld van konkrete poësie waar die spesifieke tipografiese uitleg op ’n konkrete wyse die digterlike boodskap of onderwerp weerspieël. In dié ekobewuste gedig neem die tipografiese uitleg die kenmerkende vorm van ’n sederboom aan.
Die gedig, “Ruik terugkom na iets? R-CH=O” is ’n juweel wat ek wil uitsonder, omdat die olfaktoriese só oorspronklik uitgebeeld word met spesifieke verwysing na Je reviens – een van die beroemdste parfuums in moderne parfumerie. Die komplekse skakeling tussen spesifieke parfuumnote en emosionele nuanses asook die verbande tussen reuk en geheue word op ’n uitsonderlike wyse verwoord. Ek kan nie nou dink aan ’n ander Afrikaanse gedig wat op dieselfde unieke wyse omgaan met die olfaktoriese kwaliteite van parfuum nie.
Afgesien van die winste is daar ook ’n aantal leemtes in die bundel. Dit wemel van redaksionele foute – “post-impressionisties”, “de-moer in”, “vir ‘n appel se ui”, “sëen” ens.
Soms hinder die ooraanbod adjektiewe, lomp samestellende samestellings en oormatige alliterasie. In liefdesverse soos “Toevlug” en “Du bist die Ruh” lei die soetsappige uitborreling van emosie tot verminderde trefkrag. Verse soos “hand-job” wat getuig van woordekonomie en afgerondheid is veel beter. Daar is reeds vermeld dat skoonheid immers in eenvoud lê. Oordadigheid is menige gedig se ondergang.
Die onnadekende gebruik van Engelse frases kom ook in heelparty gedigte voor. Dit is onfunksioneel en veroorsaak onnodige stylbreuke. Waarom gebruik die digter Engelse woorde ten spyte van goeie Afrikaanse ekwivalente? Dit is iets wat ek meer en meer opmerk in die werk van Afrikaanse digters. Gebeur dit ook in ander tale of is dit net Afrikaanse digters wat ’n dwingende behoefte hieraan het? Waarom ’n goeie gedig soos “cedrus libani” ontsier deur woorde soos “shape shifter” en “in plain sight”? Waarom is die Engelse beskrywing in die volgende versreëls uit “I [n] die [“]” gebruik?
die taxibestuurder neem ’n scenic route
sy nylperdtande is blink versilwer
die gode laat ’n kind die kudde lei
Die slordige gebruik van hoofletters is ’n bykomende stoornis. Meermale begin elke versreël met ’n hoofletter (in byvoorbeeld “Tamatie tableau i”) sonder ’n goeie rede. Dit is gewoon ’n redaksionele fout en kom waarskynlik voor weens die aktivering van die outokorrigeerfunksie. Hoe dit ook al sy, dit vertoon net nie reg op die bladspieël nie en doen afbreuk aan andersins goeie gedigte. Punte aan die einde van strofes word ook nie konsekwent gebruik nie. Leestekens in poësie is betekenisdraend en behoort derhalwe korrek gebruik te word.
Verder is die afdelingsmotto’s lukraak gekies en hou dit soms weinig verband met spesifieke tematiese fokusse. Dorothy se bekende uiting “Toto, I’ve a feeling we’re not in Kansas anymore” raak ook nou lank in die tand.
Die swakste skakel in die bundel is die gedigte oor veganisme en die vleisvretende samelewing in die derde afdeling. Dit kom meer op poëtiese aktivisme wat nie oortuig nie. Dit is veral weens die oordadigheid, eendimensionele toonaard en simplistiese perspektiewe dat dié gedigte verval in plakkaatpoësie en traktaatjiekuns. Die verbande tussen vleisverbruikende mense, dawerende statistiek, hongersnood, vermorsing en inkbesparing is lukraak in “statistiek vir die kroon van die skepping” en die terloopse verwysing na Opperman se “my nooi is in ’n nartjie, my ouma in kaneel” is gewoon onsinnig. ’n Goeie gedig bestaan nie uit ’n rits disparate flitsgedagtes nie.
Moerasperd deur die nag is ’n bundel van wisselende gehalte. Dit lewer ’n besliste bydrae tot ekfrastiese poësie in Afrikaans en ek was ook beïndruk deur die homoërotiese verse. ’n Paar lastige gebreke en ’n slap redigeerdershand verrig skade aan ’n bundel wat beter daar moes uitsien.
Altyd lekker om ‘n Neil Cochrane resensie te lees; ewewigtig, indringend.